Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
‘Beter’ Huis ten Bosch heropen om nuwe Maties te verwelkom
Outeur: Corporate Communication and Marketing/Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking [Rozanne Engel & Petro Mostert]
Gepubliseer: 11/03/2021

Die Universiteit Stellenbosch se Huis ten Bosch (HtB) wat in 2019 in 'n brand beskadig is, het amptelik weer heropen.

Die studentekoshuis het 'n gedaanteverwisseling ondergaan en is nou 'n moderne, geskik-vir-doel-koshuis wat 146 Matiestudente – 52 seniors en 94 nuwelinge – vanjaar verwelkom.

HtB se koshuishoof, Karen Swart, sê hoewel baie verbeteringe aangebring is, het die essensie van die oorspronklike gebou behoue gebly.

Volgens Charin Skeen, projekbestuurder by Fasiliteitsbestuur wat die herstel en opknappingswerk by HtB oorsien het, het die eet- en ontspanningsaal se houtvloer die einde van sy lewensverwagting bereik en is dit nou met 'n splinternuwe houtvloer vervang. “Ons het gedurende die projek ook ontdek dat die twee oorspronklike stelle trappe in HtB se houttrappies behoue gebly het onder 'n laag vinielbedekking. Hierdie houttrappies is nou gerestoureer en word met trots ten toon gestel as deel van die oorspronklike struktuur van die gebou," sê Skeen.

“Die verbeteringe is rondom die studente gesentreer en is daarop gemik om elke studente se leefervaring gedurende hul verbly in Huis ten Bosch te verryk. Ek hoop die studente sal die nuwe en verbeterde ruimte hul eie maak en die talle verbeteringe geniet," sê Swart.

Die vernietigende brand wat op 12 Augustus 2019 in die vrouekoshuis uitgebreek het, het aansienlike skade aangerig en het die dak bo agt kamers op die derde verdieping in puin gelê.

Die US se bestuur, personeel, studente, gemeenskapslede en alumni het ten tye van die voorval ongelooflik saamgestaan om al 164 inwoners van Huis ten Bosch by te staan. Alternatiewe verblyf, skootrekenaars en ander hulpmiddels is ook aan die studente voorsien.

Die herstel- en bouwerk het aan die begin van September 2019 begin en die verbeteringe en herstelwerk het sowat R62,5 miljoen beloop.

Die opgeknapte HtB voldoen nou aan die mees onlangse munisipale brandverordeninge, is vir studente op elke vloer toegerus met moderne klein kombuisies en die elektriese en elektroniese installasies is heeltemal vervang. Die hele dak is vervang en alles slaapkamers en gange is met branddeure soos deur die regulasies vereis word, toegerus. 'n Nuwe brandwaarskuwingstelsel en afkondigingstelsel is ook geïnstalleer.

Volgens Skeen is die opknappingswerk gedoen met die doel om studente vir die volgende 30 jaar te kan bedien. Die koshuis beskik nou ook oor geriewe vir persone met gestremdhede om dit universeel toeganklik te maak.

Volgens die US se Uitvoerende Bedryfshoof, prof Stan du Plessis, is HtB een van talle projekte wat as deel van die huidige kampushernuwingsprogram onderneem word. Die doel is om te verseker dat studente en personeel in 'n plek woon, werk en studeer wat veilig, goed toegerus met moderne tegnologie en toeganklik is vir almal. “Ek het net ná die brand gesê ek is vol vertroue dat ons 'n beter Huis ten Bosch sal lewer en ek is trots om te kan sê, ons het dit gedoen," sê Du Plessis.