Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Prof Moosa aangestel as voorsitter van MAK vir Orgaanoorplanting
Outeur: FMHS Marketing & Communications / FGGW Bemarking & Kommunikasie – Tyrone August
Gepubliseer: 03/09/2020

Vir die afgelope halfeeu was Suid-Afrika ʼn pionier van orgaanoorplanting. In 1966 het ons die eerste nieroorplanting op die kontinent uitgevoer, en net ʼn jaar later, die eerste hartoorplanting in die wêreld.

Ten spyte van hierdie baanbreker-prestasies, sukkel Suid-Afrika vandag steeds om genoeg orgaanskenkers te vind. Vir prof Rafique Moosa, die nuutaangestelde voorsitter van die Ministeriële Advieskomitee (MAK) vir Orgaanoorplanting, is dit ʼn prioriteit om hierdie tekort aan te spreek.

"Die aantal oorplantings oor die afgelope 10 jaar of so, was relatief onveranderd," merk Moosa op. Hy is ook die uitvoerende hoof van die Departement Geneeskunde by die Universiteit Stellenbosch en Tygerberg Akademiese Hospitaal.

Byvoorbeeld, die aantal nieroorplantings in Suid-Afrika wissel tussen net 400 en 450 per jaar. "Ons probeer verstaan hoekom die aantal skenkers nog nie toegeneem het nie," sê Moosa, wat al sedert 2014 as ʼn lid op die MAK dien.

Hy skryf dit gedeeltelik toe aan apatie by die algemene publiek, ten spyte van die hoë vlakke van bewustheid van die belangrikheid van oorgaanskenking: "Ongelukkig, as Suid-Afrikaners, is ons nie baie vrygewig met ons organe nie."

Verbasend strek hierdie onwilligheid ook sover as die gesondheidsorg gemeenskap: "Een van die grootste probleme is die apatie by dokters en gesondheidsorgberoepslui. Hulle behoort meer potensiële skenkers na ons toe te verwys. As mens na die algehele aantal motorongelukke kyk [251 sterftes per miljoen bevolking], behoort daar meer as genoeg skenkers wees om aan die land se behoeftes te voorsien."

Moosa en die nege ander lede van die MAK – wat in Januarie deur die Minister van Gesondheid, dr Zweli Mkhize, vir ʼn vyf-jaar lange termyn aangestel is – is gretig om die tekort aan orgaanskenkings aan te spreek. "Op die ou einde maak elke enkele skenker ʼn groot verskil," beklemtoon hy.

Die MAK beraadslaag oor elke enkele oorplanting in Suid-Afrika. "Elke oorplantings in die land moet deur hierdie komitee gaan," verduidelik Moosa. "Die enigste oorplantings wat ons nie nagaan nie, is dié van lewende verwante oorplantings.

"Ons adviseer ook die minister oor buitelandse burgers en of dit toepaslik is. Selfs as hulle [die skenker en ontvanger] verwant is, moet ons dit steeds nagaan."

Die MAK sluit verteenwoordigers van oraloor Suid-Afrika in om enige konflik van belange te voorkom. Elke aansoek vir ʼn oorplanting – wat ontvang word van die Departement van Gesondheid – word deur minstens twee lede nagegaan (asook deur die voorsitter). "Die komitee het oor die algemeen baie begrip en is baie ondersteunend, maar ons moet seker maak dat daar geen skelmstreke is nie," sê hy.

Die MAK adviseer ook die Minister van Gesondheid oor verskeie aspekte van orgaanoorplanting, verskaf beleidsriglyne en -voorstelle, en gee leiding ten opsigte van die toekoms van oorplanting in Suid-Afrika.

Die lede van die huidige MAK is relatief nuut aangesien heelwat van die vorige lede afgetree het. Maar Moosa is vol vertroue dat hierdie span al die uitdagings wat dit te staan kom, die hoof kan bied, en verwys na hulle as "ʼn sterk komitee". Dit bevat nou kundigheid wat nie voorheen by die MAK ingesluit was nie. Byvoorbeeld, ʼn pediater en lewer-kenner dien ook nou op die komitee.

Moosa is by uitstek geskik om aan die stuur van die MAK te wees. Hy het in 1979 by die Universiteit van Kaapstad gekwalifiseer as ʼn mediese dokter, en het in 1989 by die Universiteit Stellenbosch se Departement Geneeskunde en Tygerberg-hospitaal se Niereenheid aangesluit toe hy ʼn nefroloog geword het.

In 1992 het hy hoof van die Niereenheid geword, en het kort daarna by verskeie professionele organisasies betrokke geraak. In 1993 het hy die ondervoorsitter geword van die Orgaanskenking Stigting, en hy het die posisie vir twee jaar beklee.

In 1995 het hy die voorsitter van die Kaapse Niervereniging geword, asook ʼn lid van die Nasionale Nierstigting en president van die Suid-Afrikaanse Oorplantingsvereniging. Twee jaar later het hy die president van die Suid-Afrikaanse Niervereniging geword.

Verder weg het Moosa in 1995 betrokke geraak by die Internasionale Vereniging vir Nefrologie, en het oor die jare op verskeie strukture gedien. In 2008 het hy ʼn raadslid geword van Kidney Disease Improving Global Outcomes, ʼn internasionale organisasie sonder winsbejag.

Langs die pad het hy in 2002 ʼn PhD by die Universiteit Stellenbosch verwerf oor maligniteite in nieroorplanting. En, aan die einde van 2006, is hy in sy huidige posisie aangestel, waar hy steeds aktief betrokke is in die Niereenheid as ʼn nefroloog.

"Die meeste oorplantings wat ons in Suid-Afrika doen is nieroorplantings, dus is die meeste van ons lede op die MAK nefroloë," wys hy uit. Kaapstad is die aktiefste sentrum vir nieroorplantings, gevolg deur Johannesburg heelwat verder terug in die tweede plek.

"Kaapstad is ver voor almal anders," sê Moosa. "Ongelukkig weens die Covid-19-pandemie, is daar besluit dat daar geen oorplantings gedoen sal word nie, tensy dit ʼn noodgeval is. In effek het ons nou opgehou om nieroorplantings te doen, en doen net noodgevalle nieroorplantings op die oomblik."

Die MAK hoop om uiteindelik die Departement van Gesondheid te oorreed om uitgawes vir orgaanoorplantings en dialise te verhoog. "Een van die hoofuitdagings waarteen ons te staan kom, is die algehele tekort aan geleenthede vir pasiënte wat dialise moet ontvang," sê Moosa.

"Slegs ʼn fraksie van die pasiënte met nierversaking word goedgekeur vir niervervangingsterapie oorplanting en dialise. In die Wes-Kaap ontvang slegs ʼn kwart van die pasiënte met nierversaking dialise. Die res word konserwatief behandel – met ander woorder, hulle sterf.

"Dus probeer ons die Departement van Gesondheid te oorreed om meer fasiliteite te open en meer pasiënte toe te laat om met dialise behandel te word. Ons wil die voorstaanders wees vir pasiënte met kroniese niersiektes en wil dialise bevorder." Daar is tans slegs 30 dialise eenhede in die openbare gesondheidsektor.

Steeds bly Moosa hoopvol dat die MAK sal aanhou om vooruitgang te maak met hierdie doelwitte. "Dit is ʼn redelike uitdagende taak, en dit behels gereeld lewe- en dood-besluite," sê hy. "Maar ons werk as ʼn span en deel verantwoordelikhede."