Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Alles wat mooi is vir 2021
Outeur: Wim de Villiers
Gepubliseer: 07/01/2021

Beste lede van die Universiteitsgemeenskap
 
Hoe vinnig vlieg die tyd nie! Die nuwe jaar is reeds ’n week oud, so laat ek julle dus dadelik alles wat mooi is vir 2021 toewens. Dis nie net lippetaal nie – as ons enigiets die afgelope 12 maande geleer het, is dit dat die lewe regtig kosbaar is. Mag vanjaar ons almal goed behandel.
 
Die Universiteit Stellenbosch (US) het Maandag heropen ná 'n blaaskans aan die einde van verlede jaar, en sommige personeellede en studente is reeds hard aan die werk. Ander benut die geleentheid om nog ’n bietjie uit te rus vir die jaar, wat ongetwyfeld ewe uitdagend as 2020 gaan wees – indien nie meer nie.
 
Ons het met leedwese kennis geneem dat ’n aantal personeellede, studente en ander lede van die uitgebreide Universiteitsfamilie ongelukkig gedurende die vakansie oorlede is. Ons is baie hartseer hieroor en betuig graag ons innige simpatie aan hul geliefdes.
 
Die koronaviruspandemie saai steeds wêreldwyd verwoesting en ontsien niemand nie. Die goeie nuus is dat ’n aantal entstowwe ontwikkel is (ons is trots op die US se bydrae tot een van die studies;
klik hier om meer te lees), en hopelik sal Suid-Afrika eerder vroeër as later billike toegang kry. Laat ons egter intussen waaksaam bly en alle voorskrifte nakom. Dit moet elkeen se hoofoogmerk wees om die verspreiding van COVID-19 te help bekamp.
 
Soos ek in Desember gerapporteer het (
klik hier), het ons Universiteit in 2020 onder moeilike omstandighede baie goed gevaar. Weer eens baie dankie aan elkeen vir hul onbaatsugtige bydraes. En geluk aan almal wat ondanks alles suksesvol was.
 
Ons oorkoepelende prioriteite gaan vanjaar dieselfde bly as verlede jaar: om sukses met die akademiese projek te behaal en om volhoubaar te bly as ’n toonaangewende hoëronderwysinstelling.
 
Soos ons verlede week in ons verduideliking van die implikasies van die nuwe vlak 3-regulasies vir die US gesê het (
klik hier), hoop ons om alle Universiteitsaktiwiteite so ver en sou gou as moontlik te hervat – binne die beperkings wat COVID-19 inhou, natuurlik. Die gesondheid en veiligheid van ons personeel en studente geniet voorrang.
 
Die nuwe regulasies verstryk op 15 Januarie, maar soos die president in sy toespraak op 28 Desember aangedui het, sal die maatreëls dán hersien word op grond van die stand van die pandemie in die land.
 
Die US se Institusionele Komitee vir Bedryfsvoortsetting (IKBV) vergader op 18 Januarie sodat ons alle tersaaklike kwessies versigtig kan oorweeg en weldeurdagte besluite oor die pad vorentoe vir die Universiteit kan neem. Wees gerus dat ons julle op hoogte sal hou.
 
Nie een van ons kan die toekoms voorspel nie, maar ons kan krag put uit die wete dat ons daar sal wees vir mekaar, wat ook al mag gebeur. Kom ons gaan saam vorentoe, masiye pamphili, forward together!
 
Prof Wim de Villiers
Rektor en Visekanselier​