Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Kliniese proewe beveel korter behandelingsperiode aan vir kinders met minder ernstige TB
Outeur: FMHS Marketing & Communications / FGGW Bemarking & Kommunikasie – Michelle Galloway
Gepubliseer: 29/10/2020

“Die SHINE-proef is die eerste tuberkulose behandelingsverkortende ewekansige-beheerde kliniese proef in kinders. Dis voorwaar 'n mylpaal. Ons vermoed reeds vir 'n geruime tyd dat ons baie kinders met TB te veel behandeling gee, maar nou het ons duidelike, pragmatiese bewyse om beleid en kliniese praktyk te onderlê, " het prof Anneke Hesseling van die Desmond Tutu TB-sentrum (DTTC) in die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe gesê.

Hesseling was deel van die span wat terugvoering gegee het oor die resultate van die SHINE-proef by die DTTC, waarby 1204 kinders uit Uganda, Zambië, Indië en Suid-Afrika, insluitende 315 kinders in Kaapstad, betrokke was.

Ongeveer 1.1 miljoen kinders ontwikkel jaarliks TB, en ongeveer 205 000 sterf daaraan in enige gegewe jaar. Omtrent 25% van TB-gevalle in Afrika kom voor onder kinders en adolessente. Ten spyte hiervan, is daar tot dusver minder aandag gegee aan behandelingsopsies vir hierdie groep as aan dié vir volwassenes.

Die SHINE-proef het 'n verkorte vier-maandelange voorgeskrewe stel behandelings vergelyk met die standaard ses-maande-lange voorgeskrewe stel behandeling, waarin dieselfde medikasie gebruik is. Die uitslae het daarop gedui dat 93% van kinders met minimale TB suksesvol behandel is, met geen verskil in die uitkomste tussen die twee stelle behandelings nie.

'Minimale TB' vereis 'n ander soort behandeling

Hesseling het verduidelik dat 'minimale TB' TB is wat nie so ernstig is nie. “Dit is tipies long-TB met minimale veranderinge in die longe, geen holtes in die longe nie, en geen komplikasies of verspreiding van die TB-bacilli nie. Dit is ook van toepassing op minder ernstige TB buite die longe – tipies siekte van die limfvatselsel. Ons gebruik X-strale van die borskas om te soek na standaard patrone of kenmerke wat ons klassifiseer as 'minder ernstig', en wat dokters by die verskillende behandelingspunte kan gebruik om kinders in die verskillende groepe in te deel."

Tussen 50-60% van kinders wêreldwyd met TB – en ook in Suid-Afrika – kan dalk minimale TB hê. “Hierdie is nie 'n klein subgroepie nie, maar verteenwoordig die meerderheid van kinders met TB. Die resultate kan wyd van toepassing wees en baie kinders kan daarby baat vind."

Dit is belangrik om alle vorms van TB, ook minimale TB, spoedig en effektief te behandel, sodat dit nie vorder na 'n meer ernstige vorm van die siekte nie, veral in jong, immuun-gekompromiteerde kinders, of kinders wat aan wanvoeding ly.

"Indien jy minimale siekte vinnig behandel met 'n korter stel behandeling, dan word die siekte nie erger nie, en die behandeling maak die kinders gesond, so dit is baie bemoedigend dat sulke goeie uitkomste in hierdie proef behaal is," het Hesseling gesê.

Die 315 children is by die studie betrek met die hulp van 31 klinieke en drie hospitale in Kaapstad. Dit is gedoen deur middel van noue samewerking met die plaaslike gesondheidsdienste.

“Ons moes kinders by die studie betrokke kry voor hulle met hulle TB-behandeling begin het, dus moes ons vinnig by hulle uitkom," het Hesseling gesê. “Die meeste van hulle was jonk – onder die ouderdom van drie jaar – tipies van wat ons sien in die voorkoms van TB. Die meeste kinders is klinies gediagnoseer, gebaseer op X-strale van die borskas, hulle geskiedenis en hulle simptome." Die feit dat ons hierdie kinders suksesvol kon betrek, en op die studie kon behou, wys dat dit moontlik is om hoë-gehalte pragmatiese TB kliniese proewe in kinders te doen, en ook om die struikelblokke in die diagnosering en behandeling van kinders met TB merendeels uit die weg te ruim.

'n Verkorte behandelingsperiode sal beide 'n ekonomiese en 'n gemeenskaps-impak hê, en sal ook 'n verskil maak aan die gesondheidsdienste.

Kinders is nie net klein grootmensies nie

“Tradisionele behandelingsbenaderings vir TB in kinders is gebaseer op studies wat onder volwassenes gedoen is," het Hesseling gesê. “Die meeste volwassenes het meer aansteeklike TB as wat kinders het. Kinders het gewoonlik laer bakteriële vlakke, wat nou getoon het dat hulle net so goed reageer op 'n korter behandelingsperiode. Dit is 'n benadering wat spesifiek gemik is op die kind en op die siekte. Dit is moeilik om 'n kind te kry om daagliks antibiotika te neem vir 'n hele ses maande. Deur dit met twee maande te verkort, verlaag die druk wat dit op gesinne, versorgers en die gesondheidsdienste plaas."

SHINE het ook navorsing gedoen oor die farmakokinetika, die aanvaarbaarheid en die smaak van die medikasie. “Die studie het vaste-dosis kombinasies getoets wat heel gesluk moes word, of in water opgelos moes word," het Hesseling verduidelik. “Dit is die eerste keer wat hierdie medikasie in Suid-Afrika gebruik is en dit sal in die toekoms deel wees van die standaard behandeling."

Hesseling het verduidelik dat die Wêreld Gesondheidsorganisasie (WGO) tans navorsingsbewyse insamel om hulle 2021 behandelingsriglyne te onderlê, en daar word verwag dat hierdie resultate 'n groot bydra sal lewer tot hierdie relevante riglyne.

“Nasionale TB-programme ontvang leiding van die WGO vir hulle TB-behandelingsriglyne," het sy gesê. “Ons sal seker maak dat ons resultate vinnig versprei word onder plaaslike en globale program-medewerkers, gemeenskappe en ander belanghebbendes om voor te berei vir beleidsveranderinge en praktiese implementering.

“Ek dink dat dit in Suid-Afrika verwelkom sal word," het sy bygevoeg. “Dit is hoë-gehalte bevindings wat op 'n praktiese vlak gebruik kan word om kinders klinies te behandel. Ons is baie dankbaar teenoor ons hoogs betrokke TB-program in Suid-Afrika."

“Vir die DTTC was hierdie 'n ongelooflike reis. Ons het kapasiteit gebou om grootskaalse TB-behandelingsproewe te doen; ons het groot bydraes gelewer in sleutel-aspekte van metodologie; en ons het verhoudings versterk met gesondheidsdienste en gemeenskappe. Opleiding in die lees van X-strale in al vyf die toetsterreine in Afrika en Indië het ook vertroue laat toeneem in die betroubaarheid van hierdie prosesse."

“Dit was 'n ryke geleentheid vir samewerking met gulde geleenthede vir die uitruiling van kennis waarop toekomstige TB-behandelingsproewe vir kinders gebou kan word." 

SHINE is befonds deur die VK-regering en die Mediese Navorsingsraad, die Wellcome Trust, die Europese Unie en die TB Alliance, en is gelei deur die Mediese navorsingsraad se Kliniese Proewe eenheid by UCL.


Onderskrif: Prof Anneke Hesseling. Foto deur Damien Schumann