Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Wanneer ons opvoeding skade aanrig
Outeur: Nuraan Davids
Gepubliseer: 11/06/2020

Na aanleiding van berigte van rassisme by sommige hoër skole in Kaapstad se suidelike voorstede, skryf prof Nuraan Davids van die Departement Opvoedingsbeleidstudie in ʼn meningsartikel vir Cape Argus (11 Junie) dat skole veilige ruimtes behoort te wees waar leerders en onderwysers welkom voel.

  • ​Lees die vertaalde weergawe van die artikel hier onder.

Nuraan Davids*

Verlede Dinsdag (2 Junie) het leerder na leerder hulle tot sosiale media gewend om skandelike stories oor hul ondervindings by 'n hele aantal hoërskole in Kaapstad se suidelike voorstede te deel. Wat as 'n wêreldwye Instagram-neiging begin het – black lives matter so let's #blackouttuesday with a black square – met skole wat ondersteunende boodskappe geplaas het, het gou in 'n reeks baie ontstellende vertellings van leerders oor rassisme, diskriminasie, vernedering en uitsluiting ontaard.

Soos ek deur die een plasing na die ander gelees het, het die wasige ondervindings van leerders se vernedering, uitsluiting en ontmensliking gou genoeg so gesneeubal dat dit my laat begin twyfel het oor wat ek aan my eie kinders gedoen het deur hulle na dieselfde skole te stuur wat nou in sosiale media beswadder word. Wat het ek gehoop om te bereik deur historiese wit skole vir my kinders te kies terwyl hulle nie wit is nie? Hoekom het ek eenvoudig nie my by myself gehou en dit wat Apartheid so hard probeer het om by ons in te prent – dat my andersheid 'n onvergeeflike agterstand is – gevolg nie? My antwoord is redelik eenvoudig: Ek glo in die mens se vermoë om goed te wees en te doen, en ek dring daarop aan dat onderwysers die voorbeeld van hierdie goedheid moet wees.

Ja, ek is deeglik bewus van die werklikheid in Suid-Afrika dat, ondanks die ideologiese ondergang van Apartheid, rassisme, en die vernedering van ander wat daarin ingebed is, Suid-Afrika nog net so min verlaat het as wat dit die wêreld se sogenaamde grootste demokrasie, die VSA, verlaat het. Dit wil voorkom asof rassisme 'n deel van die menslike toestand is. Daarom is die skade wat dit aanrig, nie net tot die onderdruktes beperk nie.

Wanneer wit mense in hul eie oppermag glo en openlik beskrywings van wit-voorreg wegwuif, wys hulle dat hulle nie die vermoë het om presies te verstaan hoe kragtig en sistemies ras mense se narratief en lewens beheer nie. Dieselfde onvermoë – wat sommige onkundigheid sal noem – is duidelik in 'n verklaring wat een van die skole in reaksie op die plasings uitgereik het: “Ons [die skool] sal nie toelaat dat die gedrag van 'n paar bitterbekke ons reputasie of die algemene begrip van 'n uitstekende skool beswadder nie." Kom ons ontleed hierdie opmerking (of is dit 'n dreigement?) wat 'n mens na jou asem laat snak.

Eerstens, vergeet van die spreekwoordelike “ons", wat so dikwels deur mense wat te bang is om vir hulself te praat, gebruik word. Tweedens moet selfs net een “bitterbek" soos die soort op sosiale media sekerlik genoeg wees vir selfondersoek, eerder as hierdie flagrante vertoon van miskenning? Derdens, indien daar wel enige sprake van beswaddering hier is, hoe sal die skool sy onderwysers, wat (meer as een keer) van verfoeilike gedrag beskuldig word, beskryf, en hoe sal die skool homself in sy eie verewiging van hierdie optrede beskryf deur nie teen hierdie onderwysers op te tree nie. Verantwoordbaar. En my laaste vraag aan hierdie en ander skole wat dalk op die punt staan om soortgelyke verklarings uit te reik, is dit: Wat maak julle skool so wonderlik?

Natuurlik is dit waar dat hierdie skole talle uitstaande jongmense gehelp vorm het. Maar dit is net so waar dat hulle jongmense opgelewer het wat deur onderwysers en omgewings wie se etiese verantwoordelikheid dit is om te beveilig en te koester eerder as om af te breek, seergemaak en getraumatiseer is. Of skole dit wil erken of nie, hierdie plasings wat gevul is met pyn en woede, is net soveel deel van hul nalatenskap as wat hul beweerde edelheid is.

Wanneer ons oor rassistiese voorvalle by sommige skole in die suidelike voorstede nadink, moet ons ook oor die sosialisasie van ons jong mense dink. Jongmense het die kuns verfyn om dit wat hulle sien, na te volg, eerder as om voorgesê te word wat hulle moet doen. Indien hulle in rassisme en die miskenning van ander gesosialiseer word, is dit waarskynlik die tipe volwassenes wat hulle gaan word. En hier fokus ek my aandag op ouers wat nooit op die kantlyn van hul kinders se opvoeding moet staan nie. Wat leer jy jou kinders by die huis? Watse voorbeeld stel jy? Sê jy iets wanneer jy bewus word van wreedhede wat by jou kind se skool gepleeg word, en nie net wanneer jou eie kind betrokke is nie?

Jou stilte oor hierdie sake spreek boekdele vir jou kinders. Skole moet en behoort fantastiese plekke te wees waar jongmense uit verskillende agtergronde kan saamkom en saamwees. Hulle moet plekke wees waar almal voel hulle behoort. Dit is duidelik uit hierdie plasings dat iets in die gewete van jongmense ontwaak het teen die agtergrond van 'n Amerika wat tans polities en maatskaplik op sy knieë is.

Daar is baie teenstellings in die opvoedkunde – dit kan gebruik word om te bevry en dit kan gebruik word om te oorheers en te onderdruk, soos wat die geval gedurende Apartheid was. Wat onveranderlik bly, soos die Amerikaanse romanskrywer en aktivis James Baldwin ons herinner, is dat “namate 'n mens se bewustheid begin ontwikkel, begin jy die samelewing waarin jy opgevoed word, ondersoek". Dit wil lyk asof ons jongmense begin bewus word van hul opvoeding; hulle sien die kwaad wat aan hulle gedoen word, raak; dat hulle iewers langs die pad daarvan ontneem is om ten volle as mense raakgesien te word. Nog belangriker is dat hulle besef dat hul opvoeding hulle nie voldoende voorberei het op die samelewing waarin hulle nou hul pad moet vind nie. Dit is moeilik om te dink hoe die skole wat in die treurmare van plasings genoem word, soos gewoonlik kan voortgaan. Daar kom ernstige verwringing en oortredings in hierdie skole voor wat  eenvoudig net nie met oppervlakkige beleidsverandering aangespreek kan word nie. Wat hier van belang is, is etiese kwessies oor wat dit beteken om met menslikheid en waardigheid op te tree.

Die vraag is dus nie of ons skole bewus is van die tipes opvoedkundige ruimtes wat hulle verskaf nie, maar of hulle 'n gewete het oor wat reeds in hul “wonderlike" naam gedoen is. Die tyd het aangebreek vir skole om daad by hul woord te voeg. Ons moenie vergeet dat die “wonderlike" name wat skole so maklik kan aanhaal in hul regverdiging van ongeregtigheid, opgebou is en opgehou word deur die meganismes van 'n ongelyke onderwysstelsel nie. 'n Stelsel wat steeds in versteekte toelatingsvereistes vir sekere tipes leerders, die aanstelling van onderwysers en 'n klimaat van vervreemding floreer wat ongelykmaking en die verlies aan individuele identiteit as 'n vorm van aanvaarding vereis.

Dit het tyd geword om “wonderlikheid" te herdefinieer – om 'n definisie te vind wat by die beginsels van demokratiese geregtigheid, eerder as apartheid en koloniale venynigheid, aanklink vind. 'n Goeie vertrekpunt sal wees dat skole van daardie individue ontslae raak wie se rassisme net skade aanrig aan almal met wie hulle in aanraking kom. Niks goeds kan van sulke mense kom nie en die onderwys is beslis nie 'n beroep vir sulke lafhartigheid nie. Ten slotte, die feit dat oud- en huidige leerders hulself tot 'n openbare ruimte gewend het om hul frustrasies, woede en pyn te lug, bevestig dat hulle nie hul skool as 'n veilige ruimte beleef het nie. Om hierdie werklikheid te ontken, sal baie min vir die toekomstige “wonderlikheid" wat hierdie skole vir hulself in die vooruitsig stel, doen.

*Prof Nuraan Davids is 'n professor in Opvoedkundige Filosofie in die departement Opvoedingsbeleidstudies aan die Universiteit Stellenbosch.