Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
SR stel hul "Skoon-veldtog" bekend
Outeur: Students' Representative Council (SRC) / Studenteraad (SR)
Gepubliseer: 04/06/2020

Die eerste toetsweek van die akademiese kalender, wat berug is daarvoor dat dit 'n stresvolle tydperk vir alle studente is, bring vanjaar nuwe en uitdagende omstandighede mee. Vanweë die verwoesting wat die COVID‑19‑pandemie saai, is dit noodsaaklik dat ons as studenteleiers proaktiewe stappe doen om die welstand van ons mede-Maties te verseker. Dit het tot die totstandkoming van die Skoon‑veldtog, 'n gesamentlike poging deur die Studenteraad (SR), die Tygerberg Studenteraad, die Militêre Akademiese Studenteraad en die studente‑opheffingsgroep Grace‑to‑Grace, gelei.

Die eerste fase van hierdie Veldtog het voor die implementering van die nasionale inperking begin. Dit is deur middel van 'n sosialemedia‑veldtog op verskillende studenteplatforms gedoen en was daarop gemik om paniek onder studente te verminder deur die nodige inligting te voorsien om hulself en diegene om hulle te beskerm. Skoon‑veldtogplakkate met noodkontaknommers, skoonmaaktegnieke en ander inligting wat met studenteveiligheid te make het, is ook versprei.

Met die hulp van die Universiteit Stellenbosch (US) se Rektoraat en die Afdeling Studentesake is ons nou besig met die laaste voorbereidingstadia vir die verspreiding van 1 500 Skoon‑sorgpakkies oor ons kampusse heen. Hierdie pakkies bevat 'n Skoon‑veldtogbrosjure, handontsmetmiddel en 'n gesigmasker om studente behulpsaam te wees wat in die grendeltyd steeds in 'n koshuis of privaat akkommodasie op kampus woon. Klik hier om die Skoon‑veldtogbrosjure as 'n PDF af te laai.

Alhoewel die vraag na hierdie produkte die aanbod verreweg oorskry, is daar nie 'n tekort aan talentvolle en vindingryke individue by die US nie. Met die hulp van verteenwoordigers van die koshuise en private studente‑organisasies hoop ons dus om kontak te maak met studente wat bereid is om hierdie Veldtog te steun en daarby betrokke te raak. Die volgende fase van die Skoon‑veldtog is om 'n platform te skep waar studente hul idees kan uitspreek en tot die skep van 'n veiliger leer‑ en sosiale omgewing kan bydra.

Ons hoop dat ons ander instellings, besighede en individue deur hierdie Veldtog kan aanmoedig om te verstaan dat ons saam in hierdie ding is en dat ons mekaar slegs kan beskerm deur saam te werk. Kontak ons gerus by sr@sun.ac.za om deel te vorm van ons projek.