Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US-graduata gee SciMathUS die eer vir haar sukses op universiteit
Outeur: Corporate Communication and Marketing/Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking [Rozanne Engel]
Gepubliseer: 30/03/2021

​“SciMathUS is een van die beste besluite wat ek nog ooit geneem het. Ek het mense ontmoet wat in my geglo het, mense wat wou sien dat ek oorwin en 'n beter burger word. SciMathUS is die beste universiteitsgrondslag wat ek nodig gehad het."

Hierdie woorde van dankbaarheid kom van Ezile Mkhosi wat vandag (30 Maart 2021) haar BRekeningkunde-graad van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe ontvang het.

Mkhosi se droom was nog altyd 'n suksesvolle sakevrou te wees. Sy het besef dat deur haarself as 'n geoktrooieerde rekenmeester te bekwaam, dit haar sou help om haar droom te bereik. Toe sy egter nie aan die toelatingsvereistes vir die kursus by die Universiteit Stellenbosch (US) voldoen het nie, het sy besluit om vir die SciMathUS-program aansoek te doen. Sy het geweet dit sou haar help om haar punte te verbeter en haar nader aan haar droom bring.

“SciMathUS het my gehelp om sekerheid oor my loopbaankeuse te kry. Afgesien daarvan om my wiskundepunte te verbeter, het die program my op soveel ander maniere gehelp. Daar is so baie goed wat die Universiteit aanneem studente weet – goed wat ander mense bevoorreg genoeg was om aan blootgestel te word op hoërskool. Ek was nie geletterd genoeg vir iemand wat veronderstel was om 'n eerstejaarstudent te wees nie. As ek nie die geleentheid gekry het om deel te wees van SciMathUS nie, sou ek nie die pyp in my eerste jaar gerook het of tot hier gevorder het nie."

Mkhosi is 'n eerstegenerasie-universiteitstudent in haar familie. Sy sê haar tersiêre opleidingsreis het soms eensaam gevoel, maar sy het geweet sy moet deurdruk sodat haar familie kon trots wees op haar.

“Toe ek by die Universiteit Stellenbosch aangeland het, het ek het soos 'n babahondjie gevoel wat met groot honde moes meeding – mense wat van goeie, gevestigde skole afkomstig was, wat aan mooi goed gewoond was, wat ondersteuning gehad het en gevorderde wiskunde geneem het, iets wat ek nie eens in daardie stadium geweet het bestaan nie. Ek het egter ook geleer dat opvoeding pynlik is vir sommige van ons, maar net so is dit om arm te wees. Dit is dus uiters belangrik om te volhard wanneer jy geleenthede in die lewe gegun word en om van jou te laat hoor, want daar is altyd iemand wat bereid is om jou te help."

Mkhosi is tans besig met 'n nagraadse diploma in Rekeningkunde en hoop om eendag 'n suksesvolle geoktrooieerde rekenmeester te word. Sy hoop ook sy sal genoeg middele tot haar beskikking hê om hulpbronne te kan terugploeg in minderbevoorregte gemeenskappe en om ander jongmense te inspireer om ook hul drome te verwesenlik.

Meer oor SciMathUS

Die SciMathUS-program vorm deel van 'n verskeidenheid eenhede binne die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Opvoedkunde, spesifiek die US Sentrum vir Pedagogie (SUNSEP). Dié program bied jaarliks aan honderd leerders, wat reeds Graad 12 geslaag, maar nie vir hoër onderwys gekwalifiseer het nie, 'n tweede geleentheid om hulle NSS-uitslae in spesifieke vakke te verbeter wat hulle in staat sal stel om vir universiteitsprogramme heraansoek te doen, veral daardie programme wat op STEM-vakgebiede fokus.

Sedert die totstandkoming van die SciMathUS-program in 2001, het meer as 1 000 studente dit reeds suksesvol voltooi. Die program fokus hoofsaaklik daarop om matrieks te help om hul Nasionale Senior Sertifikaat-punte in Wiskunde en Natuurwetenskap te verbeter. Die program bied ook Rekeningkunde en Inleidende Ekonomie aan.

SciMathUS vier vanjaar ook 20 jaar van lewens wat verander is. Die 20-jaar vieringe sal onder meer die vorm aanneem van 'n aanlyn veldtog, genaamd #ChangingLives. Die doel van die veldtog is om te verseker dat die program oor die volgende 20 jaar, met die ondersteuning van alle belanghebbendes, steeds meer geleenthede skep vir studente om hulle volle akademiese potensiaal te bereik.

Volg gerus SciMathUS se sosialemedia-bladsye oor die volgende paar maande, waar die kollig sal val op die program asook alumni wat sedertdien gegradueer en wonderlike vordering in hul onderskeie velde gemaak het.

SciMathUS kan op die volgende platforms gevolg word:

  • Facebook – Stellenbosch Alumni / SciMathUS
  • Instagram – @MatiesAlumni / @scimathus
  • Twitter – @SU_Alumni / @SUNCEP
  • Sluit aan by Maties Connect https://matiesconnect.com/groups/53/feed

    Matrikulante wat belangstel in SciMathUS, kan Adele Poole by 021 808 3032 skakel, of stuur 'n e-pos aan apool@sun.ac.za​ vir verdere inligting oor die program.