Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Studente kry geleentheid om 21ste-eeuse vaardighede aan te leer
Outeur: Wim de Villiers
Gepubliseer: 05/01/2021

Hierdie meningsartikel is op 4 Januarie 2021 in Beeld gepubliseer (klik hier vir die oorspronklike weergawe).

* * *

Verlede jaar was taai, en die hoër onderwys gaan vanjaar ongetwyfeld weer voor groot hindernisse te staan kom, maar die uitdagings wat met COVID-19 gepaardgaan, bied studente ook die geleentheid om broodnodige vaardighede aan te leer vir ons tydvak, wat gekenmerk word deur wisselvalligheid, onsekerheid, kompleksiteit en dubbelsinnigheid, skryf Wim de Villiers*.

Met 2021 wat pas begin het, dring dit tot 'n mens deur hoe vinnig en ingrypend alles verander het. Dít geld feitlik vir elke aspek van ons lewens, maar uit my verwysingsveld, veral die hoër onderwys en spesifiek die instelling waar ek werk, die Universiteit Stellenbosch (US).

Toe die koronaviruspandemie ons vroeg in 2020 getref het, is al die planne wat ons vir die jaar gemaak het, onmiddellik vervang met slegs twee prioriteite – om die akademiese jaar suksesvol af te handel en om die volhoubaarheid van ons instelling te verseker. En ek moet sê, dit bly 'n inspirasie om te sien hoe die hele Universiteitsgemeenskap in reaksie op die krisis saamgestaan het.

Spanpoging

Seker die belangrikste verwikkeling aan die US was ons blitssnelle oorskakeling na noodafstandsonderrig, -leer en -assessering. Kontakonderrig is in die middel van Maart opskort en teen die einde van April is klasse aanlyn hervat. Wat ons beplan het om in vyf jaar te doen (om e-leer geleidelik uit te brei), moes ons noodgedwonge in vyf weke afhandel!

Dit was ʼn groot spanpoging. Elkeen het sy deel gedoen – van die dosente, wat hul kursusse moes hersaamstel en studente, wat skielik daaraan gewoond moes raak om aanlyn klas te draf en eksamen te skryf, tot tegnici wat oorlaaide stelsels in rekordtyd moes opgradeer, en bestuurders, wat dinge aan die gang moes hou, kom wat wil.

ʼn Groot uitdaging waardeur alle universiteite uit die staanspoor in die gesig gestaar is, was die digitale kloof tussen dié met toegang tot 21ste-eeuse inligtings- en kommunikasietegnologie en dié daarsonder.

Ons het dadelik 1 800 skootrekenaars aangekoop en per koerier na studente wat aangedui het hulle benodig dit, gestuur (dit was onder vlak 5-inperkings, so ons moes spesiale toestemming vir aflewerings kry).

Ons het ook data aan ons studente te verskaf vir toegang tot die internet. Die hoëronderwyssektor het gesamentlik ʼn ooreenkoms met selfoonmaatskappye beding, maar dit was steeds 'n groot uitgawe. Gelukkig kon die US Raad reserwes vir onvoorsiene kostes beskikbaar te stel.

Stigtings wat hoëronderwysinstellings steun, het bykomende bydraes gemaak vir die oorskakeling. Dít het ons in staat gestel om 'n verskeidenheid buitengewone intervensies vir omvattende akademiese en psigososiale steun te bied.

Daar is onder meer opleidingsessies vir dosente aangebied en hulle is bygestaan om hul kursusmateriaal vir aanlyn klasse om te skakel. Dit was harde werk, en hulle het baie oortyd ingesit – en ook hul vakansie opgeoffer.

Studente het baie inligtingshulpbronne gekry, asook bykomende taalbystand en tutorsessies. Maar maklik was dit nie. Hulle het dalk met digitale toestelle en die internet grootgeword, maar dit het steeds kophou en vasbyt geverg om kwartpad deur hul studiejaar na die kuberruim te migreer.

En net toe ons dink dinge is onder beheer, word die ligte afgeskakel. Beurtkrag in September 2020 kon skaars op 'n slegter tyd gekom het – toe die akademiese jaar spoed optel met opdragte en assesserings waarvoor internetverbinding onontbeerlik is.

Die jaar het beslis sy tol geëis. Ons afdelings wat psigososiale steun bied, het ʼn groter vraag ervaar. Dit was moeilik en dit is belangrik om te erken daar was tekortkominge. Anders gaan ons nie verbeter nie. Ons het goed gedoen, gegewe die uitdagings, maar talle student en personeellede het die prys betaal.

21ste-eeuse vaardighede

Daar is egter ook 'n breë silwer rand. Studente moes nie net vakkennis baasraak nie – meer as ooit moes hulle ook leer om aanpasbaar te wees, druk te hanteer, innoverend en kreatief te wees, met ander mense te kommunikeer en saam te werk en vasberadenheid en deursettingsvermoë te openbaar.

Vanjaar was propvol geleenthede om 21ste-eeuse vaardighede aan te leer – en dit behoort die Klas van 2020 gesog te maak in 'n arbeidsmark wat weliswaar onder druk is, maar juis daarom 'n premie plaas op die vermoë om wisselvalligheid, onsekerheid, kompleksiteit en dubbelsinnigheid te hanteer (die sogenaamde VUCA-uitdagings: volatility, uncertainty, complexity, ambiguity).

Ons somergradeplegtighede van 14 tot 16 Desember 2020 was 'n viering van akademiese uitnemendheid wat baie goed vir ons gemoedere was. Nie minder nie as 5 701 van ons studente het 'n gesogte kwalifikasie ontvang – wat merkwaardig is, gegewe die uitdagings van die jaar.

Ons het 3 409 voorgraadse kwalifikasies toegeken – die meeste tog nog toe in hierdie kategorie by ons Desember-plegtighede. Ons het ook 1 005 honneurs-, 502 meesters- en 138 doktorsgrade toegeken – 'n groot bydrae tot ontwikkeling in ons land, ons vasteland en die res van die wêreld.

Plek en mense

Ons handhaaf ook ons akademiese uitnemendheid. Volgens deurset-tabelle van die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding, is die US steeds die voorste universiteit in die land ten opsigte van studentesukses. Ons algehele sukseskoers vir voorgraadse modules (dit is studente wat hul modules slaag) staan op 87,2%.

Die US het verlede jaar die merkwaardige prestasie behaal om op drie ranglyste onder die voorste universiteite ter wêreld getel te word. Die Sjanghai-ranglys, Times Higher Education en US News & World Report. Hoewel ons allereers op akademiese en navorsingsuitnemendheid konsentreer, begryp ons die belang van ranglyste in die algehele opvatting van 'n instelling se statuur.

Daar word voorspel residensiële universiteite gaan noustrop trek namate die aanbod van hoër onderwys aanlyn toeneem. Ons ervaar egter die teenoorgestelde. Ons kon ons groei die afgelope vier jaar volhou. Totale aansoeke het met 29% gestyg, volledige aansoeke met 11% en voorlopige aanbiedinge aan voornemende studente met 10%. Dit is die grootste mosie van vertroue waarvoor enige universiteit kan vra.

Hoe verklaar mens dit? Met twee woorde: plek en mense. Dít is wat ʼn residensiële universiteit bied wat nie in die kuberruim nagedoen kan word nie.

Plek – die totale studente-ervaring, in ons geval in een van die mooiste dele van die land. Met die beste fasiliteite, buitemuurse ervarings soos min en 'n opwindende studentelewe.

En mense – toonaangewende navorsers en dosente plus omvattende studentsteun wat akademiese uitnemendheid in die klaskamer verseker, en terselfdertyd stimulerende blootstelling aan diverse idees daarbuite in ʼn omgewing vol jongmense van oor die land en wêreld heen.

Hibridiese leer

Maar ons kan nie op ons louere rus nie, want die wêreld verander vinnig. Covid-19 het 'n aanlyn omwenteling teweeg gebring, en universiteite moet bybly. Dit is hoekom ons beplan om kontakonderrig so gou moontlik vanjaar te hervat – tot die mate wat die koronavirus dit toelaat – maar aangevul deur aanlyn onderrig. Dié kombinasie staan as hibridiese leer bekend.

Sekere vakinhoud kan elektronies verpak word in die vorm van skyfievertonings, video's en klankopnames – materiaal wat studente gerieflik kan bemeester sonder om klas by te woon, waar en wanneer hulle wil.

Lesings en klasbesprekings bly egter belangrik, ondanks die komplikasie van Covid-19-beperkings op getalle. Gelukkig bied webkameras in klaskamers waarmee lesings regstreeks uitgesaai kan word 'n oplossing – wat ons ondersoek.

'n Toename in hibridiese leer kan ook 'n ander mark vir universiteite ontsluit – volwasse studente wat reeds werk en nie voltyds kan inskryf nie, maar wat kursusse wat elektronies verpak word aanlyn kan doen, aangevul met kort blokkontaksessies 'n paar keer per jaar.  

Die filosoof Alfred North Whitehead het gesê die kuns van vooruitgang is om orde te midde van verandering te handhaaf, en verandering te midde van orde. Dít was verlede jaar ons mantra, en sal ons help om verder saam vorentoe te gaan.

* Prof Wim de Villiers is die rektor en visekanselier van die Universiteit Stellenbosch, en ondervoorsitter van Universiteite Suid-Afrika, die liggaam wat die land se 26 openbare universiteite verteenwoordig.