Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nooit te oud nie: 2de doktorsgraad vir prof Leslie Swartz
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 17/12/2020

​Om 'n doktorsgraad te behaal is opsig self 'n merkwaardige prestasie. Maar om 'n tweede een te ontvang, is iets baie besonders. Dit is presies wat prof Leslie Swartz, 'n uitgelese professor in Sielkunde aan die Universiteit Stellenbosch (US), pas reggekry het toe hy Maandag, 14 Desember 2020 nog 'n PhD, hierdie keer in Engelse Studie, by die US se Desember-gradeplegtighede ontvang het – presies dertig jaar nadat hy sy eerste doktorsgraad behaal het.

Een van Swartz se studente, Maura Lappeman, het by dieselfde seremonie ook 'n doktorsgraad ontvang. Nog 'n doktorale kandidaat, Hildah Oburu, wat haar gradeplegtigheid in April vanjaar misgeloop het weens COVID-19, was ook teenwoordig om haar graad te ontvang. Hulle is twee van die meer as 40 doktorale kandidate vir wie Swartz ʼn studieleier was oor die jare. how-i-lost-my-mother_05b (002).jpg

Swartz het reeds verskeie gesogte toekennings vir sy uitmuntende bydraes tot die vakgebiede van geestesgesondheid en gestremdheidstudies ontvang. Hy sê sy tweede PhD is 'n bewys dat niemand ooit te oud is of te goed gekwalifiseerd is om nog iets by te leer nie en om akademies te groei nie, asook dat almal regdeur hul lewens kan baat vind by die hulp en sorg van anders (in hierdie geval, sy studieleiers).

Baie van Swartz se werk op die gebied van geestesgesondheid en gestremdheid fokus op sorgkwessies. Sy doktorale proefskrif bestaan uit memoires, How I Lost My Mother, waarin hy kwessies oor sorg op 'n toeganklike en amusante manier bespreek, asook 'n nadenkende essay oor die memoires en die skryfproses. “Sorg staan sentraal in hoe die samelewing georganiseer word en is veral van toepassing op 'n verouderende samelewing en een wat deur 'n pandemie geraak word," sê Swartz. “Desondanks, word sorg dikwels weggesteek en is dit iets waaroor daar nie gepraat word nie, van daar die behoefte vir 'n boek soos hierdie," voeg hy by.

Sy memoires is 'n verhaal van 'n emosioneel komplekse verhouding tussen ma en seun, en van die stryd wat ons almal ervaar om ons weg tussen nabyheid en afstand, sagtheid, woede en vergelding te baan. Die boek gebruik humor en storievertelling om kwessies te bespreek wat andersins vir 'n wye groep lesers moontlik nie aangenaam sou wees nie.

“Baie bevoorregte mense regoor die wêreld leef hul lewens en gaan deur die sterfproses terwyl hulle deur kwesbare en onderbetaalde mense (gewoonlik vroue van kleur) ondersteun word. Die boek bespreek die politiek van hierdie realiteit," sê Swartz. “Daar bestaan geen ander teks waarvan ek weet wat die noue verwewing van emosionele intimiteit en uitbuiting van versorgers so direk aanspreek binne die konteks van verswakking en afsterwe nie."

Volgens sy studieleiers by die US se departement Engels, prof Shaun Viljoen en prof Louise Green, beklemtoon die memoires hoe persoonlike narratiewe ons kan help om ingewikkelde maatskaplike kwessies te kommunikeer.

Swartz sê hy hoop lesers sal vir hulself besluit hoe hulle voel oor die kwessies wat hy ophaal deur aan 'n emosionele reis deur persoonlike en sosiale geskiedenis deel te neem.

How I Lost My Mother is sy tweede memoires, ná Able-Bodied: Scenes from a Curious Life (2010) wat 'n boeskstawing van sy verhouding met sy gestremde pa is en stel lesers bekend aan sleutelkonsepte in gestremdheidstudies. How I Lost My Mother sal in Maart 2021 verskyn en word deur Wits University Press uitgegee.