Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US-wynnavorser ontvang Franse ridderskap
Outeur: Engela Duvenage
Gepubliseer: 08/02/2021

Die Franse regering het vir wynmikrobioloog prof. Benoit Divol van die Universiteit Stellenbosch met 'n seremoniële ridderskap, die Chevalier dans l'Ordre du Mérite Agricole (of Ridderskap in die Orde vir Landbou) vereer.

Die Orde is die eerste keer in 1883 in plek gestel. Prof. Divol is die enigste persoon met Suid-Afrikaanse bande wat in 2020 dié Franse merietetoekenning ontvang het. Dit erken sy wetenskaplike bydraes en sy suksesvolle pogings om samewerking tussen navorsers in Suid-Afrika en Frankryk op die gebied van wingerd- en wynkunde te bewerkstellig.

Hy is 'n medeprofessor in die US Departement Wingerd- en Wynkunde en 'n navorser verbonde aan die Suid-Afrikaanse Wingerd- en Wynnavorsingsinstituut aan die Universiteit Stellenbosch (US).

Prof. Divol is in Parys in Frankryk gebore, en het ook daar grootgeword. Hy het in 2004 sy PhD in wynkunde aan die Nasionale Politegniese Instituut van Toulouse verwerf, en 'n DSc van die Universiteit van Bordeaux in 2010.

Hy is reeds sedert 2005 aan die US verbonde, nadat hy as nadoktorale navorser by die destydse Instituut vir Wynbiotegnologie aangesluit het. Sedertdien het hy reeds as voorsitter van die Departement Wingerd- en Wynkunde gedien, en is in 2017 tot medeprofessor bevorder.

“Die ridderskap is bloot seremonieel van aard. Ek voel egter geëerd omdat dit my werk erken, en spesifiek in verband met my pogings om akademiese skakeling tussen Frankryk en Suid-Afrika te bewerkstellig," sê prof. Divol.

Onder dié inisiatiewe tel navorsingsvennootskappe, interaksie op nagraadse vlak, navorsingsgeleenthede vir studente en wetenskaplikes na albei lande, en gesamentlike PhD-studies tussen die Universiteit Stellenbosch en die Universiteit van Boergondië, die Nasionale Politegniese Instituut van Toulouse, die Universiteit van Bordeaux en die Universiteit van Montpellier. Prof. Divol het ook reeds befondsing vir van sy navorsing vanaf bedryfsvennote in Frankryk ontvang.

“Op 'n persoonlike vlak is ek natuurlik dankbaar oor die brûe wat tussen Frankryk en Suid-Afrika gebou word. Ek glo dit bied uitstekende geleenthede vir die professionele en persoonlike verryking van my studente, en dat die bande wat ek help smee help om die internasionale aansien van die US Departement Wingerd- en Wynkunde en die Suid-Afrikaanse Wingerd- en Wynnavorsingsinstituut uit te brei," voeg hy by.

Prof. Divol is 'n wynmikrobioloog en ook 'n gekwalifiseerde wynmaker. Sy navorsing fokus op verskillende giste en ensieme wat gedurende die wynmaakproses betrokke is.

Saccharomyces gis word veral in die voedsel- en drankbedryf gebruik omdat dit suikers maklik omsit na koolstofdioksied en alkohol, en terselfdertyd 'n wye reeks geurkomponente produseer. Saccharomyces cerevisiae gis word tipies in die fermentasieproses gebruik. Prof. Divol se navorsing fokus egter op ander soorte giste wat nie in die Saccharomyces-groep val nie. Hy bestudeer hoe hulle voedingstowwe gebruik en die komposisie van wyn kan beïnvloed. Saam met sy studente bestudeer hy ook hoe ander soorte giste op 'n sellulêre en molekulêre vlak reageer wanneer hulle aan druiwesap of wyn blootgestel word. Sy navorsingspan probeer hidrolitiese ensieme en selwandproteïene identifiseer wat van waarde in die wynmaakproses kan wees. Hulle bekyk ook maniere hoe om nie-Saccharomyces giste te verbeter deur ander tegnieke buiten genetiese modifikasie te gebruik.

“Die bestudering van nie-Saccharomyces giste het wêreldwyd maar eers sowat twee dekades gelede begin," vertel prof. Divol. “Hierdie soorte giste is geneig om nie so goed soos Saccharomyces cerevisiae aangepas te wees om die hele fermentasieproses te oorleef waartydens druiwesap in wyn omgeskakel word nie. Tog bly dit belangrik om hulle te bestudeer, omdat hulle ook belangrike eienskappe bevat."

Hy glo dit kan gebruik word om Saccharomyces-lyne in die wynmaakproses te ondersteun, en dat die gebruik van hierdie bykomende opsies die geleentheid bied om nuwe wynmaakstyle te ontwikkel wat deur liefhebbers geniet kan word. Die gebruik van nie-Saccharomyces gisspesies kan dalk ook help om die wynmaakproses meer omgewingsvriendelik te maak, en selfs die gebruik van chemikalieë beperk.

Oor die jare is talle soorte gis reeds gekommersialiseer danksy navorsing wat by die Universiteit Stellenbosch gedoen is. Prof. Divol en sy span verwag dat nog een, wat danksy hul werk geïdentifiseer is, binne die volgende jaar of wat kommersieel vir gebruik deur die bedryf beskikbaar sal wees.