Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Top toekennings vir US chemici
Outeur: Media & Communication, Faculty of Science
Gepubliseer: 01/09/2020

Drie chemici van die Universiteit Stellenbosch is deur die Suid-Afrikaans Chemiese Instituut (SACI) vir hul bydraes tot navorsing, leer en onderrig in Suid-Afrika vereer.

Prof Selwyn Mapolie is gekies tot 'n Genoot van die Instituut, die hoogste kategorie van lidmaatskap van die Instituut. Dit is in erkenning van sy volgehoue bydrae tot die chemie-gemeenskap in Suid-Afrika. Hierdie eer val slegs 'n geselekteerde groep lede te beurt wat uitnemendheid en leierskap getoon het in die areas van onderrig en bestuur van chemie in hul professie, en vrywillige dienslewering.

SACI het ook erkenning gegee aan dr Margaret Blackie vir haar uitstaande bydrae tot chemie-onderrig oor die afgelope vyf jaar. Sy is die ontvanger van die Instituut se medalje vir Chemie-onderwys, terwyl PhD-student Jean Lombard die SACI Nagraadse toekenning ontvang het.

Prof Peter Mallon, hoof van die department, sê die toekennings is welverdiende nasionale erkenning vir die navorsers se bydraes tot navorsing en opvoeding in chemie in Suid-Afrika. Prof Mallon is ook die president van SACI.

Prof Mapolie wie se navorsingsloopbaan oor meer as drie dekades strek, sê dit is 'n groot eer om erkenning van sy portuurgroep te kry, van wie hy baie bewonder vir die betekenisvolle bydraes wat hulle gelewer het om die dissipline te bevorder. Volgens hom is hy ook baie dank verskuldig aan sy vele nagraadse studente met wie hy oor die jare gewerk het: “My nagraadse studente het almal betekenisvolle bydraes gelewer tot my prestasies as 'n wetenskaplike," sê hy.

Dr Blackie sê sy waardeer die feit dat SACI erkenning gee vir bydraes tot opvoeding in chemie en wetenskap: “Dit is 'n enorme voorreg om die ontvanger van hierdie toekenning te wees. En ek is diep dankbaar teenoor my mentors en medewerkers.  Ek het so baie geleer deur saam met ander te werk."

Dr Blackie was onlangs die mede-outeur van twee hoofstukke in 'n boek Building Knowledge in Higher Education, wat onderwerpe dek soos die dekolonialisering van die wetenskapkurrikulum, en die gaping tussen eerstejaarstudente  se teoretiese begrip van hoofkonsepte in chemie en hulle vermoë om daardie kennis oor te dra tot ander domeine soos geneeskunde en ingenieurswese.

PhD-student Jean Lombard sê sy is dankbaar, maar verras om die toekenning te ontvang, veral aangesien die laaste jaar van haar PhD-studies besonder uitdagend en baie harde werk was. Hierdie voormalige leerder van die Hoërskool Tygerberg het sopas haar doktorale proefskrif ingehandig.

“Ek werk in die veld van vastetoestand supramolekulêre chemie. Vir my navorsing het ek nuwe tegnieke ontwikkel om wat ons “multikomponent materiale" noem, te maak. Ons is geïnteresseerd daarin om hierdie materiaal te maak omdat dit 'n eenvoudige manier is om die fisiese eienskappe van 'n bestaande materiaal te verbeter. Byvoorbeeld: 'n molekuul van 'n farmaseutiese middel is dalk nie bruikbaar nie aangesien dit nie maklik oplosbaar is nie. Met my tegnieke kan dit meer oplosbaar gemaak word deurdat dit in 'n multikomponentmateriaal omgesit word.  My fokus was spesifiek om na tegnieke te soek wat min of geen skadelike oplosmiddels gebruik nie."

Sy sê sy is gefassineer deur die gedrag van molekules: “Ek kry die gevoel dat daar baie meer onder die oppervlak aangaan. Ek is opgewonde oor elke nuwe ontdekking wat gemaak word. Dit is wonderlik om sélf die skynbaar onmoontlike te kan aanskou!"

Jean se doktorale proefskrif is gedoen onder die studieleiding van dr Tanya le Roex en prof Delia Haynes.

​Op die foto bo, van links na regs, PhD-student Jean Lombaard, Dr Mags Blackie en Prof Selwyn Mapolie.