Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Herdink veerkragtigheid in die era van COVID-19
Outeur: Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie [Rozanne Engel]
Gepubliseer: 14/10/2020

Met Oktober wat Geestesgesondheidsbewustheidsmaand in Suid-Afrika is, bied die Universiteit Stellenbosch (US) se Eenheid vir Psigoterapeutiese Ondersteuningsdienste (EPO) regdeur die maand aanlyn webinare aan wat gefasiliteer word deur US-personeel wat op die gebiede van psigiatrie, sielkunde asook seksualiteit spesialiseer.

In een van EPO se onlangse webinare het prof Renate Schoeman bespreek hoe veerkragtigheid in die era van COVID-19 herdink moet word. Schoeman is 'n praktiserende psigiater en hoof van die MBA in Gesondheidsorg-leierskapsprogram by die Universiteit van Stellenbosch Sakeskool (USB).

Volgens Schoeman kan veerkragtigheid gedefinieer word as “die vermoë om terug te bons nadat jy terugslae en moeilike lewensomstandighede beleef het terwyl jy terselfdertyd positiewe geestesgesondheid handhaaf", en sy glo baie mense moes dit gedurende die pandemie doen.

Schoeman het in haar aanbieding onlangse navorsing en haar kliniese ondervinding rakende veerkragtigheid gedeel en het aan deelnemers wenke en raad gegee oor hoe om in hierdie uitdagende tye veerkragtigheid te ontwikkel en te handhaaf.

“Studies het getoon dat een van die belangrikste maniere om jou veerkragtigheid te verbeter, is om meer optimisties te wees. Optimisme beteken nie ons sien alles as rooskleurig en ons benader die lewe asof ons in 'n dromerige sprokie is nie. Optimisme beteken ons benader dinge realisties en met vertroue," het Schoeman gesê.

Volgens Schoeman, sukkel baie mense wat van die huis af werk om 'n balans tussen hul werk en lewe te handhaaf en om hul daaglikse werkspligte van hul persoonlike lewe te skei.

Sy glo dit is nou meer as ooit belangrik om “werk-lewe-strukturering" te hê en om “elke dag selfsorg" toe te pas om uitbranding en lyding weens geestesgesondheidskwessies op die lange duur te voorkom.

“Dit is belangrike om van sosiale ondersteuning gebruik te maak. Omring jouself met gesonde en gelukkige verhoudings, want jou eie geluk sal toeneem as jy dit doen. Dit is ook belangrik om jouself met rolmodelle en mentors regdeur jou lewe te omring wat jou kan help om jou pad deur onsekerheid te vind en om meer veerkragtig in jou werk en persoonlike lewe te wees."

Die volgende EPO-webinare vind aanlyn plaas op 19 en 26 Oktober 2020.

Klik hier vir meer inligting oor die webinare.​