Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Viering van Leer & Onderrig @ US in 2020
Outeur: Dr Karin Cattell-Holden
Gepubliseer: 10/12/2020

Ter viering van Onderrig en Leer @ US in 2020
 

Onderrig en leer aan die Universiteit Stellenbosch (US) gedurende 2020 is op 3 Desember virtueel gevier. Die jaarlikse seremonie vir die Toekennings vir Voortreflike Onderrig aan die US is verbreed om ook die toekenning van die US se Onderriggenootskappe, die nasionale Genootskappe vir die Bevordering van Onderrig aan Universiteite (TAU), en die pryswenners by die konferensie oor die Akademieskap van Onderrig en Leer (AvOL) in te sluit. Vanjaar is die kortkursusdeelnemers aan 2019 se Akademieskap van Onderrigleierskap (SoEL) en die deelnemers aan 2020 se Professionele Opvoedkundige Ontwikkeling van Akademici (PRONTAK, of PREDAC in Engels) ook ingesluit.

In sy opening van die verrigtinge beskryf die US Rektor en Visekanselier, prof Wim de Villiers, die uitdagings en geleenthede wat die nood- aanlyn onderrig, leer en assessering in 2020 meegebring het. Hy spreek sy waardering uit teenoor alle US-dosente, maar sonder die “onderrigkampioene" uit wat tydens die geleentheid toekennings, pryse of sertifikate sal ontvang. 

In sy amptelike rede skets prof Arnold Schoonwinkel, uittredende Viserektor: Leer en Onderrig,, die prominente posisie van uitnemendheid in onderrig en leer aan die US. In sy beskrywing van die geleenthede vir die uitbreiding van professionele kennis wat tot dosente se beskikking is, soos die jaarlikse AvOL-konferensie, die FINLO-/FIRLT-toekennings en die Akademieskap van Onderrigleierskapskursus (SoEL-), beklemtoon prof Schoonwinkel die aanwesigheid van ʼn onderrigtrajek aan die Universiteit. Hierdie trajek kan daartoe lei dat ʼn akademikus ʼn vooraanstaande geleerde word, wat sy of haar kennis en ondervinding van onderrig en leer verder as die US neem, om tot die nasionale en internasionale akademieskap van onderrig en leer by te dra.

Met die oorhandiging van die toekennings en sertifikate beklemtoon prof Schoonwinkel hoe belangrik dit is om dosente se “buitengewone prestasies" ten spyte van die ongewone uitdagings van die Covid-19-pandemie te vier. Hy wens drie nuwe nasionale TAU-genote (Bevordering van Onderrig aan Universiteite) aan die US geluk: prof Faadiel Essop (Departement Fisiologiese Wetenskappe, Fakulteit Natuurwetenskappe), prof Ashraf Kagee (Departement Sielkunde, Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe) and Dr Marianne McKay (Departement Wynbou en Wynkunde, Fakulteit Agriwetenskappe). Hierdie drie akademici sal die TAU-genootskapsprogram van 2021 tot 2022 bywoon.

 

Prof Schoonwinkel kondig ook vier nuwe US-onderriggenote aan: dr Taryn Bernard (Verlengde Graadprogram, Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe), prof Debby Blaine (Departement Meganiese en Megatroniese Ingenieurswese, Fakulteit Ingenieurswese), me Gretha Steenkamp (Skool vir Rekeningkunde, Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe), en prof Susan van Schalkwyk (Direkteur: Sentrum vir Gesondheidsberoepe-onderwys, Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe). Hierdie genote, almal uitstekende leerkragte en kenners van onderrig en leer, sal die geleentheid hê om vir ʼn vasgestelde tydperk met verskillende vorms van steun te fokus op ʼn navorsingsprojek in onderrig en leer op die gebied waarin hulle belangstel.  

 

Die US se Toekenning vir Voortreflike Onderrig vir 2020 is aan agt dosente toegeken. Dr Margaret Blackie (Departement Chemie en Polimeerwetenskap, Fakulteit Natuurwetenskappe) ontvang ʼn toekenning in die kategorie ‘Uitgelese Opvoeder’. In die kategorie ‘Ontwikkelende Opvoeder’ ontvang die volgende dosente toekennings:
·       Dr Alexander Andrason (Departement Antieke Studie, Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe);
·       Dr Marenet Jordaan (Departement Joernalistiek, Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe);
·       Dr Tobi Louw (Departement Prosesingenieurswese, Fakulteit Ingenieurswese);
·       Mnr Juan Ontong (Skool vir Rekeningkunde, Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe);
·       Dr Ilse Rootman-le Grange (Fakulteit Natuurwetenskappe);
·       Dr Martin Venter (Departement Meganiese en Megatroniese Ingenieurswese, Fakulteit Ingenieurswese); en
·       Dr Shantelle Weber (Departement Praktiese Teologie en Missiologie, Fakulteit Teologie).

 

Die volgende referate, wat by die SoEL-konferensie 2020 gelewer is, is as die beste in die verskillende kategorieë aangewys:
·       Navorsingsbaan: “Strategieë om gegradueerde hoedanighede te onderrig – ʼn oorsig" – deur wyle dr Alwyn Louw en dr Tiana Schultz
·       Innovasiebaan: “Klasopnames in ʼn nagraadse finansiële rekeningkundekursus: Studente-persepsies" – deur me Gretha Steenkamp en mnr Alwyn Visser
·       Oordenkingsbaan: “Onbedoelde voordele van ʼn e-blok vir kliniese bevoegdheid in fisioterapie" – deur me AMS Schmutz, dr Alison Lupton-Smith en dr Marianne Unger
·       Afgevaardigdes se keuse: “Institusionele struikelblokke in die weg van outentieke transformasie aan die Universiteit Stellenbosch" – deur dr Anita Jonker
·       Beste PRONTAK-plakkaat (volgens die afgevaardigdes na die konferensie se stemme): “
Twenty-first-century learning: Keeping up with Gen Z" deur dr Marlon le Roux en dr Ethel Phiri

 

Nege onderrig-akademici in leierskapsposisies het sertifikate vir die SoEL-kortkursus (Akademieskap van Onderrigleierskapskursus) in 2019 ontvang. Prof Mary-Ann Plaatjies van Huffel sal haar sertifikaat postuum ontvang.

 

Twee-en-sestig akademici wat die PRONTAK-kortkursus in 2020 voltooi het, het sertifikate ontvang en is aangemoedig om hulle onderrigreis voort te sit en daarna te streef om in die toekoms ʼn Toekenning vir Voortreflike Onderrig te ontvang.  

 

Meer inligting oor die TAU-genootskappe, die US-onderriggenootskappe en die US se Toekennings vir Voortreflike Onderrig is beskikbaar by dr Karin Cattell-Holden, kcattell@sun.ac.za. Inligting oor die SoEL-konferensie en die PRONTAK-kortkursus is beskikbaar by dr Anthea Jacobs, jacobsa@sun.ac.za, en Charmaine van der Merwe (cvandermerwe@sun.ac.za), onderskeidelik. Verdere besonderhede van die SoEL-kortkursus kan by dr Nicoline Herman (nherman@sun.ac.za) of dr JP Bosman (jpbosman@sun.ac.za) aangevra word.   

Foto’s:
Bo van links na regs: prof Alexander Andrason, dr Marenet Jordaan, dr Tobi Louw, mnr Juan Ontong, dr Ilse Rootman-le Grange
Middel van links na regs: dr Martin Venter, dr Shantelle Weber, dr Margaret Blackie, prof Faadiel Essop, prof Ashraf Kagee
Onder van links na regs: dr Marianne McKay, prof Susan van Schalkwyk, prof Debby Blaine, dr Taryn Bernard, me Gretha Steenkamp