Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
COVID-19: Verwaarloosde SA-weermag staar onmoontlike taak in die gesig
Outeur: Lindy Heinecken
Gepubliseer: 06/04/2020

Die Suid-Afrikaanse weermag moet help om wet en orde gedurende die inperkingstyd te handhaaf. Dit gaan egter nie so maklik wees om die verlangde pligte uit te voer nie meen prof Lindy Heinecken van die Departement Sosiologie en Sosiale Antropologie in ʼn onlangse artikel (2 April) wat deur The Conversation geplaas is.

  • Lees die vertaalde weergawe hier onder of klik hier vir die gepubliseerde artikel.

COVID-19: Verwaarloosde SA-weermag staar onmoontlike taak in die gesig

Die Suid-Afrikaanse Weermag is landwyd in gemeenskappe ontplooi ter ondersteuning van pogings om die COVID-19-virus in bedwang te hou, en om te help om burgers se lewens te red.

Volgens die opdrag om COVID-19 te help bekamp, sal die weermag onder meer kwarantyngeriewe beskerm, voedsel en ander noodsaaklike voorrade by massabergingsgeriewe aflewer, die polisie help om mense se bewering in te perk, padversperrings hou en onrus te bekamp.

Maar kan dit hierdie pligte uitvoer? Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag is gedurende die afgelope 25 jaar van demokrasie geweldig verwaarloos. Die gevolg is dat dit in hierdie krisistyd dalk nie in staat sal wees om genoeg troepe bymekaar te kan bring om die algehele inperking te handhaaf nie.

Lede van die Suid-Afrikaanse Militêre Gesondheidsdiens is ook ontplooi om gesondheidsondersteuningsdienste te lewer. Maar volgens amptelike berigte is slegs 2 820 soldate ontplooi.

Die leër het nou slegs 14 infanteriebataljonne wat uit elk uit sowat 810 mans en vroue bestaan – insluitende 34 offisiere. En baie soldate is eenvoudig net nie ontplooibaar nie, weens swak gesondheid en ander beperkinge in mannekrag, of weens ander verpligtinge soos grensbeheer.

In sy huidige toestand kan die weermag nie aan die eise voldoen wat op die mag geplaas is om die coronavirus te beveg nie; dit is bykomend tot dienste soos vredesendings en 'n magdom ander take wat strek van noodleniging tot die versterking van binnelandse veiligheid en sekerheid en die veilige bewaring van ons grense.

Nog 'n groot bron van kommer is dat soldate nie in onlustebeheer opgelei nie en hulle het nie die geskikte toerusting hiervoor nie. Dit kan daartoe lei dat hulle uitermatige geweld in ooreenstemming met hul opleiding teen burgerlikes kan gebruik in reaksie op oproerigheid.

Waarom is die leër in so 'n haglike toestand?

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag se swak vermoë om aan sy mandaat om die republiek teen buitelandse aanvalle te beskerm, strek verder as net blote begrotingsbeperkinge. Daar was die afgelope 25 jaar baie min of feitlik geen organisatoriese transformasie vir die hersamestelling van die struktuur en ontwerp van die mag om om aan huidige werklikhede te voldoen nie. 

Magstrukture beskryf hoe militêre personeel, hul wapens en toerusting vir militêre optredes, missies en take georganiseer word. Magsontwerp hou verband met die vorm, struktuur en doel om aan operasionele behoeftes te voldoen.

Die weermag is egter in die prosesse van politieke transformasie geabsorbeer, waar die fokus feitlik uitsluitlik daarop was om te verseker dat dit verteenwoordigend van die breër samelewing is. Die regering se aandag is ook in beslag geneem deur die proses om die weermag ondergeskik aan burgerlike beheer te kry.

Ek verduidelik hierdie prosesse en die uitwerking daarvan in my nuwe boek, South Africa's Post-apartheid Military: Lost in Transition and Transformation (Juta: 2019). Albei prosesse het gebrekke en het 'n negatiewe uitwerking op die weermag se doeltreffendheid, effektiwiteit en professionalisme

Waar militêre generaals uit misplaasde politieke lojaliteit funksioneer, lei dit noodwendig tot 'n ineenstorting van die bevelsorde.

Tweedens, in terme van burgerlike oorsig, beïnvloed nie-militêre mense se gebrek aan kennis oor militêre sake die gehalte van debatte oor weermagsake. Dit stel ook beleidsformulering en advies rakende die weermag se strategiese rigting in gevaar.

Nog 'n probleem is die uitwerking van die transformasie van kulturele en menslike hulpbronne Dit fokus op die aanspreek van geskiedkundige ongelykhede soos rasse- en geslagsdiskriminasie en arbeidspraktyke. Hier was daar 'n heelwat uitdagings, soos die hantering van die uitwerking van HIV en vigs en militêre unies.

Daar is groot aantal militêre personeel wat nie aan gesondheidsvereistes voldoen nie. Dit beïnvloed alle generiese personeelprosesse, insluitende opleiding, ontplooiing en onderhoud- en ondersteuningsfunksies.

Die weerwag staar ook talle ander menslike hulpbronne-uitdagings in die gesig. Dit het 'n groot tekort aan vaardighede, wanbalanse ten opsigte van personeelstrukture en is nie in staat om sy magte te verjong nie. Dit het tot 'n verouderende mag en rangstagnering gelei, wat beteken mense kan nie bevorder word nie. Die reserwes, wat opgeroep word onder die Wet op Rampbestuur, 2002 (Wet 57 van 2002), is in 'n soortgelyke toestand. Met 'n mannekragsterkte van 20 000 en 'n gemiddelde ouderdom van 43 jaar, is die vermoëns van hierdie reserwemag beperk.

Waagstuk

Hierdie kwessies rakende politieke, kulturele en menslike hulpbronne het die weermag se aandag afgelei van fokus op die dringende kwessies van operasionele en organisatoriese hervorming.

Die 2015 Defence Review sit die toekomstige veiligheidslandskap uiteen. Voorrangtake sluit in om Suid-Afrika te verdedig en te beveilig, die bevordering van vrede en sekerheid en die uitvoering van ontwikkelingstake. Maar hierdie ideale is onrealisties in die lig van huidige begrotingsbeperkings.

Dit sal baie vindingrykheid verg om die land se gewapende magte te herstruktureer om selfs die belangrikste sleutelverpligtinge na te kom, insluitende eksterne veiligheidsbedreigings teen die land en vredesendings in Afrika.

Eksterne bedreigings kan beide tradisioneel of nie-tradisioneel wees, wat streeks- en plaaslike konflikte; gewelddadige politiese, godsdienstige ekstremistiese bedreigings asook terrorisme en hoë vlakke van internasionale misdaad insluit. 

Interne bedreigings sluit in onwettige immigrasie, misdaadsindikate, rampokkery en die hantering van mediese krisisse soos COVID-19.

Wat is nodig?

Die eerste ding wat nodig is om die weermag te herskep, is beslisde, sterk leierskap van politici en militêre leiers. Hulle moet duidelik artikuleer watter vermoëns hulle vorentoe verlang.

Take wat prioriteit moet geniet, sal al hoe meer take wees wat die burgers van Suid-Afrika direk raak, in samewerking met die polisie. Dit sluit die afwering en voorkoming van konflik, die beveiliging van landsgrense, die beskerming van kritieke infrastruktuur en die bevordering van veiligheid en sekuriteit in. Dit sal vir die weermag ontmoontlik wees om binne huidige begrotings- en organisatoriese beperkinge hierdie take doeltreffend uit te voer en steeds tot vrede en stabiliteit op die vasteland by te dra.

Die realiteit is dat Suid-Afrikaanse burgers en politici net in die weermag se sake belangstel wanneer daar 'n krisis is. Die gevolg is dat dit in 'n vakuum opereer.

Die COVID-19-pandemie mag dalk net toon hoe swak die land se weermag is. Dit moet nog gesien word of dit opgewasse vir die taak sal wees wanneer frustrasies wat deur die algehele inperking veroorsaak word, in gewelddadige konflik ontaard. Hoe goed dit die polisie kan help om hierdie geweld in bedwang te bring en te onderdruk, sal baie sê oor die toestand van die land se staat van verdediging.