Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Navorsingsbrongoskopie-suite ontsluit belangrike navorsingsgeleenthede
Outeur: FMHS Marketing & Communications / FGGW Bemarking & Kommunikasie - Birgit Ottermann
Gepubliseer: 26/01/2021

Die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) het onlangs die bekendstelling van die Biomediese Navorsingsinstituut (BMRI) Navorsingsbrongoskopie-suite gevier, wat in die Afdeling Molekulêre Biologie en Mensgenetika gehuisves is.

"Die BMRI Navorsingsbrongoskopie-fasiliteit sal die weg baan vir siekteliggingsnavorsing vir longsiektes, veral tuberkulose," het prof Gerhard Walzl, hoof van die Afdeling Molekulêre Biologie en Mensgenetika gesê tydens die bekendstelling.

“Die uitstekende ligging van die fasiliteit binne onmiddellike bereik van die nuwe BMRI-gebou se laboratoriums en gevorderde navorsingsgroepe in mikrobakteriologie, immunologie en genomika, asook die nabyheid van gevestigde gemeenskapsnavorsingsomgewings met ʼn hoë voorkoms van TB, ontsluit groot navorsingsgeleenthede van internasionale belang."

Die nuwe teater is toegerus met 'n Fujifilm Eluxeo Lite System Eluxeo Lite-verwerker met multi-lig-tegnologie, gevorderde infeksievoorkomingsfunksies en 'n volledig toegeruste ontvangs- en herstelarea.

Volgens dr Fanie Malherbe, hoof-mediese beampte van die Molekulêre Biologie Kliniese Navorsingseenheid, het die FGGW al vir meer as tien jaar in samewerking met die Tygerberg Akademiese Hospitaal brongoskopies gedoen.

“Die aanvraag het egter so toegeneem dat ons ons eie fasiliteit benodig het. Ons het verskeie groot internasionale navorsingstoekennings wat brongoskopies vereis, maar omdat ons die fasiliteit met die hospitaal gedeel het, het pasiënte natuurlik eerste gekom en ons navorsingsprosedures moes wag."

Om die saak verder te bemoeilik, het die Covid-19-pandemie gelei tot 'n totale stilstand in navorsingsbrongoskopies aangesien die teaterruimte vir pasiëntesorg benodig is.

“Dit was duidelik dat ons ons eie ruimte nodig het. Ten einde navorsing te laat voortgaan en onafhanklikheid van die hospitaal te verkry, het die universiteit 'n brongoskopie-fasiliteit binne die fakulteit gevestig. Ons het ons eerste prosedure op 10 Desember 2020 suksesvol in ons nuwe teater uitgevoer."

Volgens Walzl is 'n brongoskopie 'n gevestigde, relatief veilige endoskopiese prosedure waar 'n kamera in 'n segment van die long geplaas word en 'n soutoplossing ingespuit word om immuunselle te versamel vir ondersoek.

“Brongoskopies is belangrik vir die bestudering van tuberkulose, aangesien die long beide die primêre plek van infeksie en bron van oordrag is. Die siekteligging reaksies verskil van die perifere bloedreaksies. Dit help nie om net onder ʼn straatlig na ʼn verlore sleutel te soek nie. Soms moet ʼn mens wyer kyk. Dit is om hierdie rede dat die studie van siekteligging reaksies al hoe belangriker word," verduidelik hy. “Die long het ook 'n alveolêre makrofaag-populasie wat ʼn deurslaggewende faktor kan speel in die uitkoms van baie lugweginfeksies. Die rede hoekom die long so anders is, is dat sy primêre funksie is om asem te haal, nie om infeksie te beveg nie. Die long moet 'n baie versigtige balans handhaaf tussen sy gaswisselingsvermoë en die bestryding van indringers. Sommige patogene soos TB misbruik dit."

“Tuberkulose is een van die grootste wêreldwye pandemies, met 'n reuse impak op ons land en ons kontinent," het prof Nico Gey van Pittius, vise-dekaan vir navorsing en internasionalisering van die FGGW, tydens die bekendstelling gesê.

“Ons het 'n sterk bewese rekord van TB-navorsing, geniet uitgebreide internasionale samewerking en is huisves die DWT/NNS Sentrum van Uitnemendheid vir Biomediese Tuberkulose-navorsing asook die MNR Sentrum vir Molekulêre en Sellulêre Biologie. Ek is opgewonde om te sien hoe hierdie nuwe brongoskopie-fasiliteit ons navorsingspogings in die toekoms sal ondersteun."

Prof Eugene Cloete, US vise-rektor vir navorsing, innovasie en nagraadse studies, het die Molekulêre Biologie Kliniese Navorsingseenheid gelukgewens met hul nuwe inisiatief. “Die navorsingsbrongoskopie-suite sal voorpunt-navorsing op siekteliggingsmonsters van verskeie siektetoestande, insluitend tuberkulose, verseker. Dit maak deel uit van 'n kontinuum van hoëtegnologiese navorsingsinfrastruktuur wat ook die PET/CT-fasiliteit, wat ons in 2019 van stapel gestuur het, die Biobank-eenheid en die immunologielaboratoriums in die BMRI insluit. Ek wens die span alles van die beste toe. Mag daar baie produktiewe ure in hierdie nuwe navorsingsfasiliteit spandeer word."

* Kyk na 'n opname van die bekendstelling op YouTube.


Onderskrif: Dr Donald Simon neem gaste op 'n toer van die nuwe BMRI Navorsingsbrongoskopie-suite tydens die opening.