Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
SU alumni maak ’n verskil gedurende pandemie
Outeur: Asiphe Nombewu /Corporate Communication
Gepubliseer: 11/06/2020

'n Toepassing en stelsel wat deur 'n huidige student en drie oudstudente van die Universiteit Stellenbosch (US) ontwikkel is, help nieregeringsorganisasies (NRO's) om hulp te verleen waar dit die nodigste is.

Weens die COVID-19-pandemie en staat van inperking, is die span van African Data Technologies deur Stellenbosch Unite genader. Stellenbosch Unite is 'n hulp-aksiegroep wat ten doel het om maatskaplike hulp aan kwesbare lede van die gemeenskap gedurende die pandemie te verskaf. Die inisiatief fasiliteer samewerking tussen die Stellenbosch Munisipaliteit, die Universiteit Stellenbosch, Visit Stellenbosch ('n burgerlike vereniging), Ranyaka en SCAN (Stellenbosch Civil Advocacy Network wat die niewinsgewende sektor verteenwoordig) en die Groter Stellenbosch Ontwikkelingstrust (administrateurs).

Wihan Bekker, 'n meestersstudent in Siviele Ingenieurswese, en alumni dr Patrick Okonkwo, Riaan Truter en Jean Pierre du Plessis, het die Stellenbosch Unite-toep, wat vir personeel en vrywilligers van Stellenbosch Unite beskikbaar is, ontwikkel om te help om nuwe begunstigdes digitaal te registreer en die gebruik van pen en papier tot 'n minimum te beperk.

Die 25-jarige sê datavaslegging is noodsaaklik om enige gemeenskapshulpinisiatief doeltreffend te bedryf. “Ons het 'n databasis ontwikkel wat die logistiek, navolging van voorraad en die vaslegging van begunstigdes vir die Stellenbosch Unite-netwerk hanteer.

“Nadat begunstigdes op die toep geregistreer is, verwerk ons die inligting en sover het ons 9 000 gesinne geregistreer. Ons gebruik ook die stelsel om voorraad van grootmaat skenkings, vrywillige skenkings en voedsel wat met geldelike skenkings aangekoop word, na te gaan," voeg hy by.

Hy sê NRO's het hulp nodig gehad om tred te hou met die begunstigdes op hul lyste en om dupliserings op te spoor. Dit het gelei tot die ontwikkeling van die gebruikersvriendelike toepassing vir vrywilligers en plaaslike koördineerders wat in staat is om met slimfone te werk.

“Ek en my span was vinnig om ons vaardighede vir die goeie saak aan te wend om te help verseker dat die hulp diegene wat dit die nodigste het, bereik. Hierdie werk is baie belangrik vir ons, en ons vennootskap met Ranyaka was van onskatbare waarde aangesien dit sal verseker dat die kwesbaarste begunstigdes gedurende hierdie tyd bygestaan word. Dit maak COVID-19 hulplenigingspogings meer doeltreffend," sê Bekker. wat ook die HUB van African Data Technologies is.

Dr Okonkwo het beide sy meestersgraad en PhD in Ingenieurswese aan die US behaal en Du Plessis het sy voorgraadse studies en meestersgraad in die Regte aan die US voltooi. “Ons is entrepreneurs wat gemotiveerd word deur die maatskaplike kwessies wat ons land ondervind. Die kernfunksie van ons maatskappy is om data vas te lê en die geldigheid daarvan te bepaal en dit is hoekom ons ons dienste gedurende hierdie tyd aangebied het."

Bekker se droom is om African Data Technologies uit te bou om 'n leier te word in die implementering van data-gedrewe oplossings wat 'n meetbare en transformerende uitwerking op maatskaplike en omgewingskwessies het namate hulle die onderneming laat groei.

Dr Leslie Van Rooi, Senior Direkteur: Sosiale Impak en Transformasie by die US, sê die Universiteit is trots daarop om die werk wat Stellenbosch Unite in die groter Stellenbosse gemeenskap doen, te ondersteun “Ons doen dit deur finansiële bydraes, vrywilligers en steunwerwing. Dit is wonderlike om te sien hoe ons dorp saamtrek ter ondersteuning van diegene wat direk en indirek deur die COVID-19-pandemie geraak word" voeg hy by.

NRO's kan met die maatskappy in verbinding tree deur op die volgende skakel te klik: https://www.africandatatechnologies.com/