Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Koringstrooi, mangoskille kan vir hernubare voedselverpakking gebruik word
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 15/03/2021

Koringstrooi en mangoskille beland gewoonlik op stortingsterreine of dit word as kompos en dierevoedsel gebruik, maar dit blyk dat dit moontlik in die ontwikkeling van hernubare, bioafbreekbare en nie-giftige aktiewe (die vermoë om op temperatuur- en tydsveranderinge in voedselberging te reageer) voedselverpakking gebruik kan word wat sal help om produkte langer vars te hou.

Dit is een van die hoofbevindings van 'n onlangse doktorale studie by die Universiteit Stellenbosch (US).

“Daar word in die rigting van hernubare en bioafbreekbare voedselverpakking beweeg in 'n poging om weg te doen met niehernubare en nie-bioafbreekbare petroleumgebaseerde verpakkingsmateriale. Ons moet die gebruik van landbou-afvalstowwe soos koringstrooi en mangoskille as alternatiewe roumateriale vir petroleumgebaseerde verpakkingsmateriale oorweeg, aangesien hulle ryk aan bio- of natuurlike polimere en antioksidante is," sê dr Lindleen Mugwagwa, 'n postdoktorale genoot in die departement Prosesingenieurswese aan die US. Sy het onlangs haar doktorsgraad in Chemiese Ingenieurswese aan die US behaal.

Mugwagwa se navorsingstudie* was die eerste om metodes te ontwikkel om die nodige bio- of natuurlike polimere en antioksidante te onttrek uit beide koringstrooi en mangoskille wat eienskappe bevat wat geskik is vir die ontwikkeling van aktiewe voedselverpakkingsmateriaal. Dit was ook die eerste keer dat hierdie produkte geïntegreer is om 'n biokomposietfilm ('n materiaalsamestelling bestaande uit bioafbreekbare polimere en biogebaseerde versterkingsagent) in 'n voedselomgewing te toets.

Mugwagwa het as deel van haar navorsing prosesse ontwikkel en geoptimeer om hierdie polimere en antioksidante te onttrek. Daarna het sy die polimere en antioksidante gekombineer om 'n voedselverpakkingsmateriaal te maak en toe die stabiliteit van die biokomposietfilm getoets wanneer dit met voedsel in aanraking kom. Sy het ook hul potensiaal getoets om oor tyd antioksidante in verpakte voedsel vry te stel. Laedigtheidspoli-etileenfilm, 'n tipe plastiek wat algemeen gebruik word, is as standaard gebruik.

Volgens Mugwagwa het haar studie getoon die eienskappe van polimere en antioksidante wat in koringstrooi en mangoskille voorkom, kan gedurende die onttrekkingsproses pasgemaak word sodat dit geskik is vir aanwending in voedselverpakking. Die polimere en antioksidante kan gelyktydig uit dieselfde voermateriaal onttrek word sonder om hul gebruik in voedselverpakking te beïnvloed.

“Die biogebaseerde films wat ek ontwikkel het, kon meer antioksidante oor 'n kort tyd in voedsel vrystel, in vergeleke met laedigtheidspoli-etileen plastiek. Dit dui daarop dat dit as 'n plaasvervanger vir die verpakking van bederfbare produkte gebruik kan word.

“Verpakkingsmateriaal se vermoë om antioksidante in voedsel vry te stel, is besig om 'n belangrike oorweging in die keuse van verpakkingsmateriale te word. Verpakkingsmateriaal wat antioksidante in voedsel kan vrystel in reaksie op bergingstoestande, het die potensiaal om die rakleeftyd van produkte te verleng, want die antioksidante werk onversadigde radikale en mikro-organismes teë wat kan ontwikkel indien voedsel nie behoorlik geberg word nie of vir langer tydperke geberg word."

“My navorsing bied goedkoop, volhoubare en bioafbreekbare polimere wat in die ontwikkeling van voedselverpakking gebruik kan word en bied ook metodes om natuurlike antioksidante te herwin en vir hul aanwending as byvoegings tot voedselverpakkingsmateriaal. Hierdie natuurlike antioksidante het die potensiaal om kunsmatige antioksidante wat kanker kan veroorsaak, in verpakkingsmateriaal te vervang."

Mugwagwa sê die voedselverpakkingsmateriaal wat in haar studie voorgestel word, kan ideaal wees om petroleum-gebaseerde verpakkingsmateriaal wat skadelik vir die omgewing is, te vervang.

Sy voeg by dat biosuiweringsaanlegte, die voedselverpakkingsbedryf asook boere en verbruikers by haar navorsing sal baat.

*Mugwagwa se studie is onder die toesig van prof AFA Chimphango gedoen met die finansiële ondersteuning van die Organisasie vir Vroue in die Wetenskap vir Ontwikkelende Wêreld, die Sweedse Internasionale Ontwikkelingsamewerkingsagentskap, die Nasionale Navorsingstigting van Suid-Afrika, die departement van Wetenskap en Tegnologie/die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad-afvalpadkaart en die US se departement Prosesingenieurswese onderneem.

SLEGS VIR MEDIANAVRAE

Dr Lindleen Mugwagwa

Departement Prosesingenieurswese

Fakulteit Ingenieurswese

Universiteit Stellenbosch

E-pos: 20576595@sun.ac.za/lindimutseiwa@gmail.com

UITGEREIK DEUR

Martin Viljoen

Bestuurder: Media

Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking

Universiteit Stellenbosch

E-pos: viljoenm@sun.ac.za