Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Voormalige Westridge-leerder stap lang pad vir dié doktorsgraad in Wiskunde
Outeur: Wiida Fourie-Basson
Gepubliseer: 16/12/2020

Wanneer dr Lesley Wessels vandeesweek oor die verhoog stap om haar doktorsgraad in Wiskunde te ontvang, is dit die einde van 'n lang pad wat al op die skoolbanke van Westridge Senior Sekondêre Skool in Mitchell's Plain begin het.

Dr Wessels is een van die 21 doktorale graduandi in die Fakulteit Natuurwetenskappe wat tydens die US se Desember-gradeplegtigheid hul grade ontvang.

“Ek is die vierde van vyf kinders, en my oudste broer het 'n BSc-graad met Wiskunde en Rekenaarwetenskap as hoofvakke by die Universiteit van Wes-Kaapland begin swot teen die tyd wat ek met hoërskool begin het. My pa het besluit dat ek in my oudste broer se voetspore moet volg. Ons ouers was baie betrokke in ons toekomsplanne, want hul albei het net tot standerd 8 skool gegaan. Dit was die dae toe jy nog 'n goeie werk kon doen met net 'n standerd 8 sertifikaat," verduidelik sy.

“Hul wou 'n beter lewe vir hul kinders hê en my pa het gedink 'n loopbaan in die wetenskappe is 'n goeie keuse. My broer het op die ou end in 'n IT-rigting gegaan, maar ek het meer van Wiskunde gehou."

In 2001 het sy haar MSc in Wiskunde met spesialisveld: Abstrakte Algebra, aan die UWK voltooi: “Ek het baie gegroei as mens by UWK, dit was soos my tweede huis," vertel sy.

Maar in 2002 kry sy toe 'n e-pos van Prof Barry Green van die US met 'n uitnodiging om met hom as studieleier, haar PhD in Getalleteorie by die US te kom doen. Hoewel sy baie gelukkig by die UWK was, wou sy graag hierdie nuwe geleentheid aangryp.

Maar net daar het sy 'n oordeelsfout began. Meer as tien jaar en drie studieleiers later, het sy besef dat sy 'n groot fout gemaak het om haar navorsingsfokus te skuif van Abstrakte Algebra (haar oorspronklike belangstelling), na Getalleteorie.  

In 2007 is sy voltyds as junior lektor in die Departement Wiskundige Wetenskappe aangestel met die verstandhouding dat sy haar doktorsgraad sou klaarmaak. Maar sy sou eers in 2014 haar voete vind nadat sy besluit het om terug te keer na haar eerste liefde, Abstrakte Algebra.

“Ek het verwag dat my departementshoof, Prof Ingrid Rewitzky, en my afdelingshoof, Prof Florian Breuer, teleurgesteld sou wees in my. Maar hulle was allesbehalwe! Hulle was eerder verlig dat ek uiteindelik beheer neem van my loopbaan. Ek is ook baie dankbaar teenoor my mentor, Prof Marina Rautenbach, wat my altyd ondersteun het."

Sy het uiteindelik onder Dr Karin Howell, self 'n Algebraïs, haar proefskrif voltooi.

“Dr Howell was ferm op 'n baie diplomatiese manier. Buiten haar kennis van Algebra, het ek ook baie vaardighede by haar geleer, veral wat tydsbeplanning betref. Sy het 'n gesin, met twee kinders op laerskool, én sy is 'n dosent wat gereeld deur eerstejaars genomineer word as die dosent wat hulle die meeste inspireer. Dan is sy ook die stigter en organiseerder van die jaarlikste Afrika-vroue in Wiskunde-konferensie (AWiM), en sy begelei 'n hele aantal nagraadse studente. Ek staan nog steeds verstom oor hoe sy dit alles gedoen kry én dit boonop so goed doen!"

Sy is diep dankbaar dat sy hierdie reis uiteindelik kan voltooi, en sien nou daarna uit om haar spesialisveld binne Algebra verder te ontwikkel.

“Vir my meestersgraad het my mini-tesis gehandel oor koderingsteorie en ek het by die laaste AWiM-konferensie 'n koderingsteoretikus van Sol Plaatjies Universiteit ontmoet. Ons is van plan om vanaf Desember aan 'n nuwe projek te werk, so ek sien geweldig uit daarna!"

“Ek het nog baie om te leer, maar ek voel gerus dat daar soveel mense in my omgewing is wat my sal ondersteun," sluit sy af.

Op die foto bo, Dr Lesley Wessels saam met haar ouers, George en Cecilia Wessels, na afloop van die gradeplegtigheid op 16 Desember 2020. Foto: Stefan Els