Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Matie-graduandi kan virtuele toekenning van kwalifikasies volg
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 02/04/2020

3278 graduandi van die Universiteit Stellenbosch (US) sal hierdie Vrydag (3 April 2020) om 14:00 die geleentheid kry om 'n virtuele toekenning van hul kwalifikasies aanlyn te volg. Dit is nadat daar vroeer 'n besluit geneem is om die Maart/April-gradeplegtighede te kanselleer as gevolg van die nasionale inperking.

“Om hierdie belangrike mylpaal te vier, word graduandi, hul familie en vriende genooi om die virtuele verrigtinge aanlyn te volg," verduidelik dr Ronel Retief, die US se Registrateur. Kwalifikasies word in absentia deur die nuwe Kanselier, oudregter Edwin Cameron, toegeken. Regter Cameron, prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier en myself sal ook die verrigtinge aanlyn volg nadat ons ons boodskappe vooraf in ons onderskeie wonings opgeneem het – om te voldoen aan die inperking."

10 min video

Die virtuele toekenning van die kwalifikasies – in die vorm van 'n video wat afgelaai kan word – sal nie langer as 10 minute duur nie ten einde datakostes so laag moontlik te hou.

Daar sal Vrydagoggend 'n skakel na die virtuele verrigtinge op die US se tuisblad (www.sun.ac.za) aangebring word. 'n Video-opname van die verrigtinge sal op die webblad beskikbaar bly vir diegene wat later daarna wil kyk.

Nou die tyd om tot samelewing by te dra

Regter Edwin Cameron, Kanselier, het gesê dat nou, meer as ooit vantevore, behoort ons die geleentheid om tot die samelewing by te dra met oorgawe aan te pak.

Aan graduandi het hy gesê: “Ek hoop die vreugde en trots waarmee ons jou prestasie vier, sal mettertyd in iets selfs kosbaarder ontwikkel – 'n verantwoordelikheid- en pligsbesef. Jou nuwe kwalifikasie, jou nuwe status, bied jou die geleentheid om die kennis, vaardighede en netwerke wat jy deur jou studies opgebou het, te benut om ons land en wêreld 'n beter plek vir almal te maak."

Hy het gesê dat dit vir hom 'n groot eer is om as voorsitter op te tree by die virtuele plegtigheid. “Hierdie spesiale geleentheid is uit buitengewone omstandighede gebore. Die ernstige bedreiging wat COVID-19 inhou, vereis dat ons almal dinge anders doen as waaraan ons gewoond is. Soos president Cyril Ramaphosa egter gesê het: 'As ons saamwerk, sal ons hierdie siekte oorwin. Ek is oortuig dat ons dit sal oorkom.'

“Ek en die Universiteit wil graag ons respek, waardering en gelukwensing uitspreek teenoor alle rolspelers – studente, dosente, studieleiers en promotors. Familielede verdien spesiale vermelding – en so ook al die vriende, skenkers en borge wat die graduandi tot die einde toegewyd en doelgerig help werk het om hulle kwalifikasies te behaal."

Toename in doktorsgrade

Vergeleke met die 2018 akademiese jaar, het 2019 weer 'n toename in nie net die aantal graduandi opgelewer nie (9120 vergeleke met 2018 se 9007), maar ook wat betref die aantal doktorsgrade (361 vergeleke met 2018 se 308).

Retief het bygevoeg dat sertifkate en ander dokumentasie eers na die inperking gepos sal kan word, maar dat haar kantoor tans die moontlikheid ondersoek om grade-dokumentasie elektronies te voorsien aan diegene wat dit dringend benodig, dus vóór die nasionale inperking opgehef word. Verdere inligting in dié verband sal binnekort op die webblad beskikbaar wees.

In haar skrywe aan graduandi het Retief gesê: “Ons bedank jou by voorbaat vir jou begrip gedurende hierdie onseker tydperk en onderneem om jou op die hoogte te hou oor die verspreiding van grade-dokumente soos wat die situasie oor die volgende weke ontvou."

Maart/April-graduandi sal steeds ook die geleentheid hê om aan die Desember-plegtighede deel te neem, na gelang van die heersende omstandighede teen daardie tyd.