Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US betreur afsterwe van prof Mohammad Karaan
Outeur: Corporate Communication and Marketing / Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 13/01/2021

​​Die Universiteit Stellenbosch (US) het met leedwese kennis geneem van die afsterwe van prof Mohammad Karaan (52), 'n voormalige Dekaan van die Fakulteit AgriWetenskappe wat ook in ʼn stadium as Viserektor: Gemeenskapsinteraksie en Personeel waargeneem het. Ten tye van sy dood op 13 Januarie 2021 was hy ʼn professor in Landbou-ekonomie aan die US en President van die Maties Rugbyklub.

“Dis werklik skokkende nuus om van prof Karaan se ontydige afsterwe te hoor. Hy was 'n besonder gewaardeerde en geliefde kollega wat diep spore getrap het – nie net by die US nie, maar ook nasionaal en internasionaal," het prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier, gesê.

Prof Karaan het help skryf aan Suid-Afrika se Nasionale Ontwikkelingsplan tydens die twee termyne wat hy lid van die Nasionale Beplanningskommissie was.

Fakulteit AgriWetenskappe

“Ons eer sy nagedagtenis as besondere leier, versoener, invloedryke landbouman en vriend," het prof Danie Brink, huidige Dekaan van die Fakulteit AgriWetenskappe, gesê.

“Sy dood is 'n groot verlies vir die landbougemeenskap van Suid-Afrika in die breë, en ook spesifiek vir ons fakulteit. Deur sy menswees het hy belanghebbendes vanuit verskeie kringe byeen gebring. Sy hart was in landbou, en hy het onverpoosd gewerk om dit uit te bou."

Prof Brink sê die fakulteit sal prof Karaan onthou vir sy meelewendheid, die vertroue wat hy in studente, kollegas en persone om hom gestel het, asook sy insig en vermoë om ingewikkelde sake te ontrafel.

“Sy visie vir die fakulteit, die Universiteit, vir landbou en vir Suid-Afrika het 'n blywende impak gehad."

In sy loopbaan het prof Karaan onder meer as Voorsitter van die Nasionale Landboubemarkingsraad, die Ministeriële Komitee vir Landboubemarking in Suid-Afrika en die Ministeriële Komitee wat die Suid-Afrikaanse Wynbedryftrust ondersoek het, gedien, asook as 'n raadgewer vir die Parlementêre Portefeuljekomitee vir Landbou.

Maties Sport

“Ons gaan sy leierskap, geduld, ongelooflike vermoë om te luister en sy redelikheid mis," het me Ilhaam Groenewald, Hoofdirekteur: Maties Sport, gesê.

“Hy het ons toegelaat om anders te dink, en ons in uitdagende tye aangemoedig om vorentoe te kyk. Hy het groot drome vir Maties Rugby gehad, veral vir die rol wat die Universiteit speel in die ontwikkeling van rugby deur die fokus op afrigteropleiding en gemeenskapsontwikkeling te plaas."

“Dis werklik 'n baie groot verlies en ons harte gaan uit na sy familie in hierdie bitter hartseer tyd," het prof De Villiers gesê.

Prof Karaan word oorleef deur sy vrou, Basheerah, en kinders Zayne, Kamilah, Tauriq, Burhan en Adam.

Meer oor prof Karaan

Prof Karaan het al sy kwalifikasies aan die US verwerf: 'n BSc (Agric)-graad in 1990, 'n MSc (Agric) in 1994, en 'n PhD (Agric) in 2006.

Hy het sy loopbaan as ekonoom by die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika begin, voordat hy na Stellenbosch teruggekeer het as navorsingshoof van die destydse Landelike Stigting.

In 1996 het hy by die US begin doseer in landbou-ekonomie. In 2008 is hy as Dekaan van die Fakulteit AgriWetenskappe aangestel, en in 2013 is hy vir ʼn tweede termyn aangestel. In 2014/5 het hy waargeneem as Viserektor: Gemeenskapsinteraksie en Personeel, soos dié rektoraatsportefeulje destyds bekendgestaan het.

Hy het sedert 2010 twee termyne as lid vir landbousake op die Nasionale Beplanningskommissie (NBK) gedien. In hierdie hoedanigheid het hy 'n toonaangewende rol gespeel in die skryf van 'n hoofstuk in die Nasionale Ontwikkelingsplan – Visie 2030 oor hoe 'n geïntegreerde en inklusiewe landelike ekonomie tot stand gebring kan word.

Voor sy afsterwe was hy ook lid van die presidensiële interministeriële komitee oor grondhervorming, en is hy onlangs vir nog 'n termyn as bestuurskomiteelid van die Buro vir Ekonomiese Ondersoek aangewys.

Hy het deur die jare onder meer eerbewyse vir sy bydrae tot die landbou ontvang van Agbiz, Agri SA en Landbouskrywers SA.


Virtuele gedenkdiens:

'n Virtuele gedenkdiens sal op Donderdag, 28 Januarie 2021, om 10:00 gehou word. Klik hier om toegang tot die diens te kry.