Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe benadering kyk anders na besluite oor spaar vir aftrede
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie [Alec Basson]
Gepubliseer: 02/03/2020

Navorsers aan die Universiteit Stellenbosch (US) het met 'n nuwe benadering vorendag gekom wat aftredebeplanningspesialiste kan gebruik om eenvoudige en maklikverstaanbare aanbevelings te doen aan mense wat moeilike besluite oor aftredebeplanning moet maak.

In 'n navorsingstudie wat onlangs in die Journal of Financial Counseling and Planning verskyn het, stel prof Johann de Villiers en me Elze-Mari Roux van die US se Departement Ondernemingsbestuur die volhoubare leefstylvlak (oftewel “sustainable lifestyle level" – SLL) voor wat die aftredebesparingsbesluit herevalueer deur op huidige inkomste en besteding, eerder as op toekomstige behoeftes, te fokus.

“Ons benadering is om te vra watter vlak van besteding (of leefstyl) sal 'n individu nou kan bekostig en steeds genoeg kan spaar om hierdie leefstyl tot en met en gedurende aftrede te handhaaf. Ons bring die vêraf scenario van hoe aftrede sal lyk, na die hede – dit is hoe aftrede-inkomste sal lyk in vandag se terme," verduidelik Roux.

“Ons stel voor dat die gesprek tussen 'n finansiële beplanner en hul kliënt op spaargeld vir aftrede wat nodig is om die SLL te bereik, fokus. Op hierdie manier verskuif die fokus van die gesprek van die toekoms (hoeveel gaan ek in die toekoms nodig hê?) tot die hede (wat kan ek nou bekostig?)."

Roux sê hulle wil met hul benadering help om die negatiewe uitwerking van besluite wat meer op die korttermynvereiste om geld te moet inboet, gefokus is as op die langtermynvoordeel van geld ontvang gedurende aftrede, te temper.

Sy en De Villiers het 'n wiskundige formule ontwikkel om die gedeelte van inkomste wat 'n kliënt nou kan bestee terwyl die oorblywende gedeelte vir aftrede gespaar word, te bepaal. Volgens hulle behoort kliënte wat op hierdie vlak bydra, genoeg spaargeld by aftrede te hê om hul huidige bestedingsvlak gedurende aftrede te handhaaf.

Roux sê die aftredebeplanningspesialis moet beperkte inligting van die kliënt bekom, soos byvoorbeeld die kliënt se ouderdom, wanneer hulle wil aftree en hoeveel keer hul huidige jaarlikse salaris hulle reeds vir aftrede gespaar het, ten einde hul kliënte te adviseer oor die gepaste bydraes vir spaar vir aftrede. Sy voeg by dat die aftredebeplanningspesialis dan die ware wins wat uit aftredespaargeld verdien sal word, moet skat, asook die ware koers waarteen aftreespaargeld na aftrede-inkomste omgeskakel sal word.

“n Voorbeeld van die toepassing hiervan is 'n werknemer wat tans 45 jaar oud is en beplan om tot 65 te werk. Indien hierdie werknemer drie keer hul jaarlikse inkomste as spaargeld bymekaar gemaak het, moet hulle 24% van hul huidige inkomste spaar. Dit beteken die kliënt kan 76% van hul inkomste spandeer terwyl hulle genoeg sal spaar om teen dieselfde koers te kan spandeer wanneer hulle aftree.

“Kliënte wat minder spaargeld vir aftrede bymekaar gemaak het, sal meer moet spaar. Indien dieselfde 45-jarige kliënt nog niks vir aftrede gespaar het nie, sal hulle 38% van hul huidige inkomste moet spaar en net 62% kan spandeer.

“Om 38% van hul inkomste te spaar, mag vir baie kliënte na 'n groot bedrag klink, maar dit toon dat die saak nie heeltemal verlore is nie. 'n Persoon van 45 wat nie genoegsaam vir aftrede voorsiening gemaak het nie, kan daarvoor opmaak deur hul huidige besteding te verminder en sal dan hierdie nuwe vlak van besteding tot en met en ook in hul aftrede kan handhaaf. Hulle sal dus die vlak van besteding waaraan hulle gewoond is, kan handhaaf wanneer hulle aftrede bereik."

Roux voeg by dat kliënte wat meer gespaar het, minder sal hoef by te dra.

Sy sê die eerste benadering, soos in hul gepubliseerde referaat, was om nie belasting in ag te neem nie, en voeg by dat hulle tans aan 'n gedetailleerde ontleding oor die uitwerking van belasting werk. “Die eerste aanduidings is dat belasting nie die gedeelte van inkomste wat vir aftrede gespaar moet word, verander nie. Teen die volhoubare leefstylvlak is die besteding voor en na aftrede by definisie dieselfde en sal dit teen 'n soortgelyke koers belas word."

Roux sê hul hoofbydrae is om aan aftredebeplanningspesialiste 'n maklikverstaanbare manier te verskaf om die uitdaging van spaar vir aftrede aan hul kliënte oor te dra.

“Dit verg baie min insette en die ontleding kan maklik geoutomatiseer word. Die antwoorde kan gereeld deur aftreefondse aan hul lede verskaf word om hulle te help met hul besluite oor bydraes."

SLEGS VIR MEDIANAVRAE

Me Elze-Mari Roux

Departement Sakebestuur

Universiteit Stellenbosch

Tel: 021 808 2692

Sel: 083 630 6362

E-pos: eroux@sun.ac.za

UITGEREIK DEUR

Martin Viljoen

Bestuurder: Media

Korporatiewe Kommunikasie

Universiteit Stellenbosch

Tel: 021 808 4921

E-pos: viljoenm@sun.ac.za  ​​