Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
COVID-19-indirekte skade: Wanneer handreinigers ’n tweesnydende swaard word
Outeur: Suretha Kannenberg, Sergio Alves & Allison Arendse
Gepubliseer: 23/11/2020

Vogrome kan help om die voorkoms van handekseem wat deur sommige handreinigers veroorsaak word teen te werk, skryf dr Suretha Kannenberg, Sergio Alves & Allison Arendse (Afdeling Dermatologie) in ʼn onlangse meningsartikel vir Health24.

  • Lees die vertaalde weergawe van die artikel hier onder.

Suretha Kannenberg, Sergio Alves & Allison Arendse*

Toe COVID-19 oor die wêreld heen begin versprei het, het die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) en die Sentrums vir Siektebeheer en -voorkoming aanbeveel dat die beste maniere om COVID-19 te voorkom, sosiale afstandskepping, die dra van materiaalmaskers, asook die gereelde en behoorlike was van hande en die ontsmetting van oppervlaktes is.

Die oproep tot gereelde was van hande het tot 'n eksponensiële styging in die gebruik van handreinigers wat alkohol bevat, gelei. Dit het ook tot 'n styging in die voorkoms van handekseem by gesondheidswerkers asook die algemene bevolking gelei. Handekseem is 'n rooi, jeukerige, maar soms ook branderige en selfs teer uitslag. Die uitslag kan droog wees en die vel krakerig en skubagtig laat, of dit kan nat wees met blase wat vogtig en korsagtig is. Party mense, soos diegene met onderliggende atopiese ('n algemene neiging om dit te ontwikkel) ekseem, loop die gevaar alkoholsmeermiddel-handekseem te ontwikkel weens die inherente verswakte beskermende funksie van die vel wat 'n kenmerk van hierdie toestand is.

In 'n studie van die Hubei-provinsie in China is 434 gesondheidswerkers ondervra, met 321 (74%) wat aangedui het dat hulle hul hande meer as tien keer per dag ontsmet. Van hierdie gesondheidswerkers het 246 (76,6%) simptome van handekseem getoon, met die algemeenste wat irriterende handkontakekseem was en allergiese kontakhandekseem wat minder algemeen was.

Nog 'n studie van Milaan het getoon dat daar van 9 Maart tot 4 Mei 2020 24 nuwe gevalle van handekseem onder die algemene bevolking voorgekom het wat met die gebruik van handreinigers met alkohol as basis verband gehou het. Sommige van die probleme met handreinigers met 'n alkoholbasis sluit die gebruik van nie-standaard formules in, wat beteken dat metanol in plaas van etanol gebruik word; soorte alkohol wat gebruik word, soos isopropielalkohol eerder as etanol; asook wisselende hoeveelhede alkohol wat gebruik word (<60%). Die verskeidendheid resepte wat in omloop was op sosiale media gedurende die vroeë stadium van die staat van inperking, illustreer hierdie punt.

“Irriterende" kontakhandekseem kan by enigeen ontwikkel wie se hande aan irriterende middels soos water, seep of handreinigers met 'n alkoholbasis blootgestel word. In teenstelling daarmee sal “allergiese" kontakhandekseem net by mense ontwikkel wat reeds 'n geneigdheid het om velirritasies weens die gebruik van sekere middels soos nikkel, lateks en kolofonie (wat in gomme, grimering en drukkersink gevind word) te ontwikkel. 'n Ongeskonde vel sal gewoonlik nie die tweede vorm van handekseem ontwikkel nie. Prikkelmiddels dra by tot die versteuring van die vel se beskermende laag, wat die moontlikheid om allergiese kontakhandekseem te ontwikkel, verhoog. 

Alkoholsmeerhandekseem kan in 'n uitmergelende en pynlike siekte ontaard wat tot afwesigheid by die werk kan lei, wat die lewering van noodsaaklike dienste ernstig kan knou. Die toenemende voorkoms van die was van hande en die gebruik handreiniger met 'n alkoholbasis ten einde COVID-19 te voorkom, verhoog die moontlikheid om alkoholkontakhandekseem te ontwikkel, wat 'n groot invloed op lewensgehalte kan hê en ook beroepsprobleme op die lange duur kan veroorsaak.

Afgesien van die ongemak van 'n droë, jeukerige vel, kan stukkende vel as 'n toegangspunt vir COVID-19 dien weens die virusreseptors in die vel se bloedvate. Pynlike, droë vel kan ook onbewustelik die nakoming van protokols vir handhigiëne nadelig beïnvloed, wat 'n die risiko van siekteoordrag by hierdie individue verder verhoog. Voorkoming is dus noodsaaklik.

Dit is duidelik dat die COVID-19-pandemie in die voorsienbare toekoms gaan voortduur. Die enorme uitwerking van hierdie virusinfeksie is net so duidelik. Daarom is die belangrikheid om beskermende riglyne te volg soos uiteengesit deur gesondheids- en regeringsorganisasies, onbetwisbaar en moet dit streng nagekom word.

Die WHO het 'n handreiniger met 'n 60%-alkoholbasis aanbeveel met 1,45% gliserol as 'n voggewende agent om gesondheidswerkers en ook die publiek wat gereeld hul hande moet reinig, teen die komplikasies te beskerm wat die uitermatige gebruik van alkoholhandreiniger kan veroorsaak. Die minimum hoeveelheid gliserol wat nodig is om die risiko van handekseem te verminder, is nie bekend nie, hoewel studies getoon het dat selfs laer vlakke as die aanbevole 1,45% gliserol die vel teen uitermatige uitdroging beskerm het.

Verdere aanbevelings sluit die gebruik van 'n versagtende of kalmerende middel wat handeroom bevat, direk ná die gebruik van handreiniger in. Hoewel dit 'n nuttige maatreël is om alkoholsmeer-dermatitis te voorkom, het een studie getoon dat slegs een in vyf werkers dit ná die gebruik van 'n handreiniger met 'n alkoholbasis gedoen het. Dit is hoogs onwaarskynlik dat hierdie syfer enigsins hoër onder die algemene publiek sal wees.

Reinigingstasies is orals in hospitale en openbare ruimtes geleë en was en is steeds 'n belangrike metode om die verspreiding van COVID-19 te voorkom. Vogrome is egter selde ook beskikbaar, van daar die toename in die voorkoms van alkoholsmeerhandekseem gedurende die pandemie. Toereikende beskikbaarheid van vogmiddels kan die voldoening aan protokols vir handhigiëne verbeter en moet dus as 'n prioriteit aangespreek word – veral onder gesondheidswerkers. Verder is voorkomende maatreëls uiters belangrik om die volgende, dog heeltemal ander tipe, golf te temper: die voorkoms van allergiese kontakhandekseem – nog 'n onbedoelde gesondheidsgevolg van COVID-19.

*Dr Suretha Kannenberg is 'n konsulterende dermatoloog by die afdeling vir Dermatologie aan die Universiteit Stellenbosch. Sergio Alves en Allison Arendse is mediese studente hul vyfde jaar in dieselfde afdeling. Hierdie is 'n hersiene weergawe van hul artikel wat onlangs in die South African Medical Journal verskyn het.