Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Wisaarkhu is ’n Falling Walls-finalis by die Berlynse Wetenskapsweek
Outeur: Media & Communication, Faculty of Science
Gepubliseer: 26/10/2020

Wisaarkhu, 'n a multidissiplinêre projek wat daarop gemik is om wiskunde te vermenslik, is een van die innoverende projekte wat gekies is as finalis in die kategorie vir wetenskapsbetrokkenheid van die Falling Walls-kompetisie wat gedurende die Berlynse Wetenskapsweek van 1 tot 10 November 2020 plaasvind.

Die Falling Walls-konferensie het op 9 November 2009 tot stand gekom met die 20ste herdenking van die vreedsame val van die Berlynse Muur. Die konferensie – wat intussen gegroei het tot 'n Wêreld-wetenskapsspitsberaad − het ten doel om spreekwoordelike mure tussen wetenskap en die gemeenskap af te breek.

Wisaarkhu is die breinkind van Dr Sophie Marques en haar kollega Prof Zurab Janelidze van die  Afdeling: Wiskunde by die Universiteit Stellenbosch. Wisaarkhu het in 2019 ontstaan as 'n reeks praatjies oor die sielkunde van abstrakte wiskunde, soos bv. hoe ons wiskunde ervaar, en het studente en dosente uit die vakdissiplines van wiskunde, sielkunde, opvoedkunde en die kunste betrek. Met die ondersteuning van Prof Ingrid Rewitzky, hoof van die Department Wiskundige Wetenskappe en visedekaan vir onderrig en leer in die Fakulteit Natuurwetenskappe, het hierdie inisiatief sedertdien ontwikkel in 'n praktykgerigte gemeenskap met 'n aanlyn tydskrif en deurlopende praatjies met deelnemers van oor die wêreld.

Dr Marques sê die saadjie vir die projek is geplant toe sy heeltemal oorweldig begin voel het deur die vrese en angs van haar studente. Alhoewel wiskunde veronderstel was om haar studente te bemagtig, het dit meer dikwels die teenoorgestelde effek op hulle gehad.

“Indien dit waar is dat wiskunde mense met belangrike lewensvaardighede kan toerus en bemagtig, hoekom faal ons dan so klaaglik om dit reg te kry? Hoe kan ons hierdie kennis so wyd en regverdig as moontlik deel? Indien onderrig daaroor gaan om ons studente te help om hulle volle potensiaal te kan bereik, hoe kan ons dit regkry met wiskunde? Hoe maak ons wiskunde toeganklik, geldig en sigbaar vir die meeste van hulle?" skryf sy op Wisaarkhu se blog.

Me Mariam Salie, een van die kliniese sielkundiges wat by die projek betrokke is, sê té veel skanse is rondom wiskunde opgerig wat angs en ongemak veroorsaak: “Hierdie skanse dryf 'n wig in tussen die vak, die realiteit en ander vakdissiplines en skep die indruk dat dit verwyderd staan van die leefwêreld van  die mens. Met hierdie projek poog ons om die stigma wat wiskunde omring, af te breek en elkeeen die geleentheid te bied om wiskunde te leer − wat 'n belangrike lewensvaardigheid is."

Dr Karin-Therese Howell, 'n dosent in wiskunde, sê sy het Wisaarkhu genomineer vir die Falling Walls- kompetisie omdat die inisiatief die gevoel van gemeensaamheid en betrokkenheid in die veld van wiskunde aanmoedig: “As 'n dosent was ek hartseer dat die meeste van my studente nie met wiskunde gemoeid wou wees nadat hul afgestudeeer het nie. Hierdie projek poog om dit te verander."

Sedert die Wisaarkhu-span ingelig is dat hulle onder die finaliste in die kompetisie is, moes hulle binne die bestek van 'n paar dae met 'n video oor hulle werk vorendag kom. Hierdie video is gemaak deur:  dosente Me Mariam Salie, Dr Karin-Theresa Howell, Dr Rizwana Roomaney; wiskunde-onderwyser Shaun Hudson-Bennet; en studente Ethan Quirke, Laylaa Motola en Lourens van Niekerk.

“Hierdie spanpoging is net een voorbeeld van die uitsonderlike diversiteit en verbintenis tot die saak van die hele Wisaarkhu-gemeenskap wat hard agter die skerms werk om 'n sukses hiervan te maak," sê Dr Marques.

Tot dusver het sy 'n hele aantal geleenthede bygewoon, wat besprekings en die uitruil van idees met die ander finaliste ingesluit het. Die Wisaarkhu-span moet voor 28 Oktober nog 'n video vervaardig ten einde vir 'n plek onder die top tien in hulle kategorie te kan meeding. Die top tien video's sal gedurende die Grand Finale op 9 November 2020, die dag waarop die Berlynse Muur in 1989 tot 'n val gekom het, vertoon word. Alle video's is aanlyn beskikbaar by www.falling-walls.com/2020/finalists