Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Inligting in oorvloed by heel eerste aanlyn Maties Opedag
Outeur: Corporate Communication and Marketing Division/Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 14/04/2021

​Voornemende studente, hulle ouers en voogde sowel as ander belangstellendes kan daarna uitsien om toegang tot 'n magdom inligting te kry gedurende die heel eerste aanlyn Universiteit Stellenbosch (US) Opedag, wat Saterdag 17 April 2021 van 09:00 to 14:00 van stapel gestuur sal word.

Die geleentheid bied 'n uitstekende platform vir graad 12's om inligting oor studiegeleenthede, finansiële bystand, huisvesting en die studentelewe te bekom.

Die verskuiwing na die kuberruim strook met die Universiteit se verbintenis om aan COVID-19-veiligheidsprotokolle te voldoen. “Die Opedagwebblad sal virtuele stalletjies hê waar leerders en ouers vir inligtingsessies kan inskakel, brosjures en dokumente kan aflaai, en met 'n raadgewer kan gesels," sê Michelle Swart, bemarkings- en mediabeamp​te by die US se Sentrum vir Studentewerwing en Loopbaanadvies. Die US se kliëntediensagente sal ook tussen 09:00 en 14:00 vir regstreekse kletssessies op die webblad beskikbaar wees.

Deelnemers sal belangrike inligting oor US-studieaansoeke, beskikbare finansieringsmoontlikhede, loopbaanadvies en studentesteun (onder meer vir studente met spesiale leerbehoefes) kan kry. Nietemin sal diegene wat nie Saterdag kan inskakel nie steeds kan deelneem. “Moenie bekommer as jy nie op die dag self kan bywoon nie. Die webblad met ál die uitstallings en inligtingsessies sal nog tot 31 Julie toeganklik wees," voeg Swart by.

​Studentewerwing en Loopbaanadvies is baie opgewonde oor die vooruitsig dat meer mense toegang tot die Opedag sal kan kry noudat dit aanlyn aangebied word. “Sodoende kan die geleentheid ook 'n 'landwye voetspoor' hê," sê Swart. “Voorheen het ons hoofsaaklik op die Wes-Kaap gekonsentreer. Die meeste ouers en leerders van ander provinsies kon nie bywoon nie. Nou kan enigeen toegang verkry, vanaf enige plek, op enige tyd, selfs agterna."

  • Leerders word aangemoedig om vooraf by www.sun.ac.za vir die Opedag te registreer. KLIK HIER  vir 'n direkte skakel na die Opedag. 
  • Vir verdere inligting, kontak Michelle Swart by 021 808 4709 of michelleswart@sun.ac.za.