Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US help jeug floreer deur Latyn
Outeur: Asiphe Nombewu /Corporate Communication
Gepubliseer: 06/03/2020

​Wie ook al gedink het die antieke taal Latyn is “dood" en dat dit geen voordeel vir ons moderne jeug inhou om Latyn aan te leer nie, moet dalk hierdie persepsie heroorweeg.

Want gaan kuier jy op 'n Vrydagmiddag by die Universiteit Stellenbosch (US) se departement Antieke Studies, gesetel in die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe, ontdek jy gou dat Latynse klasse 'n integrale rol in skoolkinders se leerproses kan speel.

Elke Vrydagmiddag om 15:00 kom tot soveel as 70 graad 8- en 9-leerders van verskeie hoërskole in die omgewing, insluitende Kayamandi, Cloetesville, Lückhoff, Stellenbosch, Rhenish Girls' High en Paul Roos-gimnasium, by die departement byeen vir hul gratis lesse om die skatte van hierdie antieke taal te ontdek.

Volgens prof Annemaré Kotzé, hoof van die departement, is die projek in Junie 2019 bekendgestel om die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe se visie om toegang tot die US, veral vir leerders van skole met beperkte hulpbronne, te verbreed, aangesien dit universiteitsgereedheid en akademiese geletterdheid by leerders verbeter. Sedert die aanvang van die projek het die aantal leerders wat dit bywoon, van vyf tot 70 gegroei.

Kotzé sê die verwerwing van 'n Latynse woordeskat kan leerders help om vakkundige boeke en artikels – wat dikwels in gesofistikeerde akademiese Engels geskryf is – makliker te lees.

“Ons spesifieke en baie belangrike bydrae tot die verbreding van toegang lê in daarin dat ons tot die algemene akademiese geletterdheid en universiteitsgereedheid van hierdie leerders bydra," sê sy.

“Deur 'n antieke taal soos Latyn aan te leer, leer hulle om presies te wees en aandag aan detail te gee, terwyl dit ook hul vermoë om te interpreteer en hul kritiese denke ontwikkel. Ons het gevind hierdie vaardighede is by die meerderheid eerstejaarstudente nie goed genoeg ontwikkel wanneer hulle by die Universiteit aankom nie," verduidelik Kotzé.

Kotzé hoop die projek sal tot volhoubare en aansienlike verbetering in die akademiese prestasie van die leerders lei en dat die toegang tot hierdie tipe leer en dat die bekendheid met en toegang tot die Universiteit breër universiteitstoegang vir gemeenskappe wat voorheen uitgesluit was, tot gevolg sal hê.

Namate die projek gegroei het, het die aantal vrywilligers wat help, ook tot 15–20 vermeerder. Hulle is almal US-studente wat graag hul onderwysvaardighede wil ontwikkel en hul Latynse kennis wil slyp, terwyl hulle terselfdertyd ook 'n verantwoordelikheidsin kweek en deelname aan die breër gemeenskap aanmoedig.

Vir Shani Viljoen, 'n student by die departement Antieke Studies en een van die onderwysers in die program, gaan die klasse oor sosiale kontak tussen groepe wat onder normale omstandighede nie noodwendig met mekaar in aanraking sou kom nie. 

“Dit is so lekker om te sien hoe hulle almal met 'n nuwe vak begin waar geeneen enige voordeel het nie. Ek is gek daaroor om hulle dop te hou terwyl hulle met mekaar kommunikeer en saam leer. Ons hoop hierdie projek is 'n veilige plek vir hulle. Die projek is ook goed vir dié leerders wat in enkelgeslagskole is om vir die eerste keer in hul skoolloopbane met die teenoorgestelde geslag in 'n klaskameromgewing met mekaar te meng."

Viljoen voeg by dat een van die projek se uitdagings was om befondsing te bekom. “Sommige van die leerders maak heeltemal op ons staat vir vervoer. Ons wil ook graag in staat wees om vir elke leerder 'n toebroodjie en sap voor of ná die lesse te gee."

Sy sê die invloed wat die leerders se Latynse kennis op hul Engelse woordeskat het, word deur klein, informele toetse gemeet.