Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe SR kies voorsitter en ondervoorsitter
Outeur: Studente Affairs / Studentesake
Gepubliseer: 04/09/2020

​Die verkiesing van die 2020/21 Studenteraad (SR) van die Universiteit Stellenbosch is vandeesweek suksesvol afgehandel met die aankondiging van die nuut-verkose voorsitter en ondervoorsitter.

Xola Njengele, 'n nagraadse student in die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, is deur die lede van die inkomende SR tot die amp van voorsitter verkies. Njengele dien ook in die huidige SR as voorsitter van die Akademiese Belangeraad. Die nuwe kampusleiers se termyn sal aan die begin van die US se vierde akademiese kwartaal op 21 September 'n aanvang neem.

Kira Alberts, 'n finale jaar BA (Internasionale Studies)-student, is as ondervoorsitter verkies.

Die 2020/21 SR-verkiesing het vanjaar vir die eerste keer heeltemal aanlyn plaasgevind weens die COVID-19-bedreiging. Altesame 3 543 studente het in die verkiesing van die studenteleiers gestem, wat die tweede hoogste aantal kiesers die afgelope vyf jaar was – 4 100 het in die 2018-verkiesing gestem. Die verkiesing het ook die grootste aantal kandidate die afgelope paar jaar opgelewer, met 20 studente wat hulself verkiesbaar gestel het. Sowat 348 studente het ingeskakel vir die aanlyn-koukusse, waar die kandidate hul doelstellingverklarings gelewer het en aan robuuste gesprekke deelgeneem het.

Die US se Rektor en Visekanselier, prof Wim de Villiers, het die uitgaande SR bedank en die inkomende lede en voorsitter gelukgewens: “Die SR speel 'n integrale rol in die werksaamhede van die Universiteit. Ons is daartoe verbind om ons studente te betrek en hulle as mededeelnemers en medeskeppers deel te maak van 'n transformatiewe studente-ervaring. Ons wil die uitgaande SR bedank vir hul diens aan die studenteliggaam. En knap gedaan aan die inkomende SR. Ons sien uit daarna om saam met julle almal te werk om die uitdagings wat die koronavirus-pandemie bied, te oorkom sodat ons saam vorentoe kan beweeg. Ons moet voortbou op ons kohesie as 'n studentegemeenskap, veral noudat ons fisiek van mekaar geskei is en allerhande druk op die maatskaplike weefsel van ons breër samelewing ervaar."

Die nege gekose lede van die SR is op 25 Augustus 2020 aangekondig. Hulle is: 

  1. Xola Njengele 
  2. Viwe Kobokana 
  3. Ayesha Abou-Zeid 
  4. Kira Alberts 
  5. Unathi Ngumbela 
  6. Makabongwe Kaseke 
  7. Philip Visage 
  8. Eduard Zehrt 
  9. Gina Sibanda

Die nege verkose lede en die ex officio lede vorm saam die SR. Die ex officio lede is:

  • Jarryt Luyt (voorsitter: Akademiese Belangeraad)
  • Nomzamo Buthelezi (voorsitter: Verenigingsraad)
  • Leoné Wilkinson (voorsitter: Primkomitee)
  • Joshua Eva (ondervoorsitter: Primkomitee)
  • Masixole Ndamandama (voorsitter: Senior Primkomitee)
  • Kristin Arends (voorsitter: Tygerberg Studenteraad)
  • Avumile Finiza (kaptein: Militêre Akademie)

Dr Choice Makhetha (Senior Direkteur: Studentesake) het gesê sy is ingenome met die afhandeling van die eerste verkiesing wat ten volle aanlyn plaasgevind het en het al die betrokke partye bedank. Sy het Njengele gelukgewens en gesê sy verkiesing was nie vir haar 'n verrassing nie, aangesien hy die afgelope jaar in die belang van die studente opgetree het. “Jy het gefokus, teenwoordig en toeganklik gebly. Mag jou dienstermyn baie vervullend wees." Makhetha het Njengele aangemoedig om 'n sterk en verenigde span te bou wat belangrike kwessies prioritiseer om studente se lewens te verander.

Die US Statuut maak vir 'n SR voorsiening as die liggaam wat die belange van die studentegemeenskap verteenwoordig. In gevolge die Statuut, neem studente amptelik aan die US se statutêre liggame – die Institusionele Forum, fakulteitsrade, Senaat en die Raad – deel deur lede van die studenteliggaam wat deur die SR verkies is.

Daar word gereelde, geskeduleerde vergaderings tussen die SR se Uitvoerende Komitee en die Rektoraat gehou. Enige kwessie kan daar geopper en bespreek word en studenteverteenwoordigers word aangemoedig om terugvoer aan die studenteliggaam te gee. Bykomend tot dit, moet die Rektoraat aan die US-raad verslag doen, waarop studente ook verteenwoordig is. ​