Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US-regstudent help vroue & meisies veg teen geweld
Outeur: Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie [Rozanne Engel]
Gepubliseer: 20/03/2020

In 2019 het duisende vroue regoor die land aan protesoptogte teen die toename in geslagsgebaseerde geweld (GBV) deelgeneem.

Onder hierdie vroue was duisende studente wat in die strate gemarsjeer het in reaksie op die gewelddadige moorde op twee medestudente, Jesse Hess van die Universiteit van Wes-Kaapland en Uyinene Mrwetyana van die Universiteit van Kaapstad.

Katy Lund, 'n tweedejaar regstudent aan die Universiteit Stellenbosch, het veral geraak gevoel deur die verkragting van en moord op Mrwetyana, aangesien hulle gemeenskaplike vriende gehad het wat diep deur haar dood geraak is.

“Ek het ná Uyinene se dood baie kwaad en gefrustreerd gevoel oor wat gebeur het. Ek het aan die protesaksies teen geslagsgebaseerde geweld deelgeneem, maar het besef ek is 'n slegte protesganger en het nutteloos gevoel. Protesaksie speel so 'n belangrike rol daarin om verandering teweeg te bring, maar ek het besef daar was ook ander goed wat ek kon doen," vertel Lund.

Nadat sy by verskeie nieregeringsorganisasies (NRO's) in die Wes-Kaap en veral ook by haar geskiedenisonderwyser uit haar hoërskooldae gaan kers opsteek het, het Lund besluit om die NRO Guard Our Girls te stig. Die organisasie samel geld in om pepersproei aan te koop en veral in agtergeblewe gemeenskappe in Kaapstad te versprei.

Lund werk nou saam met die NRO, MOSAIC, in Khayelitsha. Die organisasie help haar om die pepersproei te versprei en fasiliteer werksessies om vroue op te lei oor hoe om dit te gebruik.

“Daar was 'n paar idees om pepersproei op kampus te versprei en ek word dikwels gevra waarom ek dit nie op kampus versprei nie, maar ek voel die armoede waarmee Suid-Afrika worstel, is onteenseglik. Ek dink daar is baie gemeenskappe wat agtergeblewe is en dit is ons plig om terug te ploeg in daardie gemeenskappe om hulle te help."

Guard Our Girls verkoop ook hangertjies en armbande wat in samewerking met die Stellenbosse maatskappy Jabali Handmade gemaak word, om geld in te samel om meer pepersproei te versprei.

Sover het Lund hulp en skenkings van James Kilgour, die man agter Linvar (Edms) Bpk waar sy haar produkte koop, as ook Flexi Air, Fire and Engineering Services ontvang.

Volgens Lund is daar so baie wat mense kan doen om te help om die talle kwessies in ons land aan te spreek. “Baie mense voer gesprekke oor die kwessies wat hul gemeenskappe raak, en gaan daar weg met 'n gevoel van frustrasie en woede oor die toedrag van sake. Maar mense moet eintlik eerder daardie woede aanwend om verandering teweeg te bring.

“Ek het regtig met min begin; ek het aan die diep kant ingespring, maar soms is dit belangrik om eenvoudig net betrokke te raak by projekte, om meer te leer daaroor, en om nie bang te wees om hulp en raad te vra nie. Ek is baie dankbaar vir al die mense wat Guard Our Girls sover gehelp het. Daar is nog so baie om te doen, so ek hoop ek kan met NRO's en ander organisasies handevat in die stryd teen geslagsgebaseerde geweld."

Vir meer inligting oor Guard Our Girls en hoe om 'n skenking te maak of betrokke te raak, besoek hul webwerf by http://www.guardourgirls.com/.