Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Kaapstad Pride 2020: Maties skryf
Outeur: Transformation Office
Gepubliseer: 04/03/2020
Die Universiteit Stellenbosch se Transformasiekantoor het onlangs 'n beroep op die universiteit gemeenskap gedoen om oor hul ervarings van Kaapstad Pride te skryf. Die opdrag was eenvoudig: Skryf oor wat jy wil en dien dit teen Maandagoggend in sodat ons dit kan redigeer! Lees die skryfstukke hiernaas...

 

Die vóór en ná van Pride

Opgewondenheid en rusteloosheid vul die ure voor Pride. Tot op die nippertjie word voorbereidings gedoen, aangesien die winkels in Stellenbosch kaal gestroop is van enige items met ʼn reënboogpatroon. Ons wag redelik ongeduldig vir die busse om te arriveer en word deur nuwelingstudente en hul ouers vreemd aangekyk en verwonderd aangestaar, siende dat Pride toevallig op Opedag plaasvind. Dit is byna bemagtigend om ʼn teenwoordigheid by Opedag te hê, al is dit net vir ʼn kort rukkie. Vriende groet mekaar met groot entoesiasme terwyl ons mekaar aan ons onderskeie kringe voorstel en grimering en blinkertjies onder vreemdelinge gedeel word. Hierdie gemeenskapsgevoel is ʼn algemene een wat deur die hele dag ervaar is.

Op die bus vertel ons ons 'uit-die-kas-kom'-stories, gee ons beste advies aan mense wat ons pas ontmoet het en deel ons verwagtinge vir die dag, aangesien baie van ons Pride vir die eerste keer bywoon. Tydens die parade help ons vreemdelinge op en van die vlot af en deel sonroom in die snikhete son. By die fees deel mense kos en drinkgoed en vergesel nuwe vriende op hul missie om hul weg op die besige veld te vind. Ons dans saam op die maat van moderne weergawes van ons gunsteling- queer liedjies wat opgevoer word. Ons neem foto's van mekaar en van onsself, in die hoop dat die dag vir ewig in foto's sal voortleef. Mense word getel en weer getel en deurentyd opgepas. Ons het almal ʼn 'Niemand bly agter'-mentaliteit aangeneem sonder enige vooraf verbintenis met mekaar. Ek kan met gemak sê ek het nog nooit ʼn sterker gemeenskapsgevoel met ʼn groep mense in my lewe beleef nie.

Op die busrit huis toe, onder die duisende sterre van die nag, word stories van die dag se gebeure gedeel. Liedjies word saggies gesing, terwyl baie slaap ná die dag se feestelikhede. Terwyl ek na die sterre staar, voel ek of my hele lewe ʼn aanloop tot hierdie dag was, of al die toetse en oorwinnings van ʼn lewe as ʼn queer my tot hierdie dag gelei het; ʼn dag gevul met niks anders nie as gemeenskaplikheid, liefde en, bowenal, trots.


-LH

 


Liefde sonder labels

Onvoorwaardelike liefde is vir gans te veel mense ʼn vreemde begrip. Vir hulle was liefde nog altyd daardie onbereikbare sonsondergang aan die einde van die pad met die doel om jou van jouself te laat vergeet.

Ek raak hartseer as ek dink aan die verlore siele wat so ʼn verdoemende pad loop. Die feit dat die meeste van hierdie paaie deur hul veronderstelde 'geliefdes' geplavei is, maak die pyn soveel dieper.

Eers as ʼn mens aan die ware gesig van liefde bekendgestel word, kan jy die werklikheid van sy valse ewebeelde sien: dubbelgangers sonder wesenlikheid om hul aanspraak te rugsteun. Vir my is Pride die katalisator vir die ware gesig van liefde. Dit onthul die valse teenoor die ware orakel.

Pride kan vir sommiges ʼn oorweldigende ervaring wees. Dit is nie ʼn rustige oomblik in die lewe van enigeen wat voorheen blind vir liefde was nie. Dit kan jou longe van fobiese kontaminante reinig as jy dit toelaat. Dit kan jou oë oopmaak vir jou ware weerspieëling en die wêreld laat wegkwyn as jy dapper genoeg is om dit te vertrou.

Daar is min oomblikke in ʼn mens se lewe wat die wegbeweeg vanaf ʼn pad gedompel in goud vier. Pride is so ʼn oomblik. Dit verheerlik jou omdat jy in jou waarheid loop en die leuens van die wêreld agterlaat. Dit kan vir sommige ʼn geweldige besef wees, maar die gevolge is salig.

Die jaar 2016 was die jaar waarin ek die vryheid van myself ervaar het. Dit het my aan ʼn ligtheid blootgestel wat ek nooit besef het ʼn mens kan voel nie. Ek onthou dat ek in die hoofstraat afgesweef het met hierdie oorweldigende gevoel van ademlose solidariteit. Ek was omring deur ʼn see vreemdelinge, wat almal as een weg van ʼn sonsondergang na ʼn reënboog marsjeer. Ek het meer geliefd en gesien deur onbekende oë gevoel as wat ek nog ooit gevoel het om die mense wat my sien grootword het. Ek het uiteindelik behoort!

Vier jaar later is Pride maklik die hoogtepunt van my jaar. Die blote volume liefde wat uit die parade en die kleurryke individue straal is genoeg om die gehardste harte te laat smelt. Ek was bevoorreg genoeg om hierdie jaar se fees van die liefde met iemand te ervaar wat Pride vir die eerste keer bygewoon het. Om te sien hoe hul mure voor my oë smelt danksy die oorweldigende liefde wat oor hulle vloei, het my herinner aan die mag wat ware, onvoorwaardelike liefde kan hê vir dié wat dit nog nooit ervaar het nie. Dit het gevoel asof ek Pride vir die eerste keer ervaar, en ek kon nie vir ʼn groter geskenk vra nie!


-Robyn
 



Kaapstad Pride 2020

In 2020 het ek die Kaapstad Pride vir die eerste keer in ʼn dekade bygewoon. My eerste parade destyds was baie bevrydend, aangesien ek op ʼn klein dorpie grootgeword het waar mense geneig het tot konserwatiwiteit en dikwels afkeurend van queerheid was. Die reis was nie altyd maklik nie, maar ek het daarin geslaag om my weg deur die konserwatisme te vind, myself te vind, myself uit te druk en openlik die trots queer man te word wat ek vandag is. Hierdie jaar het ek trots deur die Kaapstadse strate in ʼn gender-uitdagende uitrusting gestap sonder om veroordeel te voel of gespot te word vir die manier waarop ek lyk en optree, selfs al is Kaapstadse queers nie altyd die vriendelikste spul nie.

Terwyl cisgender- en/of heteroseksuele mense die geleentheid kry om trots te voel en hulself veilig uit te druk in enige soort ruimte op enige gegewe dag, bied Pride slegs een keer ʼn jaar hierdie geleentheid aan die queer gemeenskap. Waarvan ek die meeste van die parade en die mardi gras gehou het, is die teenwoordigheid van soveel mense uit alle kringe, wat die volle spektrum van gender en/of seksualiteit verteenwoordig. By hierdie jaar se Pride was die enigste negatiewe reaksie wat ek waargeneem het ʼn man wat mense in die parade gekonfronteer het om na die Here te draai en onsself te red, maar vir daardie een geval was daar tientalle meer mense wat aanvaardend van almal in die parade was. Onder die talle mense wat toegeneentheid en aanvaarding teenoor die queer gemeenskap openbaar het, was daar ʼn vrou wat haar vreemde, goth, gay kinders gevier het, asook homoseksuele ouers wat die feit gevier het dat twee ma's beter is as een. Party vriende was van mening dat hierdie jaar se Pride nie polities genoeg was nie, en het dit uitsluitlik ʼn partytjie genoem. Hulle is nie verkeerd nie, maar ten minste het twee politieke partye hulle vir inklusiwiteit en aanvaarding beywer.

Ons leef in ʼn wêreld waarin vreeslike dinge elke dag gebeur. Daar is lande waar mense nie wettig toegelaat word om queer te wees nie, waarvan sommige steeds die doodstraf toepas. Ons moet beslis erkenning gee aan die queer mense wat ons in die verlede aan geweld en haat moes verloor, of wat op een of ander manier seergemaak of leed aangedoen is deur die heteropatriargale, kapitalistiese wêreld.

In erkenning van gemeenskappe se teëspoed moet ons ook die eenheid van die samekoms vir Pride kan vier. Ons moet dit vier dat ons steeds lewendig is in ʼn land waar ons onsself wettig mag uitdruk, al kom baie van ons steeds daagliks voor homofobie en ander vorme van onderdrukking te staan.

 
-Zian Blignaut
 



Ek was so 'n bietjie laat vir Pride...

Ek het op my eie van Stellenbosch af Kaapstad toe gereis. Hierdie Pride sou die eerste keer in my lewe wees wat ek spesifiek beplan het om werklike Pride-geleenthede by te woon, eerder as net die partytjies voor en ná die tyd.

Vir jare het ek geen spesiale gevoelens oor die dag se program gehad nie, buiten die oortuiging dat dit verkeerchaos sal veroorsaak, of nog erger, en dit skaam my nou, maar ek het altyd, gekondisioneer deur my selfwalgende 'manlike' omgewing, gedink: “Hoekom moet hulle dit so in mense se gesigte druk?" Die eerste teken dat Pride moontlik ʼn verandering in my gewone queer Kaapstad-ervaring sou meebring, was die Vrydagnag, toe daar by ʼn klub in die stad, vir eerste keer in jare, ʼn ander DJ in die hokkie was, wat musiek van verskillende genres gespeel het, selfs die Gaga-liedjie wat daardie oggend vrygestel is. Ek het gevoel ek leef.

Dit het voorbrand vir my Pride-ervaring die Saterdag gemaak ... Ja, OK, ek het heeltemal verslaap en eers 16:00 wakker geword. Ek het reggemaak en my oggendkoffie teen ander mense se middagbiertyd gaan gryp. Toe begin my uittog park toe. Ek was geskok dat teen ʼn temperatuur van middel 20's die weer nogal warm was – in Stellies sweet ons nie eens as dit 30 °C is nie ... Dalk was ek senuweeagtig.

By die park gekom, het ek baie glimlagte, baie families en groepe mense gesien wat gelyk het of hulle mekaar al jare ken. Die sekuriteitskontrole met toegang was so te sê nul, en eerder as om dit as ʼn gevaar te beskou, het dit my ʼn soort warm omhelsing gegee; ek het veilig gevoel.

Binne het ek ʼn drankie gekoop en my vriende begin soek. Ek het in een Stellenbosch-kennis ná die ander vasgeloop, en almal het so ontspanne gelyk, die teenoorgestelde van hoe ek hulle gewoonlik sou beskryf wanneer ek hulle op kampus sien. Ek het dieselfde gevoel. Die aand het voortgegaan en verskillende kunstenaars het op die verhoog gekom, waarvan die meeste ook ʼn verhaal van oorwinning gehad het, of vertel het hoe dankbaar hulle vir mekaar se ondersteuning op hul reise was.

Wat my opgeval het, was dat ek nie te veel gedrink het nie – ek het die grootste deel van die aand gesels, gelag en gedans. Ek kry natuurlik skaam dat my vooroordele oor Pride so ontbloot is, maar ek is bly dit het gebeur; ek het daaruit geleer. Deur te kyk na die talle baie jong mense om my het ek besef dat hulle almal in ʼn ander en oper Suid-Afrika grootword as wat ek het, en dit is ʼn goeie ding. Die kinders is OK.

Ek sal in 2021 weer daar wees en moedig almal aan om te gaan.

 
-Anoniem
​ 



Foto: Matthys Carstens