Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Ken jou status. #GetTested
Outeur: Nadine Christians
Gepubliseer: 27/02/2020

Die Eenheid vir Gelykwaardigheid, in samewerking met HigherHealthSA, bied weer hul jaarlikse First Things First MIV toets-veldtog aan. Dit salvan 3 - 6 Maart 2020, van 09:00 - 16:00, in die VV-saal in die Neelsie plaasvind.

Die jaarlikse veldtog bied gratis,  vinnige en vertroulike MIV-toetsing aan alle studente en personeel. Toetse word uitgevoer deur opgeleide beraders in 'n veilige en privaat omgewing. Die toets neem nie langer as 15 minute nie, en behels net 'n vinnige en pynlose prik aan die vinger.

“Ons mikpunt is om vanjaar 2 020 studente en personeel van die Universiteit Stellenbosch te toets, en doen daarom 'n beroep op almal om deel te neem aan die First Things First MIV Toets-veldtog,” sê Michelle Munro, die portefeuljebestuurder vir MIV en seksualiteite, by die Eenheid vir Gelykwaardigheid in die Sentrum vir Studente Voorligting en Ontwikkeling.

Munro het bygevoeg: “Universiteite is nie net plekke waar leer plaasvind nie. Dit is ook ruimtes waar ons studente kuier en sinvolle verbintenisse met mekaar maak. Ons glo dat dit belangrik is vir Universiteit Stellenbosch om 'n platform te skep waar ons studente veilig is, ook betreffende hul MIV-status.”

Volgens statistieke wat die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) in 2018 uitgereik het, leef 'n beraamde 7,7 miljoen Suid-Afrikaners met MIV. Die WGO beraam dat 240 000 mense tydens 2018 met MIV geinfekteer is.

As deel van hierdie jaar se veldtog doen ons 'n beroep op studente en koshuise om mekaar uit te daag om getoets te word. Studente en hul koshuis kan deur n gelukkige trekking 'n kans kry om opwindende pryse te wen.

“Nadat u getoets is, vra ons dat u 'n kort vertroulike kontakvorm invul wat dan in aanmerking vir die gelukkige trekking kom. Individuele studente sowel as ʼn koshuis kan fantastiese pryse wen,” sê Munro.

"Ons kan nie genoeg beklemtoon hoe belangrik dit is om jou status te weet nie. Met hierdie veldtog hoop ons dat ons studentepopulasie die regte ding sal doen deur getoets te word, ”het Munro gesê.

Vir meer inligting oor die First Things First MIV Toets-veldtog, e-pos Kaylon Weppelman by hiv@sun.ac.za.