Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Sportgebaseerde programme geen ‘wonderkuur’ vir maatskaplike probleme nie
Outeur: Christina Laurenzi & Mark Tomlinson
Gepubliseer: 19/04/2021

Sportgebaseerde programme moet ook op deelnemers se individuele- en omgewingsomstandighede fokus ten einde probleme rakende gemeenskapsveiligheid, geweld en risikogedrag te help oplos. Só meen dr Christina Laurenzi en prof Mark Tomlinson (Instituut vir Gesondheidsnavorsing oor die Lewensloop) in ʼn onlangse meningsartikel vir Daily Maverick.

  • ​Lees die vertaalde weergawe van die artikel hier onder.

​Christina Laurenzi en Mark Tomlinson*

Sportdeelname het 'n groot aantrekkingskrag en bevorder sosiale kohesie en persoonlike identiteit. Neem byvoorbeeld sokker. Daar is na raming 3,5 miljard sokkeraanhangers wêreldwyd. In Suid-Afrika verbind baie mense sokker met 'n sterk sin van nasionale identiteit. Gedurende die 2010 Wêreldbekertoernooi is hierdie sin van identiteit vir verskeie gemeenskapsprojekte ingespan wat byvoorbeeld op stedelike vernuwing en jeugontwikkeling gerig was.

In 'n wyer sin het gemeenskapsgebaseerde programme wat sport gebruik om gesondheid en maatskaplike uitkomste te verbeter – soms “sport-vir-ontwikkeling"-programme genoem – die afgelope paar jaar groot belangstelling uitgelok. Hierdie programme spreek diepliggende uitdagings soos interpersoonlike geweld of MIV-risikogedrag op innoverende en aantreklike maniere aan. Verder het dit ook getoon dat dit individue en gemeenskappe bemagtig en geleenthede vir gestruktureerde aktiwiteite skep.

Gegewe ons land se hoë voorkoms van geslagsgebaseerde geweld en moord, het ons in Suid-Afrika veral doeltreffende oplossings nodig om interpersoonlike geweld en die risiko's wat daarmee gepaardgaan, te verminder. In die lig van vanjaar se Internasionale Dag van Sport vir Ontwikkeling en Vrede, wat onlangs gevier is, vra ons: Is sport-vir-ontwikkeling-programme 'n haalbare oplossing vir hierdie uitdaging?

Die Instituut vir Gesondheidsnavorsing oor die Lewensloop aan die Universiteit Stellenbosch werk al vir 'n hele paar jaar saam met vennote by die Universiteit van Kalifornië in Los Angeles om die aanwending van sokker vir die vermindering van riskante gedrag onder hoë-risiko-, werklose mans wat in armoede lewe, te bestudeer. Ons het in 2015 'n klein loodsstudie in Khayelitsha onderneem wat belowende resultate getoon het.

Aangemoedig deur hierdie sukses, het ons 'n 12-maande lange gedragsintervensie in werking gestel en geëvalueer. Die intervensie het as die Eyethu-sokkerligga (Eyethu beteken “ons s'n" in isiXhosa) bekendgestaan en was op jongmans tussen die ouderdomme van 18 en 29 jaar gemik wat ten tye van hul inskrywing in die program werkloos was en nie met opleiding besig was nie. Ons het die gouestandaardmetode vir die evaluering van programme soos hierdie – 'n ewekansige, gekontroleerde proefneming – gebruik. Eyethu was gemik op jongmans wat in gevaar van middelmisbruik, MIV en gewelddadige gedrag was. Ons het altesame 1 200 mans gewerf, waarvan 800 aan die Eyethu-liga deelgeneem het en 400 nie enige intervensie ontvang het nie (die kontrolegroep).  

Sokker was die instruksie- en deelnamemetode – Eyethu was 'n mededingende sokkerliga én 'n platform vir spanlede om aan groepbesprekings deel te neem en om norms rakende konflikoplossing, seksuele risiko en middelgebruik te konfronteer. Daar is in groepsessies, gelei deur opgeleide afrigters wat ook in Khayelitsha gewoon het, op die stel van doelwitte, probleemoplossing en eweknie-ondersteuning gefokus om konflik te verminder. Eyethu het as 'n model op beide terapeutiese tegnieke en terugvoer van gemeenskapsgebaseerde konsultasies staatgemaak om te verseker dat dit in die beste wetenskaplike bewyse onderlê is en vir die deelnemers aanvaarbaar was.

Ons het in ons evaluasie van Eyethu gepoog om te verstaan of, en tot watter mate, deelname aan Eyethu risiko's verminder het wat met gewelddadige gedrag, MIV en die gebruik van middels soos alkohol, dagga, tik en Mandrax gepaardgaan. Die studie is van 2016 tot 2020 in Khayelitsha en Mfuleni net buite Kaapstad onderneem en is deur hoogsopgeleide personeel (van wie sommige aan die loodsstudie gewerk het) uitgevoer wat uitgebreide supervisie en monitering ontvang het. In die lig hiervan en gegewe ons vroeëre belowende resultate, het ons vir sukses gehoop. Dit was teleurstellend toe ons ons data ontleed en feitlik geen verskil gevind het nie tussen die uitkomste van daardie mans wat aan Eyethu deelgeneem het en diegene wat nie deelgeneem het nie. Ons het onlangs 'n manuskrip ingedien vir publikasie waarin ons aandui dat mans wat aan die sokkerprogram deelgeneem het, slegs 'n baie klein afname in die gebruik van Mandrax getoon het, en geen verandering in die pleeg van geweld, MIV-toetsing, riskante seksuele gedrag of geestesgesondheid getoon het nie.

Wat kan hierdie teleurstellende resultate beteken vir die gebruik van sport as 'n manier om in te gryp in hoërisikogroepe? 'n Mate van versigtigheid moet natuurlik aan die dag gelê word, aangesien dit slegs een studie is en daar baie ander (veral wat op kinders fokus) is wat meer belowende resultate getoon het. Een van die lesse is dat daar geen “wonderkuur" is om probleme rondom gemeenskapsveiligheid op te los of om individue te motiveer om hul gedrag te verander nie. Maatskaplike intervensies moet op individuele en omgewingsomstandighede reageer om die maksimum uitwerking te hê. Hoewel ons “suksesstories" wil hê, kan teleurstellende uitkomste dikwels die meeste blootlê oor hoe programme verbeter kan word.

Ons glo ons resultate vestig die aandag op wyer strukturele kwessies wat moontlik Eyethu kon belemmer het om sy doelwitte as 'n program te bereik. Een moontlike les van die Eyethu-ervaring was byvoorbeeld die “klewerigheid" van maatskaplike norms, wat tot iets kan lei wat intervensiespesialiste “uitwassing" noem. Selfs in gevalle waar individue aansienlik by intervensieprogramme baat of nuwe vaardighede aanleer sonder om omgewings of strukture in staat te stel om die ondersteuning voort te sit vir die toepassing van hierdie vaardighede, kan dit uitdagend wees om hierdie positiewe gevolge te handhaaf.  

Dit is algemeen bekend dat norms binne 'n ewekniegroep (byvoorbeeld by drankvergrype) dit vir 'n individu uiters moeilik maak om eenvoudig net hul drinkgewoontes te verander sonder om ook hul ewekniegroep te verander. Soms is hierdie verskynsel die gevolg van 'n intervensie wat té nou gefokus was; dikwels is dit egter onmoontlik om bykomende faktore te bestuur of te versag wat moontlik negatiewe uitkomste kan vorm.

Selfs goedgeïmplementeerde en -befondsde intervensieprogramme ondervind hierdie uitdagings. Verder is geografie, gemeenskap en konteks almal belangrike stukke van die legkaart. Programme mag in spesifieke woonbuurte floreer, terwyl dit geen byval vind by individue wat selfs net 'n paar kilometer weg is nie. Dit is belowend dat daar moontlik bykomende strukturele aksies kan wees wat sommige van die positiewe invloede van hierdie programme kan help beskerm. Dit kan byvoorbeeld moontlik 'n doeltreffender manier wees om die kernoorsake van konflik en middelgebruik aan te pak deur dienste wat gemeenskapsontwikkeling aanspreek, met openbare veiligheidsinisiatiewe te integreer.

Ons bevindings versterk die behoefte daaraan om oorweging te skenk aan hoe risikopatrone reeds van 'n jong ouderdom af ontwrig kan word. Individuele en omgewingsfaktore kan met die verloop van tyd 'n konsep bou wat as “kumulatiewe risiko" bekend staan. Dit kan vir kinders wie se welstand oor baie jare aan veelvoudige, voortslepende risiko's blootgestel word – deur byvoorbeeld geweld tuis te sien of te ervaar – moeiliker wees om te leer en by stresvolle situasies aan te pas. Vroeë kindergefokusde intervensies gedurende die grondslagfase word as 'n manier beskou om koesterende sorg te bevorder wat kinders in staat stel om beter gesondheidsuitkomste later in hul lewens te behaal.

Terwyl intervensies só saamgestel moet word om mense van alle ouderdomme in alle stadiums van hul lewens te bereik, sal beleggings in kindergefokusde programme natuurlik moontlik die grootste voordele oplewer: as voorkoming, eerder as behandeling. Wat egter belangrik is vir maksimale uitwerkings, is dat hierdie vroeë intervensies met bykomende programme en geleenthede vir vaardigheidsontwikkeling aangevul word namate kinders ontwikkel, gegewe wat ons weet van die uitwerkings van kumulatiewe risiko en ongunstige lewensomstandighede.

Ongeag hoe aantreklik sportgebaseerde programme ook al mag lyk, toon ons ondervinding met Eyethu dat daar in hierdie tipe intervensieprogramme groter klem geplaas moet word op faktore wat moontlike voordele mag ontwrig. Die uitdagings wat Suid-Afrika op die lange duur in die gesig staar, mag meer volhoubare en omvattende benaderings tot die vermindering van geweld en die bevordering van gesonde gedrag benodig.  

*Dr Christina Laurenzi en prof Mark Tomlinson is verbonde aan die Instituut vir Gesondheidsnavorsing oor die Lewensloop by die Universiteit Stellenbosch.