Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Skool vir Rekeningkunde wen CIMA-toekennings vir uitnemendheid
Outeur: Daniel Bugan
Gepubliseer: 21/12/2020

​Die Skool vir Rekeningkunde aan die Universiteit Stellenbosch het verskeie prestasietoekennings vir uitnemendheid ontvang tydens die eerste toekenningsplegtigheid van die Geoktrooieerde Instituut vir Bestuursrekenmeesters (CIMA).

Die CIMA-toekennings word gemaak ter viering van uitstaande akademiese vennote, verskaffers van onderrig en studente wat die afgelope jaar beduidende bydraes tot die rekeningkundige beroep en die Instituut gelewer het. Hierdie toekennings beklemtoon die hoë gehalte van onderrig, navorsing en leer in rekenkundige onderwys regoor die wêreld.

Die Skool vir Rekeningkunde het onder meer die CIMA-toekenning vir uitnemendheid ontvang. Dié toekenning erken universiteitsvennote met toppresterende CIMA-studente in gevallestudie-eksamens. Die Skool het ook die CIMA Globale Uitnemendheidstoekenning ontvang wat erkenning gee aan universiteitsvennote wat die hoogste slaagsyfers in CIMA-eksamens behaal het.

Die Skool se CIMA-program fokus nie net op rekeningkundige kennis nie, maar berei studente voor vir 'n loopbaan in besigheid. Dit onderrig vaardighede met die oog op strategiese advies en besluitneming, asook risikobestuur.

Volgens Roelof Baard, senior dosent en leier van die program HonsBCom (Bestuursrekeningkunde) by die Skool vir Rekeningkunde, is die Skool dankbaar vir hierdie erkenning, aangesien die Skool lank reeds die CIMA-program aanbied.

“Ons is werklik geëerd dat ons verskeie CIMA-uitnemendheidstoekennings vir 2021 ontvang het. Ons is trots om met CIMA geassosieer te word en sien uit daarna om in die toekoms met die beroep saam te werk," het hy gesê.

Volgens Baard bevestig hierdie toekennings dat die Skool vir Rekeningkunde studente van hoë gehalte lewer; studente wat CIMA-eksamens slaag én gereed is vir die werkplek.

Andrew Harding, uitvoerende hoof van Bestuursrekeningkunde by CIMA, het gesê: “Die CIMA-prestasietoekennings vereer instellings en individue wat uitstaande bydraes tot die rekeningkundige beroep gelewer het en onvermoeid werk om hul studente te verryk, hulle die beste moontlike opvoeding te bied en die volgende generasie professionele rekeningkundiges voor te berei.

“Die twee CIMA-toekennings wat die Universiteit Stellenbosch ontvang het, is 'n ware bewys van sy toewyding tot die bou van die toekoms van ons beroep."

Dié prestasie plaas die Skool vir Rekeningkunde op gelyke voet met ander gesogte universiteite wêreldwyd wat ook verskeie CIMA-prestasietoekennings ontvang het. Dit sluit die Universiteite van Nottingham en Manchester in, asook die Warskou Skool vir Ekonomie.

CIMA het altesaam 40 streeks- en 71 wêreldwye prestasietoekennings tydens die virtuele plegtigheid op 11 Desember 2020 gemaak.

Die toekennings sal voortaan jaarliks geskied om diegene te erken wat 'n bydrae tot die wêreldwye rekeningkundige gemeenskap gemaak het en hul studente aktief ondersteun het om die kwalifikasie Geoktrooieerde Globale Bestuursrekenmeester te behaal.

Die toekennings word geborg deur die Vereniging vir Internasionale Gesertifiseerde Professionele Rekenmeesters, 'n globale rekenkundige organisasie wat deur CIMA en die Amerikaanse Instituut vir Gesertifiseerde Professionele Rekenmeesters gevorm is.

​CIMA is die wêreld se voorste – en grootste – professionele liggaam vir bestuursrekenmeesters. Sy lede en studente is oor 179 lande versprei.