Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US hou eerste virtuele personeelbyeenkoms
Outeur: Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie [Rozanne Engel]
Gepubliseer: 05/08/2020

Die Universiteit Stellenbosch (US) het “in 'n kort tyd baie bereik" en as personeel “het ons saam baie geleer", wat die US gehelp om in hierdie ongekende tyd vooruit te beweeg.

Dit was die boodskap van die US se Rektor en Visekanselier, prof Wim de Villiers, aan die personeel wat Woensdag (5 Augustus 2020) die Universiteit se tweede personeelbyeenkoms van die jaar bygewoon het. Weens die voortslepende COVID-19-pandemie, moes die Universiteit die byeenkoms aanlyn aanbied, wat dit die eerste virtuele personeelbyeenkoms ooit gemaak het.

“Ons is beslis besig om 'n marathon te hardloop en nie 'n naelloop nie. Ons moet ons uithouvermoë uitbou, want daar lê nog 'n lang pad voor. 'n Mens pak hierdie soort wedloop ook met jou gedagtes aan. Om uit te hou en aan te hou in moeilike tye is beide fisiek en geestelik uitputtend. Ek twyfel egter geensins daaraan dat ons sal oorwin indien ons aanhou om as 'n span te werk nie," het De Villiers gesê.

Hy het ook die personeel bedank vir hul deurlopende toewyding en dat hulle voortgaan met die belangrike werk as navorsingsintensiewe universiteit.

Lede van die US se Rektoraat het personeel oor belangrike gebeure sedert die Universiteit se vorige personeelbyeenkoms in Februarie ingelig, met spesifieke verwysing na die US se reaksie en pogings om te help om die koronavirus te beveg.

“Ek is so trots op die manier waarop ons Universiteitsgemeenskap saamstaan in reaksie op die koronavirus-pandemie. Van honderde Tygermaties wat vrywillige werk in die voorste linie doen, tot verskeie multidissiplinêre koronavirus-verwante navorsingsprojekte en aktiwiteite wat regoor verskeie fakulteite aan die gang gesit is, is ek regtig beïndruk met hoe goed dinge gekoördineer is om die US aan die gang te hou." 

Van die institusionele hoogtepunte waarop daar by die personeelbyeenkoms gefokus is, sluit in:

  • Die belangrikheid van die instelling van 'n Institusionele Komitee vir Bedryfsvoortsetting (IKBV) reeds in Februarie. Die IKBV bestaan uit sewe bedryfstrome wat na die verskillende aspekte van die Universiteit omsien en het die US in staat gestel om in harmonie as 'n eenheid op te tree en om die akademiese jaar te red.
  • Die US se Afdeling vir Sosiale Impak het met verskeie vennote, insluitende die Stellenbosch Munisipaliteit en provinsiale regeringsdepartemente, saamgewerk om plaaslike COVID-19-inisiatiewe te ondersteun.
  • Die US het daarin geslaag om steeds kwalifikasies toe te ken, met die heel eerste virtuele gradeplegtigheid wat op 3 April gehou is.
  • Die Universiteit het 'n proses van stapel gestuur om sy handelsmerk en visuele identiteit te vernuwe. Personeel sal in die loop van die volgende paar maande geleentheid kry om by die ontwikkeling van 'n nuwe institusionele logo betrokke te raak.
  • Die US het suksesvol na e-leer oorgeskakel, met akademiese personeel wat talle aanlyn-hulpbronne vir studente en die Universiteit geskep het om te verseker dat geen student agtergelaat word nie. Meer as 1 700 skootrekenaars is landwyd per koerier by studente afgelewer en die Universiteit het databondels aan studente verskaf vir toegang tot leermateriaal.
  • Verskeie internasionaliseringsprojekte moes aanlyn voortgesit word, wat sekere uitdagings ingehou het, maar dit het ook 'n geleentheid vir kreatiewe en innoverende samewerking met internasionale vennote gebied.  
  • 'n Virtuele Afrika Doktorale Akademie (ADA) Winterskool is in Julie gehou. Dit was die ADA se eerste poging in aanlyn-onderrig en die meer as 100 afgevaardigdes het dit goed ontvang.
  • Die US het ook sy gesondheids- en welstandmaatreëls opgeskerp om veral personeel in die voortslepende pandemie by te staan. Dit sluit in die skep van die Werknemerhulpprogram, opleidingsdienste, webinare en die aanbied van informele ondersteuningsgroepe.
  • Die Universiteit het ook meer plooibare en kontekstuele MH-maatreëls ingestel om prestasiebestuur, verwagtinge oor verskillende kategorieë personeel, verlof en e-pos-praktyke aan te spreek.  

Klik hier om 'n opname van die personeelbyeenkoms te sien.

Klik hier om die aanbieding af te laai.