Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Alles begin met vertroue
Outeur: Operations and Finance
Gepubliseer: 29/03/2021

​PROF STAN SE NOTA: MAART 2021 NUUSBRIEF

Om doeltreffend as 'n span te werk, is vertroue nodig. Ek word dikwels aangemoedig deur die groot mate van vertroue wat ek sien wanneer ons saamwerk in ons Verantwoordelikheidsentrum, maar ons moet dit nooit as vanselfsprekend aanvaar nie. Ons moet ook soms vertroue opbou namate ons daarna streef om werklik 'nbemagtigende leier te word, skryf prof Frances Frei van Harvard Sakeskool en Anne Morriss, uitvoerende stigter van The Leadership Consortium in die Harvard Business Review.

Hoe?

Deur te fokus op die kerndrywers van vertroue in 'n verhouding: egtheid, logika en empatie. Mense is geneig om jou te vertrou as hulle dink dat hulle met die werklike jy omgaan (egtheid), as hulle in jou oordeel en bekwaamheid (logika) vertrou, en as hulle glo dat jy omgee vir hulle (empatie).

Die tradisionele leierskapsnarratief gaan oor jou: jou visie en strategie, jou vermoë om moeilike besluite te neem en die troepe byeen te kry; jou talente, jou charisma, jou heldhaftige oomblikke van moed en instink. “Maar leierskap gaan nie oor jou nie. Dit gaan daaroor om ander mense te bemagtig deur jou teenwoordigheid en om seker te maak dat die impak van jou leierskap sal voortduur – al is jy later afwesig."

Ons het 'n baie moeilike 2020 beleef, maar die goeie nuus is dat die Universiteit Stellenbosch se kampusse weer oop is en dat studente hul studentelewe weer buite op 'n veilige afstand kan geniet. Hulle het inderdaad na 'n beter kampus – as ons verwys na fasiliteite en IT – teruggekeer as wat hulle voor grendeltyd beleef het.

Vertroue staan vanjaar sentraal in ons sukses: vertroue in ons vermoë as 'n leerorganisasie waar mense hul drome verwesenlik, waar ons omgee vir ons personeel en studente en ons langtermyn verbintenis tot die skep van 'n florerende Universiteit besef.

Ons het baie om op trots te wees. Ons Finansiële Afdeling het die 2020-boekjaar suksesvol afgesluit en die resultate stem ooreen met ons vooruitskattings; IT- en Fasiliteitsbestuur het 'n ambisieuse projek begin om ons lesinglokale voor te berei vir hibriede onderrig en -leer van hoër gehalte met die implementering van die ELS-projek (Extended Learning Spaces); Innovus se LaunchLab het hul eerste suksesvolle groep opgelei in die nuwe Techpreneurship Sentrum ; Finansies werk hard om die ongelooflike ingewikkelde SUNFin-projek te implementeer; en Maties Sport berei tans dertien studente-atlete voor vir moontlike insluiting in die Go for Gold-span vir vanjaar se Olimpiese Spele en Paralimpiese Spele. Lees nog suksesstories soos hierdie verderaan in vandeesmaand se Gazette.

Baie dankie aan al die personeel in ons verantwoordelikheidsentrum se vyf afdelings vir julle unieke samewerking en vasberadenheid om die wiele in ons VS aan die rol te hou. Saam sal ons die uitdagings van 2021 die hoof bied, sonder om prys te gee wat ons die beste doen: om 'n gesonde en dinamiese leeromgewing waar toekomstige leiers opgelei word, te skep en te onderhou.

Ek wens julle sterkte toe vir die res van 2021.

Stan du Plessis​