Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Verskeie faktore verhinder steeds ware en blywende versoening
Outeur: Chris Jones
Gepubliseer: 16/12/2020

Woensdag (16 Desember) is Versoeningsdag. In ʼn meningsartikel vir News24 skryf dr Chris Jones (Eenheid vir Morele Leierskap) dat indien ons 'n meer verenigde en versoenende toekoms wil bereik wat soveel Suid-Afrikaners wil hê, sal ons die grondwet en die oppergesag van die reg moet handhaaf en respekteer, 'n sterker demokratiese politieke kultuur moet ontwikkel, asook menswaardigheid en sosiale geregtigheid moet verbeter.

  • Lees die vertaalde weergawe van die artikel hier onder.

Chris Jones*

Die jaar 2020 sal nie net onthou word vir die manier waarop COVID-19 die sosiale en ekonomiese lewe van baie samelewings en gemeenskappe ontwrig het nie, maar ook vir die rassespanning in die Oos-Vrystaatse dorp Senekal en in Brackenfell in Kaapstad se noordelike voorstede.

In Senekal is die spanning veroorsaak deur die moord op die Vrystaatse plaasbestuurder, Brendin Horner, en in Brackenfell deur 'n private afskeidsfunksie wat vir die Hoërskool Brackenfell se matrieks by 'n wynlandgoed gehou is – blykbaar was nie-blanke leerders uitgesluit.

Optrede soos hierdie bedreig nie net die reënboognasie-konsep wat deur oudpresident Nelson Mandela en emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu begin en gedryf is nie, maar ook Suid-Afrikaners se gevoel van behoort tot sowel as hul welwees.

Wat ons onder andere in hierdie twee voorvalle gesien het, laat jou wonder of die sentrum van die Suid-Afrikaanse politiek nie vernou word terwyl die ekstremiste groei nie  ̶  ekstremiste soos die EFF en die Vryheidsfront Plus en ander konserwatiewe wit burgerlike organisasies.

Op Versoeningsdag (16 Desember) moet ons onsself die volgende vrae afvra: Hoeveel Senekal's en Brackenfell's is daar in Suid-Afrika? En hoe lyk versoening regtig ná 26 jaar van demokrasie? Dit is tersaaklike kwessies aangesien hierdie spesifieke dag die einde van apartheid vier, versoening tussen verskillende etniese groepe bevorder, en van voorneme is om beter nasionale eenheid, sosiale kohesie, demokrasie, menseregte en gelykheid deur grondwetlike waardes te bevorder, ten einde alle Suid-Afrikaners te verenig.

Volgens die Suid-Afrikaanse Versoeningsbarometer (SARB), 'n deursnee, herhalende meningsopname wat sedert 2003 gereeld deur die Instituut vir Geregtigheid en Versoening in Suid-Afrika gedoen word, het 77,1% van die respondente in 2019 aangedui dat Suid-Afrika steeds (meer) versoening nodig het, terwyl 56,9% saam gestem het dat ons vordering gemaak het rakende versoening sedert die einde van apartheid.

Daar is ʼn noue samehang tussen versoening en nasionale eenheid en identiteit. Die oorgrote meerderheid van ons bevolking is trots Suid-Afrikaans, “met 81,6% wat dit eens is dat hulle wil hê hul kinders moet aan hulleself as Suid-Afrikaans dink", 80,5% wat gerapporteer het dat “Suid-Afrikaans-wees 'n belangrike deel is van hoe hulle hulself sien, en 79,7 % [stem saam] dat mense hulself eers as Suid-Afrikaans moet beskou".

Ongeveer 77,7% van ons bevolking steun eenheid en wil dit hê, 71,4% stem saam dat 'n verenigde Suid-Afrika moontlik is, en 69,9% het aangedui dat, ondanks ons verskille, daar meer is wat Suid-Afrikaners verenig as wat hulle uitmekaar te hou. Dit blyk dat daar in 2019 die grootste optimisme in die verband was sedert die ontstaan van die SARB in 2003.

Is daar ander Senekal's en Brackenfell's in Suid-Afrika? Beslis. Maar as jy na die bogenoemde statistieke en ander relevante inligting in die opname kyk, kom jy agter dat hulle waarskynlik verreweg in die minderheid is. Ek wil glo dat die linkse- en regse politieke groeperinge 'n plafon het, want daar is soveel welwillendheid en versugting na versoening en eenheid in baie gemeenskappe regoor die land.

Dit is positief en ons behoort dit te omarm en bevorder om die potensiaal vir rassespanning en -botsings te beperk, en om te verhoed dat die politieke sentrum deur sy moeiliker uiterstes vervang word.

Ons het egter wel uitdagings in ons land wat ons moet aanspreek om ware en blywende versoening te bewerkstellig. Byna vyf-en-tagtig persent van Suid-Afrikaners is dit eens dat ons nie sal kan versoen solank korrupsie voortduur nie, en 74% het aangedui dat “versoening onmoontlik is, solank politieke partye sosiale verdeeldheid vir politieke gewin uitbuit  ̶  dit beklemtoon die behoefte aan deursigtige, verantwoordelike en verantwoordbare (politieke) leierskap".

Byna 80% van die bevolking is dit eens dat korrupte regeringsamptenare dikwels wegkom met korrupte dade, en “'n verbysterende 86,8% van Suid-Afrikaners [stem saam] dat politici te veel praat en te min doen". Ongeveer 71,9% van Suid-Afrikaners het gerapporteer dat hulle op mekaar kan staat maak eerder as op politici, en 80,3% het aangedui dat diegene wat tot die parlement verkies word, gou kontak met die mense verloor.

Baie (73,5%) meen dat woongebiede in Suid-Afrika steeds op grond van ras geskei is, en 72,8% stem saam dat ons nie versoening sal bereik solank transformasie volgens rassekategorieë gemeet word nie.

In hierdie verband is dit belangrik om na die Nasionale Ontwikkelingsplan te verwys wat 'n Suid-Afrika waarin mense meer bewus sal wees van wat hulle gemeen het as van hul verskille, in die vooruitsig stel. Dit beoog dat Suid-Afrikaners se geleefde ervarings teen 2030 geleidelik “die skeidings tussen ras, geslag, gestremdheid, ruimte en klas sal ondermyn en oor al hierdie aspekte heen sal strek" en dat Suid-Afrikaanse burgers meer bereid sal wees om mense se veelvoudige identiteite te aanvaar.

Baie Suid-Afrikaners meen die verantwoordelikheid om te versoen “lê beide by diegene wat onderdruk is en diegene wat nie tydens apartheid onderdruk is nie". Maar die “gom" wat 'n gemeenskap of samelewing bind, is interpersoonlike vertroue. Dit dien as die grondslag vir goeie verhoudings en dialoog wat nodig is om spanning en konflik te oorkom, en om 'n omgewing te skep wat gunstig is vir volhoubare bande, hoopvolle strewe en vertroue binne sulke gemeenskappe en samelewings.

Om 'n meer verenigde en versoenende toekoms te bereik wat soveel Suid-Afrikaners wil hê, sal ons die grondwet en die oppergesag van die reg moet handhaaf en respekteer, 'n sterker demokratiese politieke kultuur moet ontwikkel, asook menswaardigheid en sosiale geregtigheid moet verbeter.

Ons sal ook moet aandag gee aan die faktore wat versoening beperk, soos ongelykheid, rasse-verdeeldheid, landlose burgers, 'n gebrek aan interaksie tussen mense van verskillende rassegroepe, voortslepende geweld, stereotipes wat nie ophou nie, en 'n gebrek aan veiligheid vir almal. As ons dit kan regkry om hierdie uitdagings te oorkom, sal ons 'n stap nader aan ware versoening wees.

*Dr Chris Jones staan aan die hoof van die Eenheid vir Morele Leierskap aan die Universiteit Stellenbosch.