Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US-dosent palm gesogte internasionale literêre prys in
Outeur: Corporate Communication and Marketing/Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking [Rozanne Engel]
Gepubliseer: 21/12/2020

​Dr Alfred Schaffer, 'n dosent aan die Department Afrikaans en Nederlands van die Universiteit Stellenbosch (US), het onlangs een van die jongste ontvangers ooit van die PC Hooft-prys, een van Nederland se mees gesogte letterkundetoekennings, geword toe hy as die 2021-wenner aangekondig is.

Schaffer, wat bekend is een van die talentvolste Nederlandse digters van sy tyd, het die prys ontvang vir sy poësie-oeuvre.

“Dit is 'n baie, baie groot eer en erkenning om die prys te ontvang – dit voel ietwat onwerklik. Dit is die hoogste lofbetuiging wat 'n skrywer, digter of prosaskrywer in Nederland kan ontvang," sê Schaffer.

Die prys, wat na die 17de eeuse Nederlandse digter, Pieter Corneliszoon Hooft, vernoem is, word elke jaar om die beurt aan 'n Nederlandse skrywer van vertellende prosa, beskouende prosa en poësie toegeken. Die PC Hooft-prys is 60 000 euros werd en sal in Mei 2021 oorhandig word.

Verskeie digbundels en prosaversamelings het al oor die jare uit Schaffer se pen verskyn. Dit sluit in Zijn opkomst in de voorstad (2000); Dwaalgasten (2002), wat vir die gesogte VSB-poësieprys genomineer is; Geen hand voor ogen ( 2004); Schuim (2006) en Kooi (2008). Sy werk is ook deur die jare in Afrikaans, Engels, Frans, Duits, Masedonies, Turks, Indonesies en Sweeds vertaal.

Sy werk is ook al met die gesaghebbende Jo Peters-poësieprys, die Hugues C Pernath-prys, die Ida Gerhardt-poësieprys en die Jan Campert-prys bekroon.

Volgens Schaffer geniet hy “absolute vryheid" om homself uit te druk wanneer hy besig is om te dig, en hy sien dit as 'n manier om “die wêreld rondom hom op 'n kreatiewe wyse te verstaan".

Alfred Schaffer.jpg

“Soos vir enige skrywer is taal my 'sneller', maar ek word ook geïnspireer deur die feit dat daar so baie goed is wat ek nie verstaan totdat ek kreatief daaroor geskryf het nie. Om 'n gedig te skryf is so wonderlik omdat ek nie weet wat die eindproduk gaan wees nie. Net soos die lewe, het die digkuns geen veronderstellings nie," sê Schaffer.

Schaffer het in Den Haag in Nederland grootgeword. Sy pa was Nederlands en sy ma Arubaans. Hy het Nederlandse Taal- en Letterkunde asook Film- en Teaterstudies in Leiden bestudeer. Hy het in 1996 na Kaapstad verhuis om sy nagraadse studie aan die Universiteit van Kaapstad voort te sit.

Hy het 2005 na Nederland teruggekeer, waar hy as 'n redakteur in die Nederlandse uitgewersbedryf gewerk het voordat hy in 2011 na Suid-Afrika teruggekeer het. Hy is tans 'n dosent by die Departement Afrikaans en Nederlands aan die US.

Afgesien daarvan dat hy sy eie poësie en prosa skryf, het Schaffer ook deur die jare 'n belangrike bydrae tot die Suid-Afrikaanse letterkunde gelewer deur plaaslike poësie aan 'n wyer gehoor bekend te stel deur werke van onder ander Antjie Krog, Ronelda Kamfer en Koleka Putuma in Nederlands te vertaal.

“Vertaling is alles. So baie Suid-Afrikaanse digters vertel dringende verhale van 'n intense lewe te midde van die groot kwessies van ons tyd: migrasie, neokolonialisme, rassisme, skuld. Ek hoop lesers sien daar is baie verskillende verhale, belewenisse en perspektiewe daar buite wat in wonderlike en konfronterende poësie geformuleer is," sê Schaffer. 

Afgesien van sy pligte as dosent aan die US, werk Schaffer ook taan saam met mede-akademici in België en Nederland aan 'n boek oor liriese aktivisme en hy is besig met die Nederlandse vertaling van Kamfer se jongste digbundel, Chinatown.​

Die vorige keer toe iemand met 'n sterk Suid-Afrikaanse verbintenis die PC Hooft-prys verower het was in 1991 toe Elisabeth Eybers dit vir haar oeuvre Afrikaanse poësie ingepalm het.​