Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Jongste oor die uitkoms van formele ondersoek: “Die artikel”
Outeur: Prof Eugene Cloete
Gepubliseer: 12/06/2020

''n Akademiese artikel, “Age and education-related effects on cognitive functioning in coloured South African women" deur navorsers van die Universiteit Stellenbosch wat in April 2019 verskyn het, het erge aanstoot gegee. Dit het egter tot gevolg gehad dat die Universiteit 'n aantal ondersoekende en voorkomende stappe gedoen het.

Ten tye van die voorval het die US onvoorwaardelik om verskoning gevra vir die trauma wat dit vir verskeie belanghebbers veroorsaak het, terwyl die artikel teruggetrek is – 'n stap wat die US ten volle ondersteun het.

Verskeie partye het gewonder hoekom die Universiteit se Navorsingsetiekkomitee (NEK) nie die inhoud van die artikel raakgesien het nie en dit is dus geïmpliseer dat hulle nie hul werk met die nodige sorg doen nie. Die NEK het nie enige jurisdiksie oor die publikasie van artikels nie en aanvaar dat navorsers volgens die goedgekeurde protokol sou optree en deur die etiese riglyne van die vakgebied en die vaktydskrif gelei sal word. Dit is nie deel van die mandaat (of versoenbaar met die kapasiteit) van die NEK om die inhoud van artikels en ook die uiteindelike produkte wat uit 'n navorsingsprojek kan voortspruit, te monitor nie. Die NEK laat die etiese verantwoordelikheid vir publikasies wat uit goedgekeurde studies voortspruit, aan die navorsers oor. Die NEK verwag van navorsers om die etiese riglyne van hul eie vakgebiede na te kom wanneer hulle werk in 'n spesifieke vaktydskrif verskyn.

Daarom is 'n formele ondersoekkomitee aangestel om verskeie aspekte rakende die artikel te ondersoek. Die komitee het tot die gevolgtrekking gekom dat die artikel nie in ooreenstemming met die NEK se goedgekeurde protokol was nie. Hoewel die navorsingsmetodologie wat vir etiese klaring ingedien is, versoenbaar was met die gestelde doelwitte en doelstellings van die navorsingsprojek, was die uiteindelike gepubliseerde artikel NIE op die toepaslike metodologie gegrond om bevolkingsgebaseerde gevolgtrekkings oor “bruin Suid-Afrikaanse vroue" te maak nie. Die ondersoekkomitee het ook tot die gevolgtrekking gekom dat daar geen aanduiding vir die NEK was dat die resultate van die studie in terme van rasse-veralgemenings aangebied sou word nie, en dat hulle nie die studie as sodanig goedgekeur het nie. Dit het die NEK vrygespreek van enige verkeerde optrede en/of nalatigheid.

Die ondersoekkomitee kon geen doelbewuste bedoeling om die betrokke rolspelers te mislei, of geen kwaadwilligheid vir die skryf van die artikel vind nie – die navorsers het naïwelik die inhoud van die artikel as versoenbaar met die navorsingsneigings in hul vakgebied beskou.

Die ondersoekkomitee het dus aanbeveel dat die US 'n breë opvoedkundige en voorkomende benadering moet volg om te voorkom dat so 'n ongelukkige voorval weer plaasvind.

Sedertdien is die verslag aan die volgende liggame voorgelê en aanvaar:

  1. ​Die US-raad
  2. Die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe
  3. Die US se Institusionele Forum
  4. Die departement Sportwetenskap in die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe
  5. Die US-senaat
  6. Die voorsitter van die NEK wat die studie goedgekeur het
  7. Die US se Navorsingskomitee van die Senaat
  8. Die US se Oudit- en Risikokomitee
  9. Die Rektoraat van die US
  10. Die US se Etiese Komitee van die Senaat
  11. Die Nasionale Navorsingstigting (wat die studie befonds het)

Die Universiteit het verder ook ten volle op 'n versoek om inligting van die Menseregtekommissie gereageer nadat 'n klag by die kommissie ingedien is.

'n Oudit van navorsingsprosesse by die US wat deur die Raad se Oudit- en Risikokomitee aangevra is, is laat 2019 deur die Universiteit se interne ouditeure gedoen en hierdie ouditverslag met sy aanbevelings is vroeg in 2020 gefinaliseer.

Gegewe die ongelukkige verloop van gebeure, is die volgende aanbevelings van die ondersoekkomitee oor die pad vorentoe aanvaar:

Voorkomende stappe wat deur die US gedoen is, sluit die volgende in:

  • Die Universiteit het amptelik die “wêreldwye gedragskode vir navorsing in omgewings wat arm is aan hulpmiddele" (Global Code of Conduct for Research in Resource-Poor Settings) aanvaar.
  • Die ontwikkeling van konsensuele riglyne vir navorsers rakende navorsing oor rassekategorieë en ander sosiale konstrukte.
  • Die ontwikkeling van 'n stel kort aanlyn-video's om bewustheid oor navorsingsintegriteit en etiese navorsingsgedrag te skep.
  • Die Senaat se aanvaarding van 'n mosie om opleiding te verskaf en bewustheid te skep oor antirassisme, demokrasie en kritiese burgerskap; en verpligte opleiding vir US-personeel en studente oor verantwoordelike navorsingsgedrag.
  • 'n Besluit dat sosiale impak-projekte in die toekoms aan etiese oorweging onderhewig sal wees.
  • Strategiese fondse is beskikbaar gestel om pogings om bewustheid oor navorsingsetiek te skep, te help en om opvoedingsprosesse by die US te verbeter.

Prof Eugene Cloete

Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studies