Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US Mediaverklaring: Hofbevel van 13 Augustus 2020
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 17/08/2020

In die belang van goeie korporatiewe bestuur, deursigtigheid én verantwoordbaarheid verskaf die Universiteit Stellenbosch (US)  konteks en agtergrond tot die hofbevel in die Wes-Kaapse Hoë Hof van Donderdag 13 Augustus 2020 waarvolgens 'n versoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) toegestaan is.

Dr Leon Schreiber, 'n US-alumnus, het dié versoek in Maart vanjaar aan die US gerig om inligting wat regter Burton Fourie in sy ondersoek gebruik het, beskikbaar te stel. Die Fourie-ondersoek van November 2019 het gevolg na 'n versoek van dr Schreiber aan die Universiteitsraad om sy klagte teen prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die US, te ondersoek. Die Fourie-ondersoek het bevind dat dié bewerings ongegrond is en prof De Villiers is deur die US Raad van enige blaam onthef.

Die US-Raad het regter Fourie se verslag op 2 Desember 2019 aanvaar en die volledige Fourie-verslag (skakel) is ook reeds op daardie stadium ter wille van deursigtigheid op die US se webblad gepubliseer.

Die Universiteit is daarvan oortuig dat die onderliggende dokumente en inligting wat nou aan die DA en dr Schreiber voorsien word, regter Fourie se bevinding sal bevestig.

Die Universiteit het die aanvanklike PAIA-versoek in Maart 2020 te goeder trou geweier vir redes wat volgens die instelling geregverdig was in terme van artikel 44(1)(a) van die Wet. Hiervolgens “mag 'n openbare liggaam 'n versoek om toegang tot 'n rekord weier indien die rekord 'n mening, advies, verslag of aanbeveling bevat wat verkry of opgestel is; of 'n weergawe van oorlegpleging, bespreking of beraadslaging wat plaasgevind het, insluitende, maar nie beperk nie tot 'n notule van 'n vergadering, bevat, met die doel om as hulp te dien by die formulering van 'n beleid of die neem van 'n besluit by die uitoefening van 'n bevoegdheid of verrigting van 'n plig regtens verleen of opgelê"

Dit was die Universiteit se oordeel dat die ondersoek deur oudregter Fourie wat daarop gemik was om die Raad met 'n aanbeveling te bedien, asook die inligting wat hy tydens sy ondersoek bekom en oorweeg het, en in sy verslag aan die Raad opgeneem het, binne die bestek van artikel 44(1)(a) val. Soos die Universiteit dit ook in 'n mediaverklaring van daardie tyd gestel het, sou die instelling dié besluit – om die PAIA versoek te weier – heroorweeg indien 'n hofaansoek gebring sou word. (Lees die US se verklaring hier.)

'n Hofaansoek het inderdaad gevolg, en die Universiteit het op sterkte van regsadvies, en met inagneming van die relevante faktore en die regskoste van litigasie, besluit om nie die aansoek te opponeer nie.  Dit is so aan dr Schreiber en die DA se prokureurs gekommunikeer, asook dat die Universiteit die rekords wat versoek word, sal aflewer in terme van die bevel wat gemaak sou word.

In die skrywe aan die applikante se prokureurs is die volgende beklemtoon: “that the respondents permissibly refused to provide the records under 2 11(1)(a) of PAIA; and that none of the records reveal any substantial contravention of, or failure to comply to the law. To the contrary, they support the conclusion reached by Judge Fourie in his report".

Die hofbevel van 13 Augustus 2020 het gevolg op die Universiteit se besluit om nie die aansoek te opponeer nie. 

Feitefoute

'n Mediaverklaring van die DA op 13 Augustus 2020 na aanleiding van die hofbevel, geskryf deur dr Schreiber, bevat feitefoute en wanvoorstellings wat regstelling vereis.

Die belangrikste hiervan is 'n bewering dat die Hof sou bevestig het dat “the management of Stellenbosch University (SU), led by Rector Wim de Villiers, broke the law by trying to keep information of critical public importance secret".  Dit is onwaar. Nóg die Universiteit, nóg die Rektor het 'n wet oortree. Prof De Villiers was nie betrokke by die hantering van die PAIA-versoek nie.  

Die hof het geen uitspraak of bevindings gemaak soos in die DA se verklaring beweer word nie. Daar was dus geen skuldigbevindings of oortreding van die wet nie. Die PAIA-wetgewing maak wel voorsiening vir strafregtelike oortredings (artikel 90), maar dit is nie 'n oortreding om 'n rekord te goeder trou te weier nie, selfs al sou dit later bevind word dat die redes vir die weiering ongeregverdig of verkeerd was. Dit is daarom nie korrek dat die aanvanklike besluit om die PAIA-versoek te weier “onwettig" was nie.  Daar was dus geen sprake van “broke the law" en nog minder van  “trying to keep information of criteria public importance secret" nie.  

Die bevel deur die hof was nodig om die Universiteit se aanvanklike besluit tersyde te stel en aan die applikante toegang tot die rekords te gee.

Kanselierskap

Die US het ook kennis geneem van bewerings op sosiale media, deur SAfm, dat prof De Villiers die kanselierskap aan regter Cameron sou “aangebied" het. Dit is ook van alle waarheid ontbloot. Die rektor is nie by magte om 'n kanselierskap aan te bied nie, aangesien die Kanselier deur 'n kieskollege verkies word.  Volgens die Fourie-verslag het die bewyse ten beste getoon dat die Rektor, soos hy verplig was om te doen, gehelp het om geskikte kandidate vir die benoeming van kandidate vir die posisie van die nuwe Kanselier te identifiseer.

Prof De Villiers het dit toe so verwoord: “Daar was geen poging tot geheimhouding nie. Dit was algemene kennis dat 'n aantal vooraanstaande US-alumni, insluitende lede van die US se Rektoraat, oudregter Cameron as 'n uitstekende kandidaat vir die verkiesing van 'n nuwe Kanselier beskou het. Dit is ook heeltemal onrealisties om aan te voer dat een mens soveel invloed kon uitoefen om 'n hele regbank van tien vooraanstaande regters van die Konstitusionele Hof daarvan te oortuig om ten gunste van die Universiteit Stellenbosch te beslis, en alle lede van dié kieskollege – buiten twee – om vir regter Cameron te stem." (Die kieskollege het uit 39 mense bestaan.)

EINDE