Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US versterk streeks- en nasionale transformasie vennootskappe
Outeur: Charl Linde
Gepubliseer: 12/03/2020
Die Universiteit Stellenbosch (US) se Transformasiekantoor het onlangs streeksvennootskappe met die Universiteit van Wes-Kaapland, die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (CPUT) en die Universiteit van Kaapstad (UK) versterk.

Hierdie hernude fokus op inter-institusionele samewerking in die Wes-Kaapse provinsie het gelei tot die ontwikkeling van die “Inclusive Practice Speaker"-reeks, wat samewerking tussen die UK se Kantoor van Inklusiwiteit en Verandering, CPUT se Direktoraat vir Transformasie en die US se Transformasiekantoor behels. Die reeks skep ʼn platform vir akademici, praktisyns, nieregeringsorganisasies en die regering vir medewerking aan transformasiepraktyk.

Die UK het vroeg Februarie die eerste openbare seminaar in die reeks aangebied, waarheen prof Rozena Maart van die Universiteit van KwaZulu-Natal genooi is en ʼn aanbieding getiteld “Reason and unreason: Pedagogies of the oppressed in the twenty-first century: Gender, philosophy, education and the law" gelewer het. Prof Maart het die idee van inklusiwiteit en transformasie by ons universiteite bespreek, en gesê dat dit in die algemeen voorkom dat inklusiwiteit by die meerste voormalige wit universiteite handel oor hoe om swart studente en swart personeel gemaklik in die ruimte te laat voel waar wit mense steeds oorheers. Maar wat is transformasie – of wat behoort dit te wees? Prof Maart glo dat transformasie dikwels verwys na hoe ons swart studente en swart personeel moet transformeer om op dieselfde vlak van spraak, voordrag, taal en vakkundigheid as wit studente en wit personeel te wees. Sy raai aan dat alle Suid-Afrikaners introspeksie doen: “Wat ons onder andere moet konfronteer is ons deelname aan homofobie en seksisme en vorme van patriargale praktyk in alle aspekte van ons identiteit waar ons na ons mening veilig is. Want, as ons onself as ʼn uitsondering beskou, dat ons geen praktyke beoefen wat aanstootlik is nie, wat nog te sê onderdrukkend, wat sê ons werklik? Dat daar geen ruimte vir ons is om te groei nie?"

Die volgende seminaar in die “Inclusive Practice Speaker"-reeks sal by die US aangebied word. Dr Claire Kelly, Waarnemende Hoof: Transformasie, sê sy is opgewonde oor die geleentheid om Ilze Olckers by Maties te verwelkom om die aanbieding te lewer. Ilze het in die apartheidsera en die oorgang na demokrasie as ʼn menseregteprokureur gepraktiseer, en het aan die opstelling van die Grondwet en ander wetgewing meegewerk. Sy het ook deelgeneem aan beleid- en stelselontwikkeling van geslag- en rassemasjinerie in Suid-Afrika ná apartheid.

Intussen gaan die US se Transformasiekantoor steeds voort met deelname aan nasionale gesprekke en dialoog oor transformasie in die hoër onderwys, en het afgevaardigdes gestuur om aan die nasionale Transformasiebestuurdersforum deel te neem. Hierdie forum is ʼn ruimte vir alle transformasiefunksies in die hoër onderwys om skakeling en geleenthede vir samewerking te bevorder. Hier word ook gesprekke oor nasionale strategiese prioriteite gevoer en dit bied ʼn grondslag vir skakeling tussen die sektor en die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding. Hierdie samewerking sluit in die skep van ʼn verslagdoeningstelsel wat vordering met transformasie kan naspoor en ʼn meganisme wat instellings tot verantwoording kan roep. Die Transformasiebestuurdersforum funksioneer ook as ʼn 'leergemeenskap' waar verskeie verteenwoordigers uitdagings en praktyke deel. Studente-ervaring is ʼn oorheersende tema in hierdie gesprekke.

Is daar tans enige ander ontwikkelinge aan die gang rakende transformasie-vennootskappe? Dr Kelly antwoord: “Daar is voortgesette samewerking met prof André Keet, wat die Nasionale Navorsingstigting se Leerstoel in Kritiese Studies in Transformasie in die Hoër Onderwys gesetel by Nelson Mandela Universiteit beklee, maar ek kan nie op hierdie stadium meer daarvan vertel nie. Hou hierdie ruimte dop!"​