Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Verhale van die 1918 Spaanse griep-pandemie kan ons vandag help
Outeur: Corporate Communication/Sandra Mulder
Gepubliseer: 28/05/2020

​'n Navorsingsprojek aan die Universiteit Stellenbosch (US) wat in 2018 (wat ook die honderdjarige herdenking van die Spaanse griep was) begin het, is nou nog baie meer toepaslik met die uitbreek van die COVID-19-pandemie.

Die studie, “Ontleding van die verspreiding en erns van die Spaanse griep van 1918", het ten doel om die uitwerking van die griep te ontleed deur rekords van die Spaanse griep-pandemie in Suid-Afrika oor te skryf. Hierdie verslae – wat onder meer uit doodsertifikate en koerantuittreksels van 1918 bestaan – bied insigte oor hoe die griep versprei het, hoe die regering probeer het om die verspreiding van die virus te voorkom en wie in die pandemie gesterf het.

Prof Johan Fourie, 'n medeprofessor in ekonomie en geskiedenis, staan aan die hoof van die navorsingspan. Hoewel die projek nog voorlopig is, sê Fourie hulle het reeds 'n paar ooreenkomste in tendense tussen die Spaanse griep-pandemie van 1918 en die COVID-19-pandemie begin sien.

“Die inligting kan ons help om te verstaan waarom daar hoër sterftesyfers onder sekere groepe mense as ander was. Ons vind byvoorbeeld dat voorheen benadeelde groepe gedurende die pandemie van 1918 nie toegang tot goeie mediese sorg gehad het nie. Een les wat ons vir vandag kan leer, is dat ons genoeg hulpbronne aan mense wat reeds swak toegang tot mediese sorg het, moet verskaf, want hulle sal waarskynlik die ergste onder die uitbreek van COVID-19 ly," sê Fourie.

“Die Spaanse griep het nie net die ongelykhede blootgestel nie, maar dit ook vererger," sê Fourie. In vergelyking met toegang tot mediese sorg in die drie jaar voor die griep, het benadeelde groepe gedurende die Spaanse griep veel minder toegang tot mediese behandeling gehad as voor of daarna. “Dit is waarom goedgerigte mediese ingryping vir die armstes in die samelewing so uiters belangrik is," verduidelik Fourie.

Een van die rekords wat ontleed is, is dié van die 18-jarige Wills Bunu en sy gesin van Cimezile, 'n distrik suid van Queenstown. Ses lede van die Bunu-gesin en Wills Bunu is in Oktober 1918 oorlede. Hulle was onder die duisende Suid-Afrikaners wat gedurende September en Oktober gesterf het, wat daartoe aanleiding gegee het dat dié tydperk “Swart Oktober" gedoop is.bunu.jpg

Wills en sy gesin het siek geword nadat soldate wat in die Eerste Wêreldoorlog geveg het en die virus onder lede gehad het, op Queenstown aangekom het.

Die vreugde om saam met sy gesin te boer, eindig toe “Swart Oktober" vyf van sy gesinslede oor die verloop van vyf dae eis, gevolg deur Wills se driejarige suster, Canyiwe, en hy sterf self twee dae later. “Hierdie gegewens toon onder meer die oorledene se ouderdom, beroep, etnisiteit, huwelikstatus, asook die oorsaak van die dood en hoe lank die persoon siek was," sê Fourie.

“Die tragiese Oktober vir Wills Bunu en sy gesin was moontlik nie verniet nie. Die sterfterekords wat behoue gebly het en die ontleding daarvan, kan ons help om uit die verlede te leer en om te verstaan hoe die Spaanse griep duisende lewens geëis het," sê Fourie.

Ander inligting uit die ontleding toon dat die kwesbaarste mense 'n hoër sterftesyfer gehad het en dat die siekte in sommige dorpe, soos Simonstad, vinnig versprei het voordat hulle 'n plato bereik het. Fourie verduidelik dat die verspreiding van die griepvirus verband kan hou met die verskillende plaaslike regerings se reaksies op die pandemie en watter prosedures hulle toegepas het om die “kromme laag te hou" en die verspreiding van die virus te voorkom. Die inligting oor die formele ingrypingsprosesse van 1918 kom uit plaaslike nuusberigte van daardie tyd.

“Soos ons meer van hierdie dorpe se sterfterekords transkribeer en nog meer kwalitatiewe inligting versamel om ons data aan te vul, gaan ons nader aan die antwoord beweeg oor watter regeringsingrypings die doeltreffendste was. Hierdie inligting kan vandag baie nuttig wees," sê Fourie.

Fourie koördineer 'n interdissiplinêre navorsingsgroep, LEAP (Laboratory for the Economics of Africa's Past), wat hom op navorsing oor Afrika se ekonomiese geskiedenis toespits, en die “Biography of an Uncharted People"-projek. Hierdie navorsingsprojek maak deel uit van die US se departement Geskiedenis en die “Biography of an Uncharted People"-projek wat deur die Andrew Mellon-stigting befonds word.

LEAP val onder die departement Ekonomie aan die US en behartig die kwantitatiewe studie van die ekonomiese en sosiale geskiedenis van Afrika. Die “Biography of an Uncharted People" het samewerking met die departement Geskiedenis moontlik gemaak, en die omvang van die werk strek verder as die ekonomiese geskiedenis om ook maatskaplike, demografiese, finansiële en familiegeskiedenis in te sluit.

Die studentenavorsers wat by die projek betrokke is, is van links na regs:Spanish flu banner.png

Me Kelsey Lemon, 'n MA-student in die departement Geskiedenis aan die US. Sy het in 2019 haar honneursgraad in Geskiedenis voltooi, met die fokus op die versoeke van Kaapse vroue in die laat negentiende eeu. Haar meestersstudie sal die veranderende gesig van openbare gesondheidstelsels in Suid-Afrika ná die Spaanse griepepidemie van 1918 ondersoek.

Mnr Jonathan Jayes is 'n meesterstudent in Ekonomie. Hy het Ekonomie en Ekonomiese Geskiedenis aan die UK gestudeer voordat hy in 2019 na Stellenbosch verskuif het. “Een ding wat my met hierdie projek opgeval het, is die rykheid van die data. Die data maak dit moontlik om neigings volgens ras, geslag, dorp en die oorsaak van dood waar te neem. Dit vertel 'n verhaal oor die verspreiding van die Spaanse griep, "sê Jayes.

Dr Elie Murard, wat sy PhD aan die Paryse Skool vir Ekonomie verwerf het, was vier jaar lank 'n navorsingsassistent by die Research Institute IZA in Duitsland. “Toe ek van LEAP hoor, was ek opgewonde oor die idee om by die belowende “Biography of an Uncharted People"-projek aan te sluit en oor die moontlikheid om voorheen onverkende bronne van demografiese data te kan gebruik," sê Murard.

Dr Young-ook Jang, 'n postdoktorale navorsingsgenoot in die LEAP- en die “Biography of an Uncharted People"-projek, wat 'n PhD aan die Londonse Skool vir Ekonomiese en Politieke Wetenskap voltooi het met sy tesis oor migrasie en etniese diversiteit in die Sowjet-ruimte.

Dr Kate Ekama, 'n postdoktorale navorser en opgeleide geskiedkundige, sê die Spaanse griepprojek stem met haar navorsing ooreen. Haar doel is om individue wat by die geskiedenis uitgesluit is, of wat nie veel aandag van navorsers geniet het nie, te visualiseer en hulle aan die groter vertellings van sosiale, institusionele en ekonomiese verandering plaaslik en wêreldwyd te koppel. Ekama se rol in die projek is onder meer om navorsingsgebaseerde onderbenutte bronne soos moderne koerante en Staatskoerante by te dra.

Prof Johan Fourie, 'n medeprofessor in ekonomie en geskiedenis.

Dr Kara Dimitruk is 'n postdoktorale genoot verbonde aan die US se departement Ekonomie en het in 2018 haar doktorsgraad in Ekonomie aan die Universiteit van Kalifornië behaal. Vir die studie oor die Spaanse griep help sy om die plaaslike regeringsintervensies aan die hand van geskiedkundige koerante te dokumenteer.