Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Veerkragtigheid die sleutel tot beter omstandighede
Outeur: Daniel Bugan / Photograph by Stefan Els
Gepubliseer: 30/03/2021

Wanneer 'n mens Dumisani Hompashe ontmoet en na sy verhaal luister, kom die woord “veerkragtigheid" werktuiglik by jou op. Want veerkragtigheid is soos 'n silwerdraad deur sy hele lewe vervleg, van kleintyd tot sy deeltydse PhD-studie in Ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch (US).

Hompashe, wat sy doktorsgraad by die US se gradeplegtigheid vir Maart 2021 ontvang het, onthou: “Toe ek grootgeword het, kon my ouers nie speelgoed bekostig nie, so ons moes kreatief wees en ons eie speelgoed soos draadkarre en dies meer maak. Ek was nooit tevrede met my omstandighede nie, en het altyd na 'n manier gesoek om dit te verbeter."

Daardie selfde veerkragtigheid het hom later 'n onderwyskwalifikasie besorg, en hy het die onderwysbestuur betree. Daarna het hy 'n belangstelling in ekonomie ontwikkel en vir deeltydse studie ingeskryf, wat op 'n magistergraad in Ekonomie aan Rhodes-universiteit uitgeloop het. “Die oorskakeling na ekonomie was vir my 'n betreklik natuurlike een vanweë my agtergrond in die Suid-Afrikaanse onderwys, wat 'n geskiedenis van ongelykheid het. Ek was nog altyd nuuskierig oor waarom ons met hierdie ongelykhede sit, so ek het besluit om ekonomie te studeer om 'n deegliker begrip van die kwessie te kry," verduidelik hy sy besluit om van vakrigting te verander.

Hompashe se PhD handel oor dienslewering en verantwoordbaarheid in die onderwys- en gesondheidsorgsektor in Suid-Afrika. Hy sê sy studie aan die US was uiters bevredigend. Hy is veral dankbaar teenoor sy PhD-promotors, prof Servaas van der Berg en dr Anja Smith van die US se Departement Ekonomie, vir hulle ondersteuning. “Die eenheid vir navorsing oor sosio-ekonomiese beleid (ReSEP) onder leiding van prof Van der Berg het my op verskeie maniere tegemoetgekom. Ek is genooi om by seminare, werksessies en konferensies in te skakel, wat my op 'n manier gehelp het om my navorsingsonderwerp beter te leer ken."

Noudat hy sy PhD verwerf het, het hierdie dosent aan die Universiteit van Fort Hare 'n aantal nuwe doelwitte wat hy wil bereik. “Die belangrikste is om 'n navorsingseenheid by Fort Hare op die been te bring om die gebiede van gesondheid en onderwys te bestudeer. Ek wil ook jongmense toerus om hulle by die eenheid aan te sluit en met die nasionale departemente van Gesondheid en Onderwys saam te werk deur navorsing oor aktuele kwessies van belang vir daardie departemente te onderneem.

“Dan beplan ek ook om van my navorsing in artikels te omskep vir publikasie in portuurbeoordeelde vaktydskrifte, en om aansoek te doen om toekennings waarmee ek groter navorsingsprojekte saam met my studente kan onderneem."

Hompashe het op Mount Coke naby King William's Town in die Oos-Kaap grootgeword. Hoewel hulle dit nie breed gehad het nie, eer hy sy pa, 'n fabriekswerker, wat in die gesin se behoeftes voorsien het, en sy ma, wat hom 'n goeie werksetiek geleer het. “My pa het my gewoonlik sakgeld gegee om pouse iets te ete by die skool te koop. Ek dink dit was omtrent 3c per dag. En as ek ná skool by die huis gekom het, het my ma altyd my boeke nagegaan en my aangemoedig om my huiswerk te doen. Hulle het albei 'n kernrol in my opvoeding gespeel."

Maar die grootste lof kom sy vrou en kinders toe, wat “baie ondersteunend en vol begrip was wanneer ek Stellenbosch toe moes kom vir my studie, soms vir 'n week op 'n slag".​