Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Geen uitdaging te groot vir US-graduata en Paralimpiese atleet nie
Outeur: Corporate Communication and Marketing/Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking [Rozanne Engel]
Gepubliseer: 17/12/2020

“Moenie bang wees om uitdagings ‘bo’ jou vermoëns te aanvaar indien dit iets is waarin jy regtig glo nie. Ja, dit gaan nie maklik wees nie, maar indien jy jouself daartoe verbind en eie aan jouself bly, sal jy die veerkragtigheid hê om deur te druk in moeilike tye.”

Met hierdie woorde hoop Anika Pretorius, ’n graduata​ van die Universiteit Stellenbosch (US), om ander te inspireer om ook hul drome te bewaarheid.

Die boorling van Gauteng het pas haar meestersgraad (MSc) in Spotwetenskap (cum laude) by ’n klein gradeplegtigheid van die US se departement Sportwetenskap ontvang.

Anika, ’n visueel gestremde student en Paralimpiese atleet, sê sy moes “persoonlik leer om nie skaam te wees” oor haar gebrek en om dit te probeer wegsteek nie.

“Ek het besef dat mense my aanvaar vir wie ek is en gou vergeet dat ek nie goed kan sien nie. Ek hoef nie myself te bewys nie. Ek het nog nooit teruggestaan vir ’n uitdaging nie; dit is een van die redes waarom ek so lief vir Sportfisiologie is omdat dit die potensiaal van fisiologiese aanpassing by ’n uitdaging ondersoek,” sê Anika.

Sy het in haar navorsing vir haar meestersgraad ondersoek ingestel oor hoe deelnemers se energiemetabolisme gedurende kort, herhaaldelike naellope (soortgelyk aan gewilde veld- en baansportsoorte) fisiologies op die “uitdaging” van ’n ses weke lange lae-koolhidraat dieet reageer.

Volgens haar opsiener, prof Elmarie Terblanche, was dit vir haar ’n seën en ’n voorreg om deel van Anika se akademiese reis te wees. “Anika het my op ’n tyd toe ek dit baie nodig gehad het, aan die redes herinner waarom ek ’n loopbaan in die akademie gekies het. Sy het my op baie vlakke as haar studieleier uitgedaag. Ons het ook saam geleer en gegroei as mense.”

Terblanche sê Anika se deursettingsvermoë en veerkragtigheid regdeur haar studies het haar verstom. Sy erken ook sy was “aanvanklik baie skepties” en kon nie haarself indink hoe Anika al die toerusting en laboratoriumwerk sou kon hanteer nie.

“Dit is regtig verstommend hoe Anika geleer het om al die oefeningtoetse in die laboratorium te doen, aangesien dit regtig ingewikkeld is en baie goed op dieselfde tyd gebeur. Sy het ook al die data-ontleding self gedoen, wat haar uiteraard baie langer as vir ander mense geneem het. Anika se studie plaas die soeklig op ’n paar nuwe navorsingshipoteses wat ek graag wil ondersoek. Dit was nie altyd maanskyn en rose in die laboratorium nie; daar was egter ook baie gevalle van uiterste vreugde en blydskap en spanwerk om die taak verrig te kry,” sê Terblanche.

Ondanks al die uitdagings wat Anika moes oorkom, het sy steeds daarin geslaag om ’n balans tussen haar studies en haar voorbereiding vir die 2021 Paralimpiese Spele in Tokio te handhaaf.

In 2012 is sy gekies om Suid-Afrika in die verspringnommer vir visueel gestremde atlete (T13) by die Paralimpiese Spele in Londen te verteenwoordig. Sy het die 2016 Paralimpiese Spele in Rio misgeloop weens ’n besering en hoop om sukses by die 2021 Paralimpiese Spele in Tokio te behaal. Sy sal op die 100 m-naelloop (T13) fokus.

“Ek droom al sedert my kinderjare oor die Olimpiese Spele – selfs nog voordat ek visueel gestremd geraak het – maar dit is toe op ’n ander manier bewaarheid as wat ek ooit verwag het. Ek dink die Paralimpiese Spele is selfs beter as my aanvanklike Olimpiese droom, want dit herinner my voortdurend aan God se genade en dit hou my nederig deur omring te wees deur ander ongelooflike atlete wat so baie hindernisse in hul lewens oorkom het,” sê Anika.

Sy is tans by die afrigting van jong para-atlete betrokke en hoop om haar navorsing voort te sit terwyl sy ook onderrig gee en ander help wat akademies sukkel.