Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
'Welkom terug, en sterkte met die tweede semester'
Outeur: Wim de Villiers
Gepubliseer: 28/07/2020

Beste kollegas en studente

Welkom terug ná die reses, en sterkte met die tweede semester!

Die meeste van ons werk en studeer nog aanlyn van ons blyplekke af. Nietemin begin die Universiteit Stellenbosch (US) se kampusse nou stadig maar seker ontwaak uit hul “hibernasie" sedert Maart, toe inperkingsregulasies landwyd ingestel is om die COVID-19-pandemie te help stuit.

In die kuberruim was ons natuurlik nog heeltyd wawyd wakker en aan die gang. Ons aanlyn leerplatform is 'n miernes van bedrywigheid nadat ons blitsvinnig na noodafstandsonderrig, -leer en -assessering oorgeskakel het om te sorg dat ons die huidige akademiese jaar, wat nou net mooi halfpad is, suksesvol voltooi.

Ek sê “ons", want dit was ʼn groot spanpoging. Almal het hul deel gedoen – van dosente wat kursusse moes herverpak, en studente vir wie klasbywoning en toets skryf skielik uitsluitlike aanlyn ervarings geword het, tot kundiges wat oorlaaide stelsels vinnig moes opgradeer en bestuurders wat moes plan maak om dinge aan die gang te hou, kom wat wil.

Uit die diepte van my hart, baie dankie. Dit maak my trots om deel te wees van Span US!

Ek weet om byna alles nou aanlyn te moet doen is nie ideaal nie. Ek mis die daaglikse kontak met ander mense op kampus, en jy seker ook. Boonop is daar tegniese probleme om uit te stryk, nuwe vaardighede om aan te leer, en ʼn klomp bykomende werk vir almal.

Dít lei tot groot frustrasie, waarvoor ek begrip het. Ons kon egter nie anders nie. Koronavirussiekte was en bly ʼn groot bedreiging, so ons moes kontakonderrig tydelik staak. Terselfdertyd moes ons ʼn manier vind om ons aktiwiteite voort te sit, want as ʼn toonaangewende openbare universiteit kan ons nie ons plig versaak om kennis tot voordeel van sowel individue as die samelewing te ontwikkel, oor te dra en toe te pas nie.

Die aanwending van inligtings- en kommunikasietegnologie in leer en onderrig help ons baie in dié verband. En ondanks al die uitdagings, kry ons darem ook heelwat positiewe terugvoer. Volgens dosente het gemiddelde prestasie in die afgelope halfjaareksamens nie veel van vorige jare afgewyk nie. Dit het waarskynlik daarmee te make dat studente hul kursusmateriaal, wat nou alles aanlyn beskikbaar is, op enige tydstip maklik kan hersien.

Dat die “nuwe normaal" opofferings verg, is gewis. Baie studente werk snags omdat dít die enigste stil tyd tuis is, en tref dan ook dikwels hul dosente aanlyn aan. Daarvoor het ek groot waardering.

Ek besef ook die nuwigheid van by die huis werk begin nou oorwaai. Dis moeilik om te midde van ander verpligtinge in en om die huis 'n mens se aandag op jou werk gefokus te hou. Ouers is deesdae nie net meer hul kinders se versorgers nie, maar ook hul onderwysers. En baie mense is bekommerd oor familielede elders, by wie hulle nie tans kan gaan inloer nie.

Ons het al hoe hoër stresvlakke om te hanteer. Daarom herinner ek jou graag daaraan dat die Universiteit sy personeellede en studente op verskeie maniere ondersteun. Moenie huiwer om van hiervan gebruik te maak nie.

Baie dankie vir die positiewe gesindheid waarmee jy verlede kwartaal aangepak het, ondanks groot druk en onsekerheid. Dosente, studente, navorsers en beamptes in die professionele administratiewe steundienste het in ʼn kort tyd baie vermag en saam baie geleer – uitstekende voorbereiding vir die uitdagings van die toekoms.

ʼn Beperkte getal studente en personeellede begin nou met toestemming terugkeer vir noodsaaklike werk wat net op ons kampusse gedoen kan word. Daarom is dit uiters belangrik dat ons die voorgeskrewe veiligheid- en gesondheidsprotokolle nakom, soos om 'n masker te dra, gereeld hande te was en ons fisiese afstand te handhaaf. Dít geld uiteraard ook diegene wat nog tuis bly.

COVID-19 eis steeds ʼn tol terwyl die internasionale soektog na ʼn entstof en doeltreffender behandelings voortduur. My innige meegevoel aan almal wat weens dié siekte ʼn geliefde verloor het. Die pandemie eis natuurlik ook op ander maniere slagoffers – ekonomies, akademies, maatskaplik en persoonlik. Baie dankie aan almal wat uitreik na ander om te help waar hulle kan.

Ons is ten volle verbind tot al ons personeellede en studente se sukses en welstand. Juis daarom is dit kommerwekkend as dinge skeefloop – soos wanneer geslagsgeweld voorkom. Dít kan nie geduld word nie, en ons sal nie skroom om ferm op te tree nie. Die onlangse voorval op ons Tygerberg-kampus kry tans dringend aandag en ons sal die Universiteitsgemeenskap op hoogte hou. Voorts sien ek uit na die konsepverslag van ons gesamentlike werkgroepe teen geslagsgeweld wat eersdaags voor die Rektoraat sal dien. Benewens bestaande maatreëls streef ons na ʼn gesamentlike plan van aksie wat wyd steun geniet en die verlangde resultate sal oplewer.

Ons moet aan ons samehang as 'n universiteitsgemeenskap bly werk, veral noudat ons nie almal fisies saam kán wees nie, en in die lig van groot druk op die maatskaplike weefstof van ons breër samelewing.

Ek hoop jy het die afgelope ruk 'n geleentheid gehad om uit te rus. Dit is belangrik om van tyd tot tyd ʼn blaaskans te neem. Soos ek al vantevore gesê het, is ons duidelik besig met ʼn marathon, nie ʼn naelloop nie. Ons moet ons stamina opbou, want daar lê nog ʼn lang pad voor.

In ʼn wedloop soos dié is wilskrag uiteindelik net so belangrik soos spierkrag. Om in moeilike omstandighede vas te byt en deur te druk verg baie van ʼn mens – fisies én psigies. Maar as ons bly saamwerk as 'n span, is daar by my geen twyfel dat ons die uitdagings wat ons in die gesig staar, te bowe sal kom nie.

Kom ons kyk mooi na onsself en na mekaar.

Wim de Villiers
Rektor en Visekanselier