Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Eerste kliniese plasing 'n mylpaal vir voorgraadse verpleegkunde studente
Outeur: FMHS Marketing & Communication / FGGW Bemarking & Kommunikasie – Sue Segar
Gepubliseer: 09/04/2021

Die voorgraadse verpleegkundeprogram by die Universiteit Stellenbosch (US) het onlangs ʼn belangrike mylpaal bereik. Vir die eerste keer in sowat 15 jaar het derde jaar verpleegkundestudente by die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) met hulle praktiese kliniese plasings by hospitale en klinieke in die Kaapstad-omgewing begin.

Dr Janet Bell, ʼn senior lektor in die Departement Verpleeg- en Verloskunde het die studente se toetrede tot die kliniese platform beskryf as “ʼn groot dag in ons program se geskiedenis".

In 2019 was ʼn groep van 41 studente die eerste om die nuwe voorgraadse verpleegkundeprogram by die FGGW te begin. En dit is hierdie groep, wat nou in hulle derde jaar is, wat nou ook met kliniese plasing begin.

​Die FGGW het voorheen ʼn voorgraadse verpleegkundegraad aangebied, maar dit is na die Universiteit van Wes-Kaapland geskuif toe die hoëronderwys landskap hervorm is deur die voormalige Minister van Onderwys, Kader Asmal. Die laaste groep verpleegkunde studente wat die vorige program voltooi het, het in 2007 gegradueer.

Volgens Bell het die afwesigheid van ʼn verpleegkundeprogram by die FGGW “ʼn ware gaping, ʼn tekort en ʼn opening in die voorgraadse aanbieding gelaat.

“Hierdie program was ontbrekend van die voorgraadse program-aanbieding by die FGGW. Die fakulteit bied geneeskunde, fisioterapie, spraak-, taal- en gehoorterapie, dieetkunde en arbeidsterapie aan, maar die groep gesondheidsorgwerkers wat die grootste groep in die land uitmaak, en inderwaarheid ook die wêreld, was ontbrekend by die fakulteit," het Bell gesê. Die US se voorgraadse verpleegkundeprogram is in 2019 heringestel.

“Nou is ons waar ons behoort te wees, en hierdie nuwe program stel ons in staat om ʼn ander perspektief in te neem oor hoe verpleegkundiges opgelei word en hoe ons hulle in goeie verpleeg- en verloskundiges kan help ontwikkel. Dit is ʼn enorme voorreg om deel te wees hiervan, en ek is baie dankbaar om by die program betrokke te wees.

“Toe die regulasies rondom verpleegkunde opleiding verander het, het dit ons die geleentheid gegee om die wyse waarop verpleegkundiges in Suid-Afrika opgelei word te verander. Die US was die eerste universiteit wat geakkrediteer was om hierdie nuwe weergawe van die verpleegkundeprogram aan te bied. Ons studente is nie net die eerste by die Universiteit Stellenbosch nie, maar ook die eerste in die land om die kliniese spasie te betree in die konteks van die nuwe program. Dit is ʼn strawwe leerkurwe en ʼn baie interessante en dinamiese spasie om van deel te wees. Dit is beide opwindend en emosioneel," het Bell gesê.

Volgens Bell sal die studente hulle kliniese praktiese in vier kliniese groepe – in die Paarl, Stellenbosch, Khayelitsha en Mitchells Plein areas.

Bell het gesê dat die nuwe program die afgelope paar jaar verskeie uitdagings ervaar het.

“In 2019 het ons ons voete gevind en die studente is eers laat in die program geselekteer weens die akkreditasie-proses. Dus is ons almal op ʼn redelike dinamiese leerkurwe geplaas.

“Verlede jaar – 2020 – was eenvoudig verbysterend weens Covid-19. Ons het gegaan daarvan om mekaar daagliks te sien, na ʼn volkome aanlyn leerspasie. Dit het baie aanpassing van almal geverg. Ons moes hard daaraan werk om gekoppel te bly. Die goue draad van ons program is mensgesentreerdheid. Om daarvolgens te leef het van ons geverg om baie kreatief te wees om aanlyn gekoppel te bly aan ons studente en aan mekaar. En dit is vanselfsprekend dat die studente nie na hospitale kon besoek aanlyn nie, soos wat hulle veronderstel was om verlede jaar te doen.

“Elke jaar was anders. As jy iets vir die eerste keer doen, leer jy hard en vinnig saam. Dit is ʼn ware voorbeeld van wedersydse leer, waar ons ons van die studente geleer het, terwyl hulle van ons geleer het."

Verpleegkunde studente het die volgende te sê gehad oor hulle eerste ervarings van kliniese prakties:

Aneeqah Adonis: “Ek was by gesinsbeplanning geplaas in die Mitchells Plein gemeenskapsgesondheidsentrum en het saam met ʼn sister gewerk wat al vir dekades ʼn verpleegkundige is. Terwyl ons ʼn prosedure gedoen het, het sy ʼn afwyking gevind. Sy het vir die kliënt gevra om haar te verskoon terwyl sy ʼn kollega gaan roep vir ʼn tweede opinie. Dit was opvallend vir my, en ek het besef mens is nooit te oud om te vra vir hulp nie, selfs al beoefen mens al dekades lank ʼn beroep. Die sister se nederigheid het my bygebly en was een van die hoogtepunte wat ek teëgekom het terwyl ek by die gesondheidsentrum gewerk het."

Jessica Marshall: “Aanvanklik was ek baie angstig daaroor om ʼn bedbad te gee, maar na my eerste ervaring was die pasiënt verskriklik dankbaar en het ons aanhoudend bedank. Dit was ongelooflik om iemand so gerus te kon stel en hulle menswaardigheid te herstel. Dit was ʼn gevoel wat ek nooit sal vergeet nie."

Lume Koorts: “Vir die afgelope paar jaar het ek nooit regtig soos ʼn verpleegkundige gevoel nie. Maar nou, as ek my uniform aantrek, ʼn fasiliteit binnegaan, en mense kan versorg, voel dit asof ek hier behoort en dit gee my ʼn sin van nut."

Chene Senekal: “Dit was die oomblik waaroor ek al my hele lewe lank droom – om uiteindelik mense te kan help. Die gedugste ervaring van my lewe was die besef dat ek verantwoordelik is vir meer as net myself, en dat ek die voorreg het om ʼn verskil te maak. Dit was beslis ʼn lewensveranderende ervaring en ek sal nooit weer op dieselfde manier na die wêreld kan kyk nie. Daar is soveel meer aan die lewe as om eenvoudig net te leef."

Nabila Salemohammed: “Dit was ʼn interessante ervaring om as ʼn internasionale student te sien wat verpleegkunde in Suid-Afrika behels. Die platform het my gemotiveer om daarna te streef om die beste te doen en die beste te wees met wat ek doen."

Suzanne Hugo: “Die glimlag op sy gesig toe ek vir hom gesê het hy doen ongelooflik goed en dat ek trots is op hom omdat hy beheer neem van sy gesondheid en met MIV-behandeling begin het. Daar is geen beter gevoel as om te weet dat jy iemand erkenning en validasie gegee het nie."

Shanay de Kock: “Wat ʼn ongelooflike ootmoediglike ervaring. Dit is een ding om van die Suid-Afrikaanse gesondheidsorgstelsel te hoor, maar iets heeltemal anders om dit eerstehands te ervaar – dit het alle verwagtinge oorskry. Ek voel baie geëerd om ʼn Verpleegkundige aan die Universiteit Stellenbosch te wees in Suid-Afrika. Ek geniet dit om by die fasiliteite in te loop en glimlagte in die oë te sien waar daar eens pyn was. Ek is baie gelukkig dat my beroep baie belonend is en dat ek werklik ʼn verskil kan maak – selfs al is dit net deur ʼn gesprek te voer met iemand. Ek sal aanhou veg totdat ek die beste, bekwaamste en deernisvolle verpleegkundige is wat as wat ek kan wees. En kliniese prakties dra baie by daartoe om hierdie doelwit te bereik."

Mika Marnitz: “Ek het nie geweet wat om te verwag toe ons met kliniese werk begin het nie. Maar ek moet sê dat dit wat ek die afgelope vyf weke ervaar het, het my vreeslik baie geleer, en het my gehelp om emosioneel en geestelik te groei, en het my geleer hoe om liefde en sorg te betoon aan die wat dit die meeste nodig het. Daar was moeilike tye, maar ook bemoedigende tye, en ek glo dit is alles deel van die groeiproses om uitstekende verpleegkundiges te word."