Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
SciMathUS-topstudent mik vir volgende doelwit
Outeur: SUNCEP
Gepubliseer: 08/03/2021

​“Werk hard, werk slim. Gaan sit en studeer elke dag. Ken jou droom"

Dit is die raad van Thabo Mthombeni, die topstudent van die Universiteit Stellenbosch (US) SciMathUS-program.

Die program, wat deur die US se Sentrum vir Pedagogie (SUNSEP) bestuur word, bied jaarliks aan studente uit opvoedkundige agtergeblewe omstandighede regoor die land 'n tweede kans om vir hoër onderwys te kwalifiseer. Uit meer as ʼn duisend aansoeke, word een honderd studente gekies om ʼn jaar aan die US deur te bring om hul Graad 12-punte vir die vakke Fisiese Wetenskappe, Wiskunde en Rekeningkunde te verbeter. Terwyl ʼn gedeelte van hierdie studente ten volle befonds word vir hierdie jaar, aanvaar SciMathUS ook studente wat hul eie studiegeld kan betaal in 2021.

Mthombeni, afkomstig van Thabazimbi in Limpopo, het onlangs uitgevind dat hy 91% vir Wiskunde en 98% vir Fisiese Wetenskappe behaal het.

Hy glo vas in die ondersteuning wat sy fisieke welstand vir sy geestelike welstand bied. Saam met twee vriende wat hy as sy grootste steun beskryf, stel hy gereeld nuwe doelwitte en vra hy homself: 'As jy so ver kan kom, hoeveel verder kan jy nie gaan nie?' “Ons het begin om doelwitte vir die week te stel, en dit het ʼn manier geword om myself te druk en my gedagtes aan te skakel," sê hy. (Sien V & A hieronder).

Aan't lewens verander sedert 2001

SciMathUS vier vandeesjaar 20 jaar van lewens wat verander is, en gaan voort met die lewering van suksesverhale, sê Me Nokwanda Siyengo, die SciMathUS-programbestuurder. “Die goeie resultate wat deur ons 2020-klas behaal is, is steeds ʼn inspirasie vir die personeel. Dit verheug ons wanneer studente die geleentheid neem om hulself te rehabiliteer deur harde werk en ywer. Ons is baie trots op die klas van 2020 wat sterkte en geeskragtigheid aan die dag gelê het terwyl die hele wêreld in vrees van die pandemie verkeer het. Hulle is ʼn ware toonbeeld van hoop, motivering en sukses."

Doktor Janina Theron, ʼn fasiliteerder by SciMathUS sê: “Na ʼn uitdagende en stresvolle jaar het die matriekklas van 2020 die begin van hierdie jaar in angstige afwagting uitgesien na die 23ste Februarie; die dag waarop die uitslae van die Nasionale Seniorsertifikaat (NSS) bekend gemaak is. Vir die SciMathUS-studente, was dit nie anders nie. Alhoewel die jaar nie volgens plan verloop het nie, en ons studente noodgedwonge moes terugkeer huis toe ná slegs ʼn paar weke op kampus, het geeskragtigheid en deursettingsvermoë die oorwinning behaal."

Theron voeg by dat die slaagsyfer vir Wiskunde met 19,4% verbeter het, Fisiese Wetenskappe met 15,9% en Rekeningkunde met 20%. “Van die 104 studente wat aan die einde van 2020 twee van hierdie vakke herskryf het, het Mthombeni sy Wiskunde- en Fisiese Wetenskappe-punte verbeter met onderskeidelik 29 en 28 persentasiepunte om sy finale punte van 91% en 98% te behaal. Hierdie welsprekende student aan die drempel van sy akademiese loopbaan sal beslis sukses behaal soos hy deur sy harde werk en toewyding by SciMathUS getoon het."


Meer oor die program:

Studente het die geleentheid om hul NSS-punte in Wiskunde en Fisiese Wetenskappe te verbeter. Hulle kan ook kies om in te skryf vir die Rekeningkunde-stroom waar die vakke Wiskunde en Rekeningkunde herskryf sal word. Afgesien van hierdie kernvakke, het studente die geleentheid om interpersoonlike- en probleemoplossingsvaardighede in die vak Akademiese Geletterdheid te ontwikkel. Hiermee saam word ʼn Rekenaargeletterdheidsheidskursus ook aangebied.

Deur die afgelope 20 jaar het 1696 studente die SciMathUS-program voltooi. Onder sy alumni het 348 studente grade aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf tussen Desember 2005 en Desember 2019. Daar het sover drie studente hul PhD-grade verwerf. In 2020 (uitsluitend die April 2021-gradeplegtigheid) het 30 SciMathUS-alumni met ʼn eerste kwalifikasie en nege met ʼn tweede kwalifikasie aan die US gegradueer.

Die 2021-aansoeke vir die program sluit op 8 Maart. Om vir hierdie program vir 2021 in aanmerking te kom, moet studente in 2019 of 2020 gematrikuleer het. Verder moet hulle 'n graad 12-gemiddeld van 60% hê (uitsluitend Lewensoriëntering) en 'n minimum van 50% vir hul Huistaal of Eerste Addisionele Taal hê.

Vir die Wetenskapstroom moes studente 'n minimum van 45% in Wiskunde en 45% in Fisiese Wetenskappe behaal het. Vir die Rekeningkundestroom moes studente 'n minimum van 45% in Wiskunde en 45% in Rekeningkunde behaal het. Studente wat belangstel om aansoek te doen, kan die webwerf besoek by http://www.sun.ac.za/english/faculty/education/suncep/university-preparation-programmes-(upp)/scimathus


Mthombeni is onlangs gevra om sy aspirasies sowel as geheim tot sy sukses te deel.

Hoe het jy dit deur die grendeltyd gemaak?

Op akademiese vlak het ek begin deur vir myself te sê: 'Die beste ding wat jy kan doen, is om voor die klas te bly, doen dit.' En daarin het ek misluk. Plan B was om toe te sê 'aangesien jy nie vooruit kan kom nie, laat ons probeer om so goed as moontlik by te bly.' Dit het eerlikwaar gewerk. Daar was natuurlik dae waar ek net wou ontspan het of waar takies rondom die huis my vertraag het. Vir daardie dae het ek gefokus daarop om gedissiplineerd te bly en so gou as moontlik die werk in te haal.

Op ʼn emosionele vlak ondersteun my liggaamlike welstand my geestelike welstand. Toe ek in Stellenbosch aangekom het verlede jaar, het ek begin oefen en gereeld na die gimnasium gegaan. Toe ek daarna moes huis toe gaan, het ek die klein spasie in my kamer gebruik vir oefening. Ek het ook met my vriende begin draf toe die beperkings opgehef is. Dit was asemrowend. Ons het elke dag vordering gesien wat ons gemotiveerd gehou het. Ek het myself afgevra: 'As jy so ver kan kom, hoeveel verder kan jy nie gaan nie?' Ons het begin om doelwitte te stel vir die week, en dit het ʼn manier geword om myself te druk en my gedagtes aan te skakel. Ná ʼn drafsessie was my gedagtes skerp wanneer ek weer gaan sit het om te werk.

Wie was jou grootste steun?

My twee beste vriende. Die twee met wie ek gedraf het. Ons het eintlik ontmoet toe ons kleuters was en ons hele skoolloopbaan saam deurgemaak. Ná ons in 2020 geskei het om ons verskillende weë te volg, het die grendeltyd in Maart 2020 ons weer bymekaar gebring. Ons was drie vriende met 'n gedeelde visie om ons drome te verwesenlik. 'n Droom is nutteloos as jy jouself dit kan voorstel, maar niks doen om dit te laat realiseer nie. Ons het met 'n paar mal idees vorendag gekom, maar is dit nie die mal mense wat die wêreld verander nie?

Wie is jou rolmodel?

Deur my belangstelling in entrepreneurskap het ek die boek gelees wat my lewensuitkyk verander het, Unscripted: Life Liberty and the Pursuit of Entrepreneurship, van M. J. DeMarco. Entrepreneurs skep werk wat mense kan help om probleme op te los en hul lewens te leef. Ek het by 'n restaurant gewerk. Een van die kelners het 8 jaar daar gewerk. Hy was mal oor sy werk. Dit was genoeg vir hom om sy kinders skool toe te neem, te trou en die lewe te lei wat hy wil hê. My rolmodel is die Suid-Afrikaanse sakeman en entrepreneur, Vusi Thembekwayo. Hy praat oor die soeke na ondernemingsgeleenthede wat aan die einde van die dag werksgeleenthede, 'n beter lewenspeil en 'n beter land sal skep. Hy is 'n katalisator vir verandering in die Suid-Afrikaanse sakebedryf. Hy het soveel idees en ek voel asof ek hom verstaan. Hy het my geïnspireer om entrepreneurskap na te streef om sodoende mense te help.

Watter raad het jy vir die SciMathUS 2021-groep?

Ek gaan nie die waarheid probeer versuiker nie. Geniet dit. Maar aan die einde van die dag moet jy onthou waarom jy daar is. Jy is daar om beter te doen. Jy moet dus beter werk, jy moet harder werk. Om op die laaste oomblik te dril vir ʼn eksamen gaan nie werk nie. Werk hard, werk slim. Gaan sit en studeer elke dag. Ken jou droom. Daar is 'n gesegde waaraan ek myself moes herinner toe ek lui of ongeïnspireerd gevoel het: Offer op vir dit wat jy wil hê, anders word dit wat jy wil hê, die opoffering. Moenie jouself beperk nie. Toe ek by SciMathUS begin het, het ek geen idee gehad dat ek eendag 91 en 98 sou hê vir vakke wat vir my so moeilik was nie, vakke wat my dwarsdeur my hoërskoolloopbaan gekwel het. Toe ons by SciMathUS aangekom het, het ons mentor gesê: 'Ons sweet op die oefenveld sodat ons nie sal bloei op die slagveld nie.'

Wat is volgende?

Op die oomblik is ek in Huis Visser aan die Universiteit van Stellenbosch. Ek is aanvaar tot BSc in Menslike Lewenswetenskappe. Die grootste bekommernis van 'n chirurg is chirurgie. Ek wil die persoon wees wat die navorsing doen oor die manier waarop die menslike liggaam en gees gekoppel word, sodat beter maatreëls vir rehabilitasie, versorging, voorkoming en genesing ontwikkel kan word. Ek wil deel wees van die skep van innoverende tegnologie om produkte en dienste wat aan die publiek gelewer word, te verbeter. Ek wil graag 'n rol as leier hê met interessante en innoverende idees en opinies. Om saam te vat, wil ek die graad behaal, navorsing doen, en innoveer op die gebied van die wetenskap.