Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Navorser ontwikkel verbeterde visvoer vir gebruik in akwaponika
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 16/12/2020

Die hoofuitdaging in akwaponika – die samevoeging van visteelt (akwakultuur) en plantverbouing sonder grond (hidroponika) – is die wanbalans tussen die voedingstowwe van die vis en plante in die stelsel, want elkeen het unieke voedingsvereistes.

“Met die byvoeging van kalium en yster by die dieet van die Afrika-katvis – wat in Noord-Afrika, Europa en Asië geëet word – kan akwakultuur- en akwaponika-operateurs sowel visvoeding as plantgroei in hulle geïntegreerde akwaponikastelsels optimaliseer," sê dr Oyama Guwa, wat Dinsdag (15 Desember 2020) haar doktorsgraad in Chemiese Ingenieurswese by die US se Desember-gradeplegtigheid ontvang het.

Guwa het as deel van haar studie eksperimente gedoen om visvoer te ontwikkel wat optimale voeding vir die Afrika-katvis bied en terselfdertyd plantgroei aanhelp. Op 'n vraag oor haar keuse van die Afrika-katvis sê sy dié spesie word dikwels vir navorsing gebruik omdat dit maklik is om te teel en 'n hoë toleransie het vir swak watergehalte.

Volgens Guwa was dit tot dusver algemene praktyk om visvoer te gebruik vir die voedingsvereistes van vis, en aanvullende voedingstowwe vir die vereistes van plante, wat bykomende koste vir die produksiestelsel impliseer.

“Daarom is dit belangrik om na maniere te soek om voedingsvlakke in visafval te verhoog en sodoende maksimum plantgroei te bewerkstellig, sonder dat verdere aanvullings nodig is."

Guwa sê in gewone akwakultuur hoop visafval dikwels op in die water, en word dit uiteindelik giftig vir plante. In 'n akwaponikastelsel breek bakterieë egter hierdie afvalprodukte af tot voedingstowwe wat plante kan gebruik, sodat die water wat terugvloei na die akwakultuurstelsel skoner en veiliger is vir die vis.

“Die nuwe voer wat in hierdie studie ontwerp is, bestaan hoofsaaklik uit soja en vismeel, en is spesifiek ontwikkel om in die katvis se voedingsvereistes te voorsien," sê Guwa oor die belang van haar navorsing. “Maar aangesien plante ook daarby sal baat vind, voorsien die voer in die behoeftes van akwakultuur- sowel as akwaponika-operateurs, wat nou nie meer bykomende voedingsryke misstowwe vir hulle plante hoef te koop nie."

Boonop het die insluiting van kalium en yster by die dieet van die Afrika-katvis die vis se gesondheid verbeter, voeg Guwa by, en is die hoë konsentrasies van hierdie minerale wat die vis in die water uitgeskei het deur die plante geabsorbeer, wat plantgroei bevorder het.

“My studie toon dat die byvoeging van die regte hoeveelhede kalium en yster by die dieet van die Afrika-katvis ook plantgroei kan verbeter, en die behoefte aan verdere voedingsaanvullings vir plante kan verminder óf selfs uitskakel.

Daarbenewens verminder dit die arbeid om voortdurend minerale by die akwaponikaproduksiestelsel by te voeg, want die voedingstowwe is reeds in die visvoer vervat."

Guwa sê die nuwe visvoer sal uiteindelik die prestasie en doeltreffendheid van die akwaponikastelsel sowel as van die Afrika-katvisteelt help verhoog.

Sy noem dat die Suid-Afrikaanse akwakultuurbedryf, wat as 'n seker en volhoubare voedselproduksiemetode dien, nog besig is om te groei nog en ondersteuning nodig het.

“In die kusstreke van Suid-Afrika val die klem hoofsaaklik op seespesies. Nietemin hou varswaterakwakultuur steeds groot potensiaal in, want dit kan in ál nege provinsies beoefen word. Daar is steeds ruimte vir verdere groei en navorsing."

  • ​Foto: Dr Oyama Guwa by die gradeplegtigheid. Fotograaf: Stefan Els

SLEGS VIR MEDIANAVRAE

Dr Oyama Guwa

E-pos: 20806280@sun.ac.za; siqwepu@gmail.com

UITGEREIK DEUR

Martin Viljoen

Mediabestuurder

Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking

Universiteit Stellenbosch

E-pos: viljoenm@sun.ac.za