Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Palliatiewe sorg word deel van FGGW se voorgraadse kurrikulum
Outeur: FMHS Marketing & Communications / FGGW Bemarking & Kommunikasie – Susan Erasmus
Gepubliseer: 24/11/2020

Die finale jaar mediese studente van 2020 sal die eerstes wees by die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) om te kwalifiseer na hulle ook 'n kort kursus in palliatiewe sorg (PS) as deel van hulle kurrikulum voltooi het.

PS behels die omvattende sorg van pasiënte en hulle families wat te make het met die uitdagings van lewensbedreigende siektes. Dit is 'n pro-aktiewe, multi-dissiplinêre wetenskap wat daarop gemik is om beide pasiënte en hulle families te ondersteun vanaf die diagnose van so 'n siekte tot en met 'n sterfte en ook daarna.

"'n Dokter se verantwoordelikheid om sorg te verskaf aan 'n pasiënt kom nie tot 'n einde wanneer die pasiënt nie genees kan word nie," sê dr Henriette Burger, Spesialis Kliniese Onkoloog en senior dosent in die Afdeling Stralingsonkologie by die FGGW.

"Baie dokters voel dat hulle enigste doel is om pasiënte te genees, en hulle vind dit moeilik om  te aanvaar dat hulle nie al die pasiënte in hulle sorg kan red nie. Maar dit is nie 'n realistiese beskouing van siektes en toestande nie."

Sy voel baie sterk daaroor dat 'n dokter se verantwoordelikheid teenoor 'n pasiënt nie tot 'n einde kom wanneer genesing nie meer 'n moontlikheid is nie. "Geen pasiënt behoort ooit die volgende woorde te hoor nie: 'Jammer, maar daar is niks meer wat ons vir jou kan doen nie.' Pasiënte voel met reg verstoot of in die steek gelaat wanneer 'n dokter dit sê.

"Pasiënte wat waarskynlik nie genees sal kan word nie het baie ander soort behoeftes as pasiënte met geneesbare siektes," het sy bygevoeg. "Pasiënte-sorg behels nie net die verligting van pynlike fisiese simptome nie, maar ook om bewus te wees van die pasiënt se psigo-sosiale en spirituele behoeftes."

Die ontwikkeling van PS as 'n onafhanklike dissipline

'n Resolusie van die Wêreldgesondheidsbyeenkoms vir Palliatiewe Sorg het in 2014 verklaar dat "palliatiewe sorg 'n etiese verantwoordelikheid is van alle gesondheidstelsels".

PS het sy oorsprong in die modern Hospies-beweging en het gedurende die laaste 40 jaar ontwikkel tot 'n onafhanklike mediese dissipline, met gestandaardiseerde opvoedkundige kurrikula en spesialis-opleidingsprogramme in vele lande. In Suid-Afrika tot dusver was die verskaffing van PS grootliks die domein van nie-regeringsorganisasies en organisasies van vrywilligers uit die gemeenskap, wat onder die Hospies PS-vereniging van Suid-Afrika geresorteer het. Meer onlangs, deur die beywering van 'n paar toegewyde voorstanders van PS, word dit stadig geïnkorporeer in beide die openbare en die private gesondheidsektore in Suid-Afrika.

Organisasies soos PALPRAC (the Association of Palliative Care Practitioners of South Africa) het vergoedingsmodelle en gestandaardiseerde behandelingsriglyne ontwikkel. In 2020 het die Kaapse Metro Gesondheidsdirektoraat in samewerking met PALPRAC riglyne gepubliseer vir die palliatiewe ondersteuning van pasiënte en families wat deur Covid-19 geraak is.

In Suid-Afrika sterf pasiënte elke dag aan aansteeklike en nie-aansteeklike siektes, moeder-en-kindersterftes en trauma en geweld. Dit is dus noodsaaklik dat enige gesondheidsorg-opleidingsprogram in 'n ontwikkelende land wat so 'n viervoudige siektelas het, PS behoort in te sluit in die opleiding van hulle professionele gesondheidsorg-werkers.

Pasiënte met 'n behoefte aan PS kan in alle sub-spesialiteite van geneeskunde gevind word. Dit is daarom absoluut noodsaaklik dat alle gegradueerdes in die mediese veld 'n behoorlike begrip van die basiese beginsels van PS moet hê. Burger meld dat studente tydens hulle hospitaal-rondtes dikwels gekonfronteer word met die realiteite van pasiënte se lyding, of met pasiënte wat besig is om te sterf, asook met die rouprosesse van familielede, en dit is noodsaaklik dat hulle die professionele vaardighede moet aanleer om in hierdie moeilike omstandighede die regte ding te kan doen vir die pasiënte en hulle families.

"Dit is noodsaaklik dat mediese studente, dokters en spesialiste leer hoe om met kliniese empatie te reageer, en om meer ingestel te wees op die behoeftes van sterwende pasiënte. Dit behels dat hulle ook groter self-insig moet ontwikkel en die belangrikheid van self-sorg begryp."

Maar dit was nie maklik om PS as deel van die mediese kurrikula geïnkorporeer te kry nie. By die FGGW is die week-lange module ingestel in die derde-jaar mediese kurrikulum in 2017. In sekere spesialis-gebiede, soos onkologie, is die behoefte aan palliatiewe sorg besonder belangrik. "Ter erkenning hiervan, is 'n toegewyde PS-module geïnkorporeer in die nasionale Kliniese Onkologie opleidingsprogram en ons is ook trots om te sê dat ons ons eerste twee Kliniese Onkologie-genote in die program het hierdie jaar by die Universiteit Stellenbosch."

In samewerking met die Afdeling Huisartskunde en Primêre Sorg fasiliteer Burger ook 'n nagraadse aanlyn-kursus in PS, wat twaalf weke duur, en daarop gemik is om mediese praktisyns vir die kritieke rol voor te berei om die sorg vorentoe te koördineer vir pasiënte wat gediagnoseer is met lewensbedreigende siektes. Burger hoop dat in die toekoms 'n pos geskep sal word  in die fakulteit vir iemand om voltyds te fokus op die onderrig van en die opleiding in PS. "Die stigting van 'n gestruktureerde PS-diens in die Tygerberg-hospitaal sou ook grotendeels help om 'n praktiese platform te skep om by te dra tot die opleiding van studente in gesondheidsorg." 

'n Student se ervaring van hierdie kursus

Soos vermeld, is die studente wat in 2020 gradueer die eerste studente aan die FGGW wat hierdie opleidingsessie in hulle derde jaar ondergaan het.

"Hierdie module het aan my die kennisbasis verskaf om my vaardighede as 'n pasiënt-gesentreerde praktisyn te ontwikkel," het Jameelah Edwards, 'n finale-jaar mediese student by die FGGW, gesê. "Ek het die belangrikheid daarvan geleer om 'n holistiese begrip van 'n pasiënt se toestand en situasie te ontwikkel om sodoende, binne die multi-dissiplinêre span, die leiding te kan gee om tot aan die einde vir die pasiënt die beste mediese sorg te kan verskaf."

"Dit het my geleer dat die dood die natuurlike einde van elke lewe is, en dat gesondheidspersoneel kan help om hierdie pad so pynloos en rustig as moontlik te maak vir pasiënte en hulle families.

"Ek het hierdie mantra teëgekom tydens die kursus: 'Maak partykeer gesond, verskaf altyd verligting, gee altyd vertroosting.' Ek het dit sedertdien in my hart rondgedra en sal voortgaan om dit te doen as 'n toekomstige dokter."


Onderskrif: Dr Henriette Burger. Foto deur Damien Schumann