Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
EBW-fakulteit betreur heengaan van dr Babita Mathur-Helm
Outeur: Ronél Beukes
Gepubliseer: 16/07/2020

​Die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe het met leedwese verneem van die afsterwe van kollega dr Babita Mathur-Helm ná 'n kort nie-COVID-verwante siekte. As Senior Dosent wat in 2002 by USB aangesluit het en in leierskapsontwikkeling, genderstudies en vroue in die werkplek gespesialiseer het, was sy een van die Bestuurskool se langsdienende personeellede.

Haar navorsingsbydraes is in verskeie akademiese joernale gepubliseer. Meer onlangs het haar navorsing oor die 'Queen Bee'-sindroom – wat die kollig laat val op die onwilligheid van sommige vroue in uitvoerende bestuursposte om ander vroue in die Suid-Afrikaanse werksomgewing te bevorder – aansienlike mediablootstelling ontvang.

'n Raak beskrywing deur prof Solosh Pillay, visedekaan van Sosiale Impak en Transformasie, lui: “Babita het diep spore getrap en het 'n betekenisvolle bydrae tot die Fakulteit se tranformasiebesprekings gemaak. Sy was inderdaad 'n buitengewone individu, leermeester, akademikus en moeder".

Dekaan Ingrid Woolard het haar innige simpatie namens die Faklteit met dr Mathur-Helm se geliefdes betuig, veral haar seun Arian, en haar familie en vriende, beide plaaslik en oorsee.

  • 'n Aanlyn-huldigingsgeleentheid sal op Maandag, 20 Julie 2020 van 16:00 tot 17:00 gehou word. Indien u by die geleentheid wil aansluit, kliek asb. hier​ om te antwoord en daarvoor te registreer sodat u die betrokke skakel kan ontvang.