Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
FGGW-bemarking stel baanbrekende kommunikasie-inhoudsentrum bekend
Outeur: FMHS Marketing & Communications / FGGW Bemarking & Kommunikasie
Gepubliseer: 15/02/2021

Die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) het ʼn splinternuwe bemarking-en-kommunikasie-inhoudsentrum bekend gestel, wat ten doel het om omvattende bemarkingsteun aan FGGW-personeellede en -studente te bied.

Me Ronel Bester, die FGGW se strategiese bemarkingsbestuurder, het gesê die inhoudsentrum is ʼn betekenisvolle hoogtepunt in die Fakulteit se bemarkingspogings. “Ons meen hierdie digitale inhoudsentrum sal van groot waarde vir die Fakulteit se 4 500 studente en 1 500 personeellede wees. Dit bied nie net ʼn intuïtiewe stel dienste oor die bemarkings- en kommunikasiespektrum heen nie, maar ook ʼn oorsig van ons belangrikste bemarking- en inhoudsbates. Dit is ʼn waardevolle toevoeging tot ons bemarkingspogings omdat dit die Fakulteit se werk ook op ʼn doeltreffende wyse ondersteun."

Die bemarking-en-kommunikasie-inhoudsentrum bied personeellede en studente van die FGGW se 15 akademiese departemente en 18 sentrums, buro's en institute toegang tot ʼn veelheid van verskillende bemarkings- en kommunikasiemeganismes. Dit is die bestemming vir bemarkingsmateriaal en riglyne, insluitende web-gasheerskap en ontwikkelingsprotokolle (byvoorbeeld hoe om jou eie webbladsy te skep en by te hou), deur gebruik te maak van die Fakulteit se sosialemedia-rekeninge, handelsmerkriglyne (byvoorbeeld om die Fakulteit en die Universiteit se logo's op enige materiaal te gebruik), inligting oor hoe om nuusstories gepubliseer te kry en die Fakulteit se lys van bemarkingsdiensverskaffers. Voorts kan gebruikers meer as 50 foto's aflaai wat ʼn wye verskeidenheid van die Fakulteit se aktiwiteite verteenwoordig.

Mev Florence de Vries, korporatiewe kommunikasie- en handelsmerkkoördineerder in die Afdeling Bemarking en Kommunikasie, was aan die spits van hierdie jaar lange projek wat ten doel het om akademiese en ondersteuningspersoneel en studente toe te rus om hul navorsing, inisiatiewe en geleenthede optimaal te bemark, te bevorder en te deel. “In ʼn instelling wat so oud soos ons s'n is, is dit heeltemal moontlik dat inhoud tegelykertyd orals en nêrens is nie. Oor die verloop van baie jare het verskillende mense verskillende lêers in verskeie formate en liggings gestoor. Hierdie inhoudsentrum is ʼn verkenningstog van die volledige digitale ryk waarin ons onsself bevind, terwyl verseker word dat ons personeel en studente so doeltreffend as moontlik met ons Afdeling kan saamwerk."

Die bemarking-en-kommunikasie-inhoudsentrum bied ook ʼn omvattende blik op die FGGW se reikwydte wat aanlyn en ander publikasies betref. Mev Hermien Nel, digitale kommunikasiekoördineerder in die Afdeling Bemarking en Kommunikasie, het die tegniese aspek van die bou van die platform gelei. “Die inhoudsentrum se statistiekbladsy bied ʼn bondige oorsig van die Fakulteit se algehele status in die sosiale, aanlyn en tradisionele mediaruimte, wat nogal fassinerend is. Gebruikers sal die getal besoekers en bladbesigtigings vir elk van ons publikasies en platforms kan sien, met inbegrip van Vivus, Impromptu en die Fakulteit se jaarlikse publikasie, wat ons meen verdere stukrag bied vir personeellede en studente om op ʼn positiewe wyse tot die uitmuntende uitset van hierdie Fakulteit by te dra."

Die totstandbrenging van die inhoudsentrum maak deel uit van die FGGW se strategiese visie om die voorste navorsingsintensiewe gesondheidswetenskappe-fakulteit in en vir Afrika te wees. “Deur hierdie naaf te skep, bied ons ʼn bestemming aan al ons belanghebbers wat hul werk operasioneel én strategies sal help orden en vereenvoudig," het Bester gesê. 

Aanmeldbesonderhede van die Universiteit Stellenbosch is nodig om by die inhoudsentrum aan te meld. Besoek www.sun.ac.za/FMHScontenthub vir meer inligting.