Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Las Vegas wink vir Matie-entrepreneurs
Outeur: Development & Alumni / Ontwikkeling & Alumni
Gepubliseer: 12/10/2020

​’n Reis wat in 2017 in die Universiteit Stellenbosch se Metanoia-koshuis begin het, het gekulmineer in ’n uitnodiging om in 2021 Agenda Las Vegas, ’n handelskou vir straatdrag, in die VSA by te woon.​

Abdu-Shakoer Baderoen, ’n gegradueerde van die Universiteit Stellenbosch (SU), en sy twee beste vriende Chad Mockey (ook ’n US-alumnus) en Ethan Beukes, het die handelsmerk BRAhSSE konseptualiseer en gevestig terwyl hulle nog studente was.

Baderoen het in 2018 met ’n nagraadse Diploma in Bemarking gegradueer, terwyl Mockey in 2019 sy BA-graad in Geografie en Omgewingstudies verwerf het. Beukes studeer aan die Stellenbosch Akademie van Ontwerp en Fotografie.      

Volgens Baderoen het hulle BRAhSSE begin om ’n betekenisvolle bydrae tot post-apartheid Suid-Afrika te maak deur ’n handelsmerk vir kleding en bykomstighede te skep wat eenheid in diversiteit vier.       

"Brasse is die woord wat ons in die Kaapse bruin gemeenskap vir vriende gebruik,” sê Baderoen. Om hul handelsmerk te onderskei van die oorspronklike woord, het hulle die kleinletter h in die middel gevoeg, wat vir erfenis (heritage) staan.         

"Ons handelsmerk verteenwoordig ’n vars, outentieke en eerlike weerspieëling van kontemporêre Suid-Afrikaanse kultuur."      

Straatmode bied die geleentheid om dit wat jy het, te gebruik om jouself uit te druk, verduidelik hy. Sommige van hul ontwerpe is deur die kleure van die Bo-Kaap en die Klopse geïnspireer en sluit gewilde items soos pette (bucket hats), T-hemde en kappietruie (hoodies) in. In 2018 het BRAhSSE met die koeldrankhandelsmerk Jive saamgewerk om BRAhSSE-kledingstukke in Jive se advertensie- en promosiemateriaal te gebruik.       

Elke nou en dan skep hulle ook ’n item om kritiese interaksie oor sekere kwessies aan te moedig. Verlede jaar het hulle 'n T-hemp vrygestel met ’n prent van ’n geweer wat blomme skiet, om gesprekke oor kwessies soos bendegeweld aan te moedig. Hulle het onlangs ook begin om maskers te maak.

Baderoen kom van die Strand, waar hy aan Hoërskool Gordon gematrikuleer het.         

"Ek kom uit ’n voorheen benadeelde agtergrond en bly saam met my enkelma en my suster. Toe ek in 2014 Stellenbosch toe gekom het, het ek vir myself gesê ek gaan die meeste maak van die geleentheid wat ek gekry het om aan die Universiteit Stellenbosch te studeer en my bes probeer om my omstandighede te verander."              

Baderoen was ’n inwoner en later huiskomiteelid van Metanoia, waar hy blootgestel is aan mense van verskillende agtergronde, erfenisse en kulture.      

"Ek het baie vriende gemaak en baie by hulle geleer. Dit het vir my die inspirasie vir die handelsmerk gegee.”

Baderoen en Mockey het nie net ’n besigheid saam opgebou nie – vir die afgelope paar jaar was hulle ook saam op die rugbyveld as die US se welbekende gelukbringer "Pokkel" en die Varsitybeker se gelukbringer "Prof".      

"Dit was baie spesiaal om tot die gees by Varsitybeker-wedstryde by te dra, asook tot mense se geluk en genot by dié geleenthede. Pokkel en Prof het altyd iets in die mou gevoer. Ons het fantastiese herinneringe,” lag Baderoen.     

Dit is ’n moeilike reis vir hierdie jong entrepreneurs. Die besigheid neem al hul vrye tyd in beslag, maar Baderoen kan nie bekostig om sy werk op te gee nie, want hy onderhou homself en sy gesin. Dit maak dit moeilik vir die aanvangsbesigheid om finansiering uit regeringsbronne te bekom.       

“Dit is moeilik om alles te balanseer. Somtyds wil ek opgee,” sê Baderoen terwyl sy stem breek. “Maar ek dink ons inspireer ander jong mense, en dit maak my gelukkig.”         

Hulle samel tans geld in om die Agenda Las Vegas-skou volgende Maartmaand by te woon.       

"Ons wil daarheen gaan om besigheid te doen sodat ons werkgeleenthede en geleenthede vir ander besighede hier kan skep. Ons wil vir die jeug wys dat enigiets moontlik is as jy net jou drome navolg en jou bes probeer om dinge te laat gebeur. Harde werk sal altyd die sleutel tot sukses bly.        

"Ons wil BRAhSSE 'n trotse Suid-Afrikaanse handelsmerk maak."

Om hulle te ondersteun, besoek:

https://thundafund.com/project/brahssexagendalasvegas