Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Prof Blitz baan nuwe weё
Outeur: FMHS Marketing & Communication / FGGW Bemarking & Kommunikase – Tyrone August
Gepubliseer: 22/04/2021

Nadat prof Julia Blitz in 1982 as ʼn mediese dokter aan die Universiteit van die Witwatersrand gegradueer het, het sy besluit om ʼn huisarts te word. Maar haar loopbaan het tydens die latere deel van haar professionele lewe gaandeweg ʼn omweg begin volg toe sy meer op onderwys gefokus het.

Vandeesmaand tree sy uit as Vise-dekaan: Leer en Onderwys aan die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) van die Universiteit Stellenbosch (US), waar sy vir alle voorgraadse en talle nagraadse programme verantwoordelik was.

“Ek is in my murg steeds ʼn huisdokter," sê Blitz. “Ek hou daarvan om pasiёnte oor lang tydperke te leer ken. Ek hou ook van die wye omvang van die praktyk – die geleentheid om om te sien na kinders, volwassenes, mense wat sterf, mense wat geboorte skenk."

Sy het van Julie 1987 tot April 1997 ʼn private huisartspraktyk in Pietermaritzburg gehad, waaruit sy oneindigende bevrediging geput het. Maar dit was ook in hierdie tydperk dat haar loopbaan ʼn effense omweg begin volg het.

Nadat sy in 1990 ʼn M Prax Med aan die Mediese Universiteit van Suid-Afrika (nou die Sefako Makgatho Health Sciences University) behaal het, is sy genader om haar as deeltydse lektor by die onderwysspan van dié universiteit se Departement Huisartskunde aan te sluit.

“Dít was toe die onderwysgogga my gebyt het," sê Blitz. “Ek hou daarvan om ander mense te sien groei, om te sien hoe hulle goed snap. Ek hou daarvan om ander mense te ondersteun om alles in nuwe ondernemings uit te haal. Onderwys bied mens daardie geleentheid."

Sy het haar belangstelling in huisartskunde en onderwys in April 1997 gekombineer deur ʼn senior huisarts te word en, tegelykertyd, senior lektor in die Departement Huisartskunde aan die Universiteit van Pretoria.

In Junie 2001 het sy professor en Hoof van die Departement Huisartskunde aan die Universiteit van Pretoria en die Pretoria- Akademiese Hospitaal geword. In ʼn soeke na nuwe uitdagings is sy in 2009 vir twee jaar Maleisiё toe as Hoof van die Departement Huisartskunde aan die Penang Medical College.

Met haar terugkeer na Suid-Afrika het Blitz haar in 2011 as mede-professor in die Departement Huisartskunde en Primêre Sorg van die US aangesluit. Sy het ook gehelp met die ontwikkeling van onderwyskapasiteit in die FGGW deur die Sentrum vir Gesondheidsberoepe-onderwys (SGBO) en SUCCEED, die US se samewerkende kapasiteitsbevorderingprojek deur interaksie met distrikte.

Sy is in Mei 2016 as Vise-dekaan aangestel. Op die een of ander manier het sy steeds die tyd gevind om in 2018 ʼn PhD in Gesondheidsberoepe-onderwys te voltooi. “Dit het gegaan oor hoe om klinici buite die tradisionele onderwyshospitale in hul rol as onderwysers te ondersteun," verduidelik sy. “Dit wat ek geleer het, kon ek ook in my werk en by die Fakulteit toepas."

Sy kyk met gemengde gevoelens na die afgelope vyf jaar terug. “Tans sien ek heelwat dinge wat ek nie gedoen gekry het nie." Hierdie is natuurlik die woorde van ʼn leier wat voortdurend nuwe uitdagings en doelwitte najaag.

Die Fakulteit het baie gedurende haar ampstermyn bereik. Dit sluit in kurrikulumvernuwingsprosesse in etlike voorgraadse programme, asook die instelling van talle nuwe nagraadse programme. “Dit is baie opwindend om te probeer om met moderne denke oor onderwys en leer by te hou, asook om studente voor te berei vir die praktyk in Suid-Afrika, indien nie die res van die wêreld nie," sê Blitz.

Sy bring hulde aan die verhoudings wat die Fakulteitsbestuur met verskeie belangegroepe probeer opbou het. “Almal kan nie by mekaar aansluiting vind nie," erken sy, “maar ek sal terugkyk en grootliks die wonderlike mense onthou met wie ek deur soms baie uitdagende tye saamgewerk het."

Soos sy effens wrang opmerk, het haar termyn as Vise-dekaan basies met #FeesMustFall in 2016 begin en eindig dit nou met Covid-19 en sy nagevolge. Desondanks sê sy ondubbelsinnig: “Ek was mal oor hierdie werk. Dit is meedoёnloos, maar ook ongelooflik opwindend. Ek sal met geneentheid na alles terugkyk."

Haar studente was altyd die middelpunt van haar werk. “Ek sien my doelwit hier as dit wat ons vir studente kan doen. In my boekie is dit wat ʼn universiteit doen – hoe ons hulle kan help om trotse, bekwame gesondheidsberoepslui en wetenskaplikes met baie selfvertroue te word. En ons kan dit net doen as ons hulle by die proses insluit."

Daarom kan sy die motivering vir die #FeesMustFall-beweging verstaan: “Die studente se saak was geregverdig. Dit het dit makliker gemaak om met hulle te praat en te verstaan wat hulle probeer bereik het."

Tegelykertyd was daar ook moeilike gesprekke met studente: “Ons was eerlik oor wat ons, as die Fakulteitsbestuur, binne ʼn universiteit, binne ʼn Departement van Hoёr Onderwys, binne ʼn regering, binne ʼn wêreld kon doen. Daar is net soveel wat een entiteit op sy eie kan doen."

Haar empatie en eerlikheid, asook haar pogings om persoonlike verhoudings met studente te smee, het haar duidelik groot respek besorg. In 2018 het die Tygerberg- Verteenwoordigende Studenteraad (TSR) haar as die ere-president aangewys. “Ek beskou dit in ʼn baie besonderse lig," sê Blitz.

“Maar dit gaan nooit oor ʼn enkele kantoor of ʼn enkele mens nie," voeg sy by. “Dit gaan eintlik oor hoe almal saam beweeg. ʼn Enkele mens kan nie enige verandering meebring nie; dit gaan oor al die goed wat almal saam doen wat die verandering sal teweeg bring."

Blitz sê die Fakulteit het reeds baie bereik en word wyd in Suid-Afrika en elders ter wêreld gerespekteer. “Ek hoop die Fakulteit sal aanhou braaf wees om nuwe maniere van leer en onderwys te omarm en aan die voorpunt te bly."

Blitz het geen definitiewe planne ná haar uittrede nie: “Ek sal graag wou aanhou om tot die Fakulteit en sy studente by te dra, maar ons sal moet sien watter vorm dit moontlik kan aanneem." Sy gaan nou eers ʼn kort blaaskans ná ʼn lang en vervullende loopbaan neem.

Bo-aan haar doenlysie is om leeswerk in te haal – van klassieke werke tot speurverhale – en om nuwe plekke te besoek. “Ek stel nie soveel daarin belang om elke keer na dieselfde plek terug te gaan nie," sê sy. Dit kon net sowel haar leuse dwarsdeur haar loopbaan gewees het.

Die Fakulteit gaan Blitz duidelik mis. Volgens prof Jimmy Volmink, Dekaan, het sy haarself bewys as ʼn visioenêre, innoverende, waardegedrewe leier met insig, wat ook uitgeblink het as ʼn toegewyde en betroubare spanspeler. “Deur Julia se toewyding tot die vakgebied van onderwys en leer het sy ʼn spesiale diepte aan die uitvoering van haar rol as Vise-dekaan verleen. Dit het haar in staat gestel om ʼn unieke bydrae tot gesondheidsberoepe-onderwys te lewer wat ver buite die Fakulteit se grense gestrek het."   

Hy voeg by: “Julia het ʼn diep indruk op my gemaak as ʼn kalm, ewewigtige en wyse kollega. Haar toewyding tot haar studente se welstand, veral dié wat as kwesbaar beskou is, was volkome. Sy het altyd respekvol met studente en personeellede omgegaan. Sy was taai, dog deernisvol. Dit het gesorg dat sy almal se samewerking en respek geniet het." 

Volgens prof Susan van Schalkwyk, Direkteur van die SGBO, het Blitz die pos van Vise-dekaan met ʼn magdom ervaring betree, as klinikus én in die akademiese rol. “Haar begrip van die gesondheidsorgsektor en die hoёronderwyssektor (spesifiek wat mediese onderwys betref), het haar in staat gestel om die rol van Vise-dekaan effektief aan te pak en die Fakulteit deur ʼn paar uitdagende jare te stuur.

Van Schalkwyk merk voorts op: “Sy is wonderlike weetgierig. Sy pas ʼn merkwaardige vlak van nadenkende beoordeling op haar eie werk en dié van haar studente toe. Haar nougesetheid het voorts geblyk uit die wyse waarop sy in die fynste besonderheid vir voor- en nagraadse komiteevergaderings voorberei het."

Farah Fredericks, Adjunk-registrateur van die US se Tygerberg-kampus, sê Blitz is baie passievol oor onderwys- en personeelontwikkeling, veral die professionele ontwikkeling van akademici as onderwysers. “Haar kennis op die gebied van hoёr onderwys, veral wat onderwys en leer betref, was tot groot voordeel van die Fakulteit.

“Een van haar sterkste punte is haar toeganklikheid en die vermoё om almal welkom en raakgesien te laat voel, haar vermoё om te luister en om mense se behoeftes so ver as moontlik tegemoet te probeer kom. Sy probeer altyd vernuwende oplosssings vir probleme vind."

Fredericks, wat die eerste keer tydens #FeesMustFall met Blitz saamgewerk het, meen die Fakulteit gaan haar baie mis. “Sy kon groepe mense tydens baie onstuimige tye byeenbring. Jy kon altyd op haar reken. In daardie opsig verloor ons ʼn reuse-persoonlikheid."

Jessica Davies, voorsitter van die Tygerberg- Akademiese Sakeraad (TAAC), sê: “Die Covid-19-pandemie het baie uitdagings vir ons akademiese programme geskep en prof Blitz moes hierdie uitdagings vir al ses die voorgraadse programme bestuur en oplos.

“Ek is oortuig ons sou nie die 2020- akademiese jaar oorleef het sonder haar toewyding, passie en vasbeslotenheid om die akademiese sukses van al ons studente te verseker nie. Haar vermoё om kalm en bedaard in die aangesig van (veelvuldige) storms te bly, het my met ontsag vervul. Sy kon enige probleem aanpak wat na haar kant toe gekom het en het altyd die beste uitkoms vir alle betrokkenes verseker."

Ilana van Niekerk, TAAC-voorsitter van einde 2016 tot 2019, stem saam: “Tydens die vier jaar van ons werkverhouding het ek die voorreg gehad om haar passie vir hoёr onderwys te beleef, asook haar vernuwende benadering tot assessering en onderwys, haar liefde vir interaksie met studente en haar voortdurende nastrewing van vooruitgang in kliniese onderwys.

“Sy het ʼn mentor en ʼn vertroueling geword op wie ek kon staatmaak wanneer ek raad en hulp as TAAC-voorsitter en as ʼn jong mediese student nodig gehad het. Gedurende haar termyn as Vise-dekaan het sy werklik studente én personeel geïnspireer."  

Kristin Arends, TSR-voorsitter, het lof vir Blitz se deernis en vriendelikheid: “Ons waardeer haar gewilligheid om die TSR deur die jare met groot uitdagings rakende studente se behoeftes en welstand by te staan.

“Veral gedurende die moeilike oorgangstyd na nood-afstandsleer en -onderwys in 2020 [weens Covid-19], het sy haarself toegewy om te verseker ons kon die akademiese jaar suksesvol voltooi. Ons sal dit beslis mis om haar raad te kan vra, maar ons wens haar net sukses en geluk met haar toekomstige ondernemings toe." 


Photo credit: Damien Schumann